Fie – insident drie.

Photo by Rostyslav Savchyn on Unsplash andPhoto by Zoltan Tasi on Unsplash

>> Gaan jyons roep of moet ekons? <<  Fie Een staar verby die hoë gewels van die plaashuis in die middagson in.

•• Ekons sal. Is jyons seker? As ekons begin kan ekons nie stop nie. En ekons dink rêrig ekons moet nie hier soek nie. ••  Fie Twee frons vir die voordeur en hoop dat die huis leeg is.

>> Ekons is nou hier. Ekons kan net sowel soek! <<  Fie Een se stem is koud. 

Die skerp klank van haar woorde skeur die lug en los ’n glinsterende blou ligstreep wat opstyg en bo haarsy kop gaan hang. 

Die blou ligstreep begin weg dryf op die wind, maar dit verdwyn nie. 

Dit skuif net aan en aan, verder weg van Fie af. 

Dit sal aanhou ronddryf in die lug vir 4 jaar en 5 maande en 6 weke en 7 dae en 8 ure en 9 minute en ’n onbepaalbare hoeveelheid sekondes. 

In die tyd sal dit ’n ontelbare hoeveelheid vriendskappe verwoes, huwelike opbreek en 10 goedhartige wesens hulle eie bestaan laat beëindig. 

Dan eers sal dit begin ligter raak en 11 dae later sal dit heeltemal verdwyn asof dit nooit bestaan het nie.

•• Dis reg dan. Ekons roep… •• Fie Twee klink afgestomp asof syhy die blou ligstreep al teveel male gesien het vir dit om meer saak te maak. Syhy buig vooroor en druk haarsy hande deur die graspolle van die plaashuis se grasperk, syhy druk haarsy vingers verby die wortels en diep in die harde, swart turfgrond in tot haarsy se arms elmboog diep in die aarde is. 

Toe begin syhy roep met soveel deernis as wat syhy kan optower.

Fie se roep maak geen hoorbare geluid nie. 

Dit maak geen sigbare klank nie. 

Geen voelbare toon nie. 

Haarsy roep is ’n sagte, klam, onbekende emosie wat deur die grond vibreer tot binne in die huis. 

•• Hier is net een. Dit kom. ••Fie kom regop. Syhy sug ’n geel wolk vol frustrasie en terwyl syhy wag breek syhy die grasstingels, wat by haarsy arms uitgroei, saggies af.

Die plaashuis se oranje voordeur swaai oop en ’n mens stap uit op die blink van die rooi politoer stoep wat rondom die huis krul.

Die mens wat op die glinsterende vloer staan is swaar in die lyf en lyk redelik verward. Die mens weet nie hoekom dit uitgeloop het op die stoep nie, behalwe vir plant-en oestyd, kom die nie rêrig buitekant die huis nie. 

Dit probeer dink aan wat dit was wat dit wou kom doen het op die stoep, maar daar is niks. 

Net ’n leë brein vol vlak gedagtes. 

Niks nuut nie. 

Niks oorspronklik nie.

Die mens kan nie vir Fie sien wat in die tussentyd nader gestap het en nou byna teen die stompsinnige mens op die blink stoep staan nie. Fie rek haarhomself uit en omsingel die mens al in die rondte, al om die ronde lyf. Syhy bekyk die mens van alle kante, binne en buite.

>> Hoe werk hulle? << Fie Een lyk opreg onseker. 

Syhy het iets meer kompleks verwag. Die mens is so eenvoudig syhy weet nie waar om te begin nie.

•• Ekons dink baie soos die Goors op Vlur of Vluf. ••  Fie Twee trek haar skouers op tot by haar ore en sug ’n verveelde blou wolk. •• Probeer die oë…••

>> Dit lyk glibberig. << Fie Een sê vies.

•• As hulle ego binne sit, is dit die enigste ingang. •• Fie Twee lig haar hande en wurm haar duime by die mens se oë in.

Die mens verstar. Dit voel nie pyn nie maar dit sien vir die eerste keer ordentlik. Die mens sien ditself vir die eerste keer vir wat dit rêrig is en dit sukkel om asem te haal.

>> Die een is nie een van hare nie. << Fie trek haarsy vingers net betyds uit. Die mens snak na asem en sak in ’n patetiese hoop op die nou dowwe rooi vloer.

•• Ekons het gesê dit breek harte. Ekons kan hulle nie aanraak nie. •• Fie Twee gil uit oor die stoep. •• Hoeveel het nou gebreek? ••

>> 199 402 duisend. << Fie Een antwoord sonder berou. >> Hulle is so vervreemd van mekaar. So verstrengeld in mekaar. Hoe anders gaan ekons soek? Hulle het nie siele wat aan die buitekant sit nie. << Syhy rol haarsy oë dramaties. 

Syhy draai om en kyk uit oor die land waardeur syhy gekom het. 

Die swaaiend, happende gediertes wat aan die sonneblomstronke swaai lyk moeg en verlep en het mekaar begin eet. Die gekleurde sonneblomkoppe se palette het begin saamsmelt, die kleure vloei in mekaar in en laat die blomme se blare soos knoop-en-doop lappe lyk.

•• Hoe gaan ekons hulle merk? Hulle sit en lê en slaap klaar, ekons sal hulle nie uitken nie. ••

>> Laat hulle stap. Hulle doen dit nie meer nie. << Fie Eeb swaai om en kyk af na die mens wat snik op die stoep. 

Syhy wys met haarsy voorvinger wes. 

Die mens kom stadig orent en met ’n benoude uitdrukking, maar gedweë, begin dit sleepvoet stap.

•• Hulle gaan hulle dood stap. ••

>> Hulle kan stop vir 750 sekondes. <<

•• Ekons meng te veel in. Wat gaan van hulle word? ••

>> Hulle was oppad nêrens heen nie. Darem kry hulle nou koers. Nou het van hulle weer rigting. << Fie Een se woorde klink byna soos ’n klaaglied. 

Syhy dink syhy wil jammer wees vir die aarde se mense. 

Maar dit is moeilik. 

Hulle is baie moeilik om van te hou.

Kyk bietjie rond...

A tiny love story written at 17:15

I was feeling rather overwhelmed; this was before the word became trendier that OCD and everyone suffered from it. Sitting down on

Loulierblare en Skoonfamilie

Martie het eendag, toe ons daar in haar winkel gesit en tee drink het, ‘n onskuldige opmerking gemaak wat die satan in