Fie – insident ses.

Photo by Mike Petrucci on Unsplash

Een na die ander kom lê die opsies voor Fie se voete. 

Syhaar keuses is kompleks en raak moeiliker hoe langer hulle in die pers water ronddryf. Fie vryf agter syhaar ore, syhaar kop voel vol en onbekend en deurmekaar.

Vir eons is hulle al saam, die 9 van hulle. Soos die mooie mens gesê het; hulle is amper orals en feitlik nêrens, maar saam was hulle van die begin af en saam moet hulle wees tot aan die einde.

Hierdie eeu oue gewoonte is wat knaag aan Fie.

Soek die ander. Vind die ander. Soek die ander. Vind die…

Maar as hysy dit doen, gaan gebeur wat altyd gebeur. Die heelal gaan vergaan en die keer, saam met alles, ook die mooi mens.

Die mooi mens. 

Dié staan en staar net na Fie met oë wat te diep kyk, wat te veel raaksien.

Die mooi mens. 

Daar lê die nuwe, ongewone probleem, die eerste keuse waaroor Fie struikel in syhaar lang bestaan. Fie worstel met syhaar eie hunkering om die mooi mens soos ’n nota op te vou en in syhaar sak te druk. Veilig teen syhaar hart, daar waar die mooi mens kan sing tot die laaste sekonde van die laaste dag. Nog nooit was iets of iemand so vinnig so verslawend nie. Fie sluk en sukkel om die volgende dag se nuwe son te sien opkom oor ’n wêreld sonder die mooi mens in dit.

Maar dit moet. Dit kan nie anders nie… soek die ander, vind die ander…

>> Ekons moet gaan. << Fie Een se stem is skurf soos die trane dreig. Syhaar antieke hart wil breek en verbrokkel en verspat in duisende fyn splinters.

•• As ekons nou gaan, dan kies ekons alweer die ander bo dit wat ekons wil hê. •• Fie Twee se weerstand gee in en syhaar hart kraak in twee. Syhy maak syhaar hande oop en uit syhaar palms verskyn duisende rooi gebreekte harte; hulle hang in die lug en soos meer verskyn stoot hulle mekaar vorentoe en versprei in ’n sirkel, al hoe meer, al hoe meer, al hoe meer seer. 

Na ’n minuut is die hele tuin vol en een na die ander begin die harte saggies ontplof. Orals om Fie en die mooi mens sif daar ’n fyn rooi poeier neer soos droë bloed. Die mens giggel en vee, vee die poeier in sirkels.

“Kom nader ek kort water.” Fie gehoorsaam en buk nader, sagte vingers streel oor syhaar wange en vang die trane gulsig op.

Met sorg meng die mens Fie se trane met die rooi poeier van Fie se stukkende hart en met berekende bedoeling kyk die mens op en vee die rooi room regoor die se verruklike lyf.

>> Dis nie reg nie, myons hartseer maak jou mooier. Hou op vryf dit maak myons gek. <<

“Maar wat’s die punt van jou trane dan?” Die mooi mens vra met oënskynlike onskuld, maar die mens maak nie reg nie en weet dit baie goed.

•• Ekons wou jou nie eintlik help nie, en spyt is iets wat ekons nie kan voel nie. Vat nog trane en was af die room; jy het nie myons seer nodig vir goed voel nie. ••

Die mens hou bakhand en Fie huil in die uitgestrekte hande.

Fie staan en kyk tot die mens silwerskoon is. Dis al donker buite toe Fie omdraai en sonder ’n verdere woord begin stap in die rigting van die flikkerende stad onder in die laagte.

Op die laaste bult voor die stad begin steek Fie vas en frons vier lyne op syhaar voorkop.

>> Hier is groot fout op die planeet. << Fie Een vee kwaad oor syhaar wange.

•• Ons probleem is meer kompleks as die mooi mens se selfsug. Kyk daar, die mens se geliefde is op meer as een plek. Ekons voel stukke versprei oor die stad daar onder, maar ook op baie ander plekke ver van hier. ••

Fie Twee knyp syhaar oë toe en begin tel. Gou is hysy by ’n miljoen. Dan ’n biljoen. En steeds tel hysy. Na vier minute skiet syhaar oë oop en hysy prewel saggies,  •• 4 444 444 444… Ekons kan net tot daar, daar is nie eers plek vir een meer nie. ••

>> Hoe het daar soveel stukke ontstaan? <<

•• Die wegsteek plek vir iets onverstaanbaar is binne ‘n hart vol vrees. Die aarde is vol bang mense wat nie wil verstaan nie, hulle wil nie verdra nie, hulle kan nie plek maak vir anders nie. ••

>> Hoe sit ons soveel stukke weer aanmekaar? Die geliefde gaan nie weer dieselfde wees nie, die breekplekke gaan wys… orals gaan dit wys. <<

•• Dit doen gewoonlik. •• Fie Twee lig syhaar arm en wys na die mense onder in die stad. •• Kyk na daardie een; daai merke diep binne, dis iemand anders se bang. Dit slaan deur, slaan uit en sit vas vir altyd. ••

Asof oorwonne plof Fie neer in die stof. Hysy trek syhaar lang bene teen syhaar bors en rus syhaar ken op knopperige knieë.

>> Soek ons so graag na die 7? << Die vraag is onseker. Onseker is nuut en opwindend, die gevoel maak Fie heerlik ongemaklik en amper bang.

•• Ek is nie meer seker nie… maar wat van haar? Sy is een van hulle. ••

>> Sy en hy en hulle en haar en hom en ek en ons… dis altyd dieselfde. Dit bly presies soos dit was en hou aan om te wees soos dit vir ewig sal. Die eenvoud van die soort bestaan gaan myons einde beteken. <<

Fie val agtertoe en die poeierige bruin stof maak wolke aan die kante van syhaar kop. Heen en weer, heen en weer trek Fie syhaar kop deur die sand. 

•• Ekons wil nie teruggaan na hulle toe nie. ••

>> Ons is hier vir ’n rede… een mooi mens kan ons nie so deurmekaar maak nie. <<

•• Dis nie al nie… dis nie net die mooi mens nie. Die ander… hulle inspireer net, observeer net. Hulle skep niks nie, maak niks nuut en mooi en interessant nie. Ekons kan meer doen as net kyk. Sonder hulle kan ons deelneem en doen. ••

>> Sonder haar? << Fie Een se oë rek groot. >> Los ons haar net? <<

•• Dink jyons sy soek na myons? •• Fie Twee gil in die donkerte in en vir ’n oomblik flikker die sterre vinniger, soos ’n swerm vlinders wat skrik in ’n voetpad. •• Al wat sy soek is die minste weerstand, die laagste moontlike moeilikheidsgraad. Sy is dalk effe anders as die res, soos ekons gee sy ook so bietjie, maar sy maak nogsteeds niks. Ekons soek meer. ••

>> Maar die bietjie wat sy gee, kan ekons werklik daarsonder? << Fie Een se keel trek styf.

•• Miskien as ekons iets maak, iets bou of verf of skryf of bak, dalk sal ons dit dan nie meer so nodig hê nie. ••

Met moeite kom Fie orent en skud die sand uit syhaar hare. Die bruin sand stroom by syhaar ore uit en rol by die bult af. Die sandstroom word ’n storm en sluk die stad in, dadelik is alles ’n woestyn en Fie sit en kyk hoe die mense verward skarrel in die droë donker.

Die met die bang harte vol stukke van die mooi mens se geliefde, hulle begin lemmetjie groen gloei in die nag se bloupers arms.

•• Nou kan ekons hulle makliker uitken. ••

>> So ekons gaan voort? Ekons gaan die geliefde soek en aanmekaar sit? << Fie Een klink so oud soos hysy werklik is. Ondenkbaar oud.

•• Ja maar vir myons. Vir die mooi mens… saam met die mens kan ekons leer skep. ••

>> Die geliefde is dan ’n geskenk? Nie ’n ruilding vir die mens se geheim nie? <<

•• Seker maar eerder ’n geskenk vir ekons ja… ’n gelapte geliefde is beswaarlik ’n volwaardige geskenk… hopelik is daar iets oor wat die mens sal herken. ••

>> Wat gaan oorbly in hulle bang harte as ons die stukke uitruk? << Fie Een beduie na die gloeiende mense onder in die sanderige stad.

•• Hopelik plek vir bietjie meer insiggewend wees, vir bietjie meer insig. ••

Fie staan op en duik in die sandstroom in. Met lui hale swem hysy tot in die stadsplein van die woestynstad.

In die middel van die plein het ’n groepie gloeiende mense klaar begin saamdrom. 

Al het hulle geen idee hoekom hulle gloei of waar die snaakse skynsel vandaan kom nie, gee dit hulle alweer rede om te dink hulle is beter as dié sonder die afwyking. Hulle kyk verby die wat nie gloei nie en skep angstig aan die nuwe tipe bang wat in die strate ronddans. 

Skep en stop en skep en stop. Die bang moet in, hulle harte moet vol… propvol, boordenstevol.

Kyk bietjie rond...

A tiny love story written at 17:15

I was feeling rather overwhelmed; this was before the word became trendier that OCD and everyone suffered from it. Sitting down on

Loulierblare en Skoonfamilie

Martie het eendag, toe ons daar in haar winkel gesit en tee drink het, ‘n onskuldige opmerking gemaak wat die satan in