Fie – insident vyf.

Photo by Alexis Antonio on Unsplash

Fie verwonder homhaar aan die mens, dié is waaragtig beeldskoon. Fie voel verward en kyk ongemaklik weg, kyk dan weer stadig terug en sien verby die mooi oë, agter die sagte vermomming, krap iets aan die binnekant van die mens se vel. Die krappende gevoel is wreed en steurend en weerloos en aanloklik. Dit maak die mens aangrypend kosbaar en afstootlik algemeen.

Fie gee een versigtige tree nader. Kan dit wees? Die mens kan waarlik sien… hulle was al op baie, baie plekke in hierdie heelal en ander, en nêrens kon enige ander wese hulle sien nie.

Maar die sanger kan en lyk boonop meer verras as bang.

•• Wat noem die ander jou mooi mens? ••  

Die mooi mens se mond gaan oop en ’n strelende naam val verby die framboos-lippe. 

“Wie is jy mooi wese?”

>> Ekons is Fie. << Fie Een sak syhaar kop na links en dan na regs. Die sanger doen dieselfde.

Verwonderd vra Fie Twee, •• Sê vir myons, soos wat lyk ekons vir jou? ••

Die sanger antwoord met ’n stuitige maar ontstellende vers:

“Soos omtrent alles. 
Soos amper niks.
Julle is malles. 
Julle is geklits.
Soos die son wat sak.
Soos die duiwel, maar mak.
Julle is stapelgek.
Julle laat alles vrek.”   

Met die laaste reël spoeg die mens op die grond langs Fie se voete.

Waar die spoeg land, begin die grond al hoe donkerder word en skielik skiet ’n spruit op. Die dun straaltjies pers water vloei kronkelend in alle rigtings.

Fie Een gil kliphard, hysy stem is skerp en vol drif,  >> Wanneer was hulle hier!? <<

Die mens se oë trek op skrefies, “Wie?”

•• Jy weet na wie ekons soek!! << Fie Een en Twee skree gelyk. 

“Dalk.” Die verleidelike mond antwoord sonder vrees, sonder huiwering, en Fie vind die mens al hoe meer bekorend. Mooi en braaf en sonder skroom gemaklik met die koue donker wat skuil binne – daar is so min van hulle.

>> Wese van aarde, ons kan die antwoord maklik uit jou kry, jou foute maak jou pragtig broos, ekons wil dit baie graag so hou. <<  Dreig Fie Een.

“Soek julle na die ander 7 van julle?” Die mens sê-vra met ’n grimlag.

•• Ja! Wanneer was hulle hier!? •• Fie Twee sirkel om en om die mens. Pers water spat in alle rigtings en klein reënboë vorm al om hulle voete.

“Staan stil jy maak my dronk.” Sê die mens sag.

>> Wanneer? Wanneer? Wanneer? << Fie hou op sirkel en gil in die sanger se gesig maar die knip nie eers ’n oog nie.

“Miskien so maand terug. Hulle het dié vir my gegee en van toe af spoeg ek fonteine en sing nog mooier as ooit.” Die mens skuif die linkermou van die sagte trui boontoe en ontbloot 7 merke. 

Die merke lyk soos afdrukke van lippe, asof daar sewe keer op die arm gesoen is. Die merke is rooi en geswel en lyk nie soos sagte, teer soene wat met deernis of passie gegee is nie.

Fie snak na syhaar asem, buig vooroor en vou syhaar arms twee keer om syhaar lyf. 

 >> Wat maak ekons nou!? << Hysy gil in die grond in.

Fie snak weer na lug en kom orent. 

•• Waarheen is hulleons toe? ••  Hysy gluur na die sanger asof dié hulle daar moes gehou het.

Die mens wys in die rigting van die see. “Hulle het geweet julle is oppad. Hulle wil nie gevind word nie. Maar ek weet iets…” Met slanke arms agter die rug, kyk die sanger af na die grond en swaai ’n gestewelde voet heen en weer deur die stroompies water. Die sagte lippe trek in ’n amper glimlag. Tergend. Verleidelik met ’n bietjie seer. Die mens weet hoe mooi dit lyk, weet presies hoe iemand voel wat na die lippe kyk.

>> Wat? Sê myons dadelik… << Fie Een wil skree maar die lippe is bedwelmend, syhaar woorde is niks meer as net ’n sug nie.

“Ek sal. Maar doen eers iets vir my.” Die sanger kyk op deur donker wimpers vol flirtasie.

Fie vee met syhaar hand oor syhaar oë. Frustrasie en ’n ongekende ongemak stoot sweet deur Fie se vel.

Wie is die mens om te wil onderhandel en met soveel selfvertroue? 

En hoekom is dit so ‘n maklike opsie om te oorweeg?

Is dit hoe die steurende wese die ander sewe soene gekry het? 

Was die groen oë vol blatante beloftes ook te veel om voor nee te sê?

•• Wat wil jy hê? Ekons gee jou enige iets! ••

Die mens lag diep en dit klink soos warm sjokolade en spookasem en goue karamel. 

“Wat gaan nog twee soene my gee?”

>> Is die fonteine nie genoeg nie? << Fie Een frons af in tergende gesig.

“Dit help net as ek dors is… en ook net vir ’n rukkie. En ek word honger ook. En al is ek so mooi is ek baie alleen. Mense huil en gil my naam as hulle my sien, maar niemand praat ooit rêrig met my nie…” Groot trane rol uit die groenblou oë val oor die gladde, ligpienk wange. 

Fie voel bedruk vir die mens en benoud as gevolg van die mens. 

•• Ekons kan jou help met een jou probleme maar nie albei nie. Jy moet kies: honger of alleen? •• 

Die mens hurk asof in pyn, lang arms vou om opgetrekte knieë, “Honger vir liefde is alleen muse, dit weet jy goed. Ek was eens ongemaklik, ongelooflik lief vir iemand. Maar die mense wat my wysies koop was bang vir ons liefde, toe steek hulle my geliefde weg…”

>> Ekons kan jou liefde terugbring, ekons weet waar die wegsteekplek is. Maar wees gewaarsku mooi mens, daar is nog baie plekke op jou aarde waar julle liefde steeds verdoem word. <<

“Ek gee nie meer om nie. Dit is seer so alleen. Dit is te seer so alewig alleen, so gedurig alleen. Bring my mens terug en ek vertel julle my geheim oor die 7.” 

Die mens kyk op en ’n wêreld vol dreigemente flits in die groenblou oë. 

“Soos julle dalk klaar weet, my geheim kan óf die heelal red óf vir julle help. Julle moet maar kies.”

Kyk bietjie rond...

A tiny love story written at 17:15

I was feeling rather overwhelmed; this was before the word became trendier that OCD and everyone suffered from it. Sitting down on

Loulierblare en Skoonfamilie

Martie het eendag, toe ons daar in haar winkel gesit en tee drink het, ‘n onskuldige opmerking gemaak wat die satan in