Fie – insident vier.

Photo by Luca Huter on Unsplash

Vir die eerste keer vandat sy begin praat het, kyk Niece op. Haar oë is bloedbelope en haar hande bewe liggies. Sy voel verskriklik, amper siek. Fie se gedagtes is swaar en dit vat ongelooflike inspanning om hulle te herroep en oor te vertel. 

Die gehoor voor haar het aansienlik gegroei oor die laaste paar dae… dis hoe lank sy al vertel aan die mespunt van Fie se gedagtes. Alles wat vinnig was vroeër, vat nou baie langer. Alles vat meer tyd, dié verhaal veral. 

Fie se aankoms op aarde het tyd vir altyd en vir ewig verander.

“En toe?” Skree dieselfde moeë stem van vroeër. “Wat toe? Dit voel nie vir my of ons meer rigting gekry het nie. Ek en my geliefde loop al vir dertig jaar in dieselfde sirkel. Ons kom nêrens. Ons gaan nêrens heen nie.” Die mens snik hardop, “Wat maak ons nou? Nou na al die gestap. Wat moet ons volgende doen? Waarheen moet ons nou?”

“Nie ek of enige iemand anders het daardie antwoorde nie.” Niece se stem is rou. Sy buk af en voel na haar waterbottel. Die water wat aan die kant van die bottel kleef is lig pers en proe na souterige laventel. So is al die water op aarde. Fie het seker gemaak water sal nooit weer rêrig hulle dors les nie. ’n Les wat Fie die mense van die aarde wou leer na hulle eerste en enigste treurige poging tot ’n opstand.

Niece sluk en sluk aan die pers water, haar tong voel beter, minder soos biltong, maar die konstante hunkering na die water van vroeër word, soos altyd, met elke sluk net erger. Sy praat verby die onverdrote krapperigheid, “Ek vertel net wat ek weet. En wat ek weet is dat syhy uiteindelik gekry het waarna syhy gesoek het. Syhy sal nie weer terug kom nie, ons kan ten minste vasklou aan daardie wete en probeer aangaan, voortgaan, probeer begaan.

Daar sak ’n doodse stilte uit oor die gehoor, ’n gehoor wat nou al meer van ’n skare geword het. Die stilte is droog en warm en strek vir ’n week. Op die middag van die agtste dag vra die moeë stem weer, “En wat was dit presies? Wat het syhy gekry? Wat was van soveel waarde?” Met die laaste twee woorde swaai die moeë stem se arms en beduie uit oor die skare.

“Ek kom daarby. Het jy nou nog nie geduld geleer nie… rêrig, dis nie asof jy êrens moet heen nie.” Mompel Niece en trek ’n blou groentekrat nader. 

Sy gaan sit met ’n diep sug.

“Na die interaksie met die mens by die plaashuis was Fie baie omgekrap.”

>> Hoe lank is ekons al hier?<< Fie Een vryf oor haarsy oë. 

Toe syhy haarsy vingers wegvat, blits haarsy oë silwer-blou vonke.

•• Vier minute. Nou vyf. •• Fie Twee draai in die rondte en swaai haarsy arms in die rigting van die bisarre sonneblomland. •• Ekons kort spasie, die blomme maak myons benoud. ••

>> Die kleure is mooi. Kan ekons dit hou? <<

Fie Twee knik. 

•• Ekons sit die kleure in hulle klere, dan is hulle tenminste pret om na te kyk. ••

Fie Een lig die knoop-en-doop blare in die lug in op en slinger hulle in al vier windrigtings. ’n Reënboog sif oor die aarde en bly klou aan die vesels van iedere kledingstuk, aan elke fraiing lap, aan elke garingdraad. 

Die magdom kleure het die mensdom so bedwelm, hulle kon nooit weer ’n neutrale skakering oor hulle koppe trek nie. Room, wit, grys, sand, silwer en swart het vir ewig verdwyn. Weg uit klerekaste, weg van loopplanke en spoorloos uit die blaaie van glans en gemors tydskrifte.

Fie Een draai haarsy kop en staar die wandelende mens in die bont hemp agterna. Dié se rug is krom van die onvergenoegdheid; stap is nie wat die mens verwag het nie. Die mens voel dit kom meer toe, verdien beter as hierdie lot.

>> Daai een se kring was groot, ekons moet noord van hier. Ver noord. Daar bo is ’n sanger, die se gesig en stem is mooier as van die ander sin. Ekons wil kyk hoe lyk dit agter die sanger se oë, dalk is die een so mooi binne soos buite. << Fie Een beduie dramaties. >> As die mens werklik mooi is dan weet ekons tenminste sy was op die planeet. <<

>> Laat ekons dan maar gaan, die wind voel geweldig gewillig, laat ons jaag. <<

Fie steek haarsy arms in die lug op en flap haarsy vingers vinnig. Syhy dryf weg in die warm Afrika wind in die rigting van toe se Europa. Soos syhy dryf volg haarsy oë die strepies stappende mense op die grond. Hulle lyk soos miere in kostelike gewade. 

Die warm wind word kouer hoe verder Fie noord waai en toe die Engelse vasteland in sig kom, hou syhy op flap en tuimel af ondertoe. 

Fie land sag en sonder inpak reg voor die mooi sanger se imposante huis. Dié staan in die tuin en sing vir die strate, en soos Fie nader kom, rek die sanger se oë verras; Fie is iets om te aanskou. En hier staan syhy, oop en bloot vir almal om te sien. 

Maar net die sanger kyk, net die sanger weet Fie is die muse wat help geboorte gee het aan ontelbare woorde en wysies en waarhede. En net die sanger besef Fie is een van nege.

Kyk bietjie rond...

A tiny love story written at 17:15

I was feeling rather overwhelmed; this was before the word became trendier that OCD and everyone suffered from it. Sitting down on

Loulierblare en Skoonfamilie

Martie het eendag, toe ons daar in haar winkel gesit en tee drink het, ‘n onskuldige opmerking gemaak wat die satan in