Fie – insident twee.

Photo by eberhard grossgasteiger on Unsplash

Soos Fie af val aarde toe maak syhy haarsy mond wyd oor en sluk groot happe wind.

Die vakuum wat die spasie tussen die grys maan en die groenblou aarde volmaak vra ’n klein verandering om die wind te kan optower.

Vir Fie is dit nie eers die tipe uitdaging waaroor syhy nodig het om bewustelik oor te dink nie. Syhy wil wind sluk, so syhy forseer die wind tot bestaan.

Soos Fie die groot monde vol wind sluk, word syhy al hoe dunner. Al hoe meer elasties. Soos ’n plat stuk pizza deeg in die hande van ’n ervare bakker word syhy al hoe groter, al hoe breër, al hoe meer.

Teen die tyd dat syhy die oppervlak van die aarde tref is syhy plat en groot genoeg om vir die kleinste gedeelte van ’n sekonde reg rondom die aarde te vou.

Fie vou haarhomself om die diep blou van die aardse see; syhy span oor die hoë pieke van die sneeu bedekte berge en gly oor die koue ys van albei die pole.

In daardie klein deel van ’n sekonde sus die blare van die bome vir mekaar, ’n sagte geritsel soos Fie oor hulle streel. In daardie oogwink van ’n oomblik weet die hele planeet iets buitengewoon het gebeur.

Elke mier, elke voël en elke landdier. Elke vis in elke see, in elke rivier, in elke dam en in elke spruit of meer. Elke boom en blom en klip. Elke sandkorrel en elke klont grond. 

Alles weet.

Selfs die mense weet. 

Hoewel hulle die minste opgemerk het, selfs hulle het in daardie gaping van tyd gewonder… geponder.

Soos Fie se voete die standvastigheid van die rooi grond in die middel van die sonneblomland vind, trek syhy haarhomself netjies bymekaar en glimlag breed vir die hitte van die sand wat deur haarsy tone druk.

>> Kyk Fie. Kyk hoe mooi! << Syhy streel oor die geel blare van ‘n volwasse sonneblom, dié se kop hoog gedraai na die middagson. Die sonneblom reageer dadelik en druk haarself diep in Fie Een se ondersoekende hand in.

•• Moenie te veel vat nie Fie. Al wat dit doen is harte breek. ••

>> Ekons kyk net. << Fie Een kerm soos ’n kind. 

>> Gaan ekjy die heeltyd so wees? << Vra syhy, haarsy se onderlip bewe liggies.

•• Okay… ekons sal ophou. Maar wees versigtig en sag. Ekons gaan nie hier wees vir lank nie. •• Fie Twee maan soos ’n ma.

>> Hoe weet ekjy? << Fie Een frons en skop na ’n donker bruin kluit.

•• Ekons weet. Nou kom. Daardie kant toe. Daar is die plaashuis. •• Fie Twee beduie oordrewe na die huis in die verte, syhy swaai haarsy arms en wieg heen en weer. 

•• Laat ekons begin soek, maar ekons dink nie ekons gaan hier regkom nie. Sy wil nie gekry word nie en ekons wil haar nie rerig kry nie. Sy deel alles uit, teen die tyd is sy dolleeg. Ekons soek na niks.  ••

>> Hou op so praat! Ekons gaan hier soek en ekons gaan haar kry. Sy is nie niks nie!! << Fie Een se oë flits silwer. Silwer, want haarsy woede is yskoud en baie oud en syhy’s eintlik so moeg om dit rond te dra. Maar syhy kan die nie afgooi of opsyskuif nie. 

Nog nie.

Fie begin dans deur die sonneblomland in die rigting van die plaashuis. Soos syhy dans gebeur een van twee dinge. Die dinge wissel mekaar af. Eers gebeur die een ding, vir so paar meter hou dit aan en dan gebeur die tweede ding, weer vir so paar meter. En so gaan dit aan.

Die eerste van die twee dinge is baie mooi. 

Soos Fie dans, verander die geel koppe van die sonneblomme in al die kleure van die reënboog. Helder en vrolik en onbeskryflik is die kleure, daar is selfs kleure wat geen mens op hierdie planeet nog ooit aanskou het nie. 

Die prent wat dié vorm is verbysterend mooi.

Die tweede van die twee dinge is baie lelik. 

Soos Fie dans, verander die koppe van die sonneblomme in aardige slange, palings en wurms. Hulle is grys en bruin en ’n ondraaglike stink slym drup van hulle af. Hulle kriewel en krioel en hap na Fie se flapperende klere met skerp geel tande. 

Die prent wat dié vorm is verbysterend lelik.

Fie dans en dans deur die land, syhy maak draaie en krulle en teen die tyd wat syhy die plaashuis nader het syhy ’n boodskap in die sonneblom land geskryf.

Hoog uit die lug kan die boodskap duidelik gesien word. 

Die skerp, dreigende woorde, die woorde vol haat en woede, die woorde wat spreek van moord en doodslag en bloedvergieting, is geskryf in wonderlike kleure van sonneblomkoppe. 

Die paaiende woorde, die woorde wat liefde spreek en om genade smeek en pleit en mooi praat, die woorde wat versoening belowe en om vergifnis vra, is geskryf in bruin en grys kriewelende gediertes.

Kyk bietjie rond...

A tiny love story written at 17:15

I was feeling rather overwhelmed; this was before the word became trendier that OCD and everyone suffered from it. Sitting down on

Loulierblare en Skoonfamilie

Martie het eendag, toe ons daar in haar winkel gesit en tee drink het, ‘n onskuldige opmerking gemaak wat die satan in