Fie – insident een.

“Hierdie is by verre die beste poging om Fie se gedagtes te vertaal wat enige iemand nog aangewend het. Wat hierdie poging meer suksesvol maak as enige ander poging sover is dalk te danke aan die taal waarin dit gedoen is. Fie se gedagtes, vermoed ons nou, is makliker verstaanbaar in Afrikaans. Dis belangrik om te noem dat hierdie poging ook vertaal is in die ander tale van dié wêreld, ons wêreld. Die ander wêrelde het nie die behoefte gehad, soos ons, om Fie te probeer verstaan nie. Hulle was net dankbaar sy het hulle verlaat. Ek vermoed ons sal ook later so voel.”

– Dr. Josephine Allerman. –

“Ek voel dit nodig om eers die nodige detail rondom Fie te gee,” sê Niece, “voor ek kan begin om haar gedagtes te vertaal.”

Die gehoor sit en luister met soveel afwagting as wat hulle sekerlik kan bemeester. Gehoor is moontlik die beste woord om die bedremmelde groep mense te probeer beskryf. Hulle is vuil, maer en almal dra dieselfde gehawende klere uit ‘n era wat niemand rêrig meer kan onthou nie. Hier en daar gloei een nog liggies groen.

Vra rond en jy sal gou agterkom daar is nie ‘n mens wat weet wat van al die allerdaagse klere geword het nie. Eendag was al wat oor was die knoop-en-doop hippie gewade. Fie het blykbaar van die mengelmoes van kleure en vorms gehou.

Die gehoor lyk honger, moeg en verseker lyfseer. Hierdie is die eerste keer in veertig jaar wat hulle kan stil sit vir langer as twaalf en ‘n half minute op ‘n slag.

Niece praat weer, “Soos ek seker is baie reeds weet, was en is Fie die enigste vlak nul wese wat ons nog ooit teëgekom het. Syhy (sy/hy), was en is volmaak. Klaar en reg. Syhy weet en is – alles. Syhy het twee gedagtes en syhy is die naaste beskrywing aan ‘n goddelike wese as wat ek kan kom. Maar syhy, volgens haarhom (haar/hom) self, het niks te make gehad met die skepping van ons of enige ander wêreld nie. Syhy was en is, selfs na alles, nie ‘n skepper nie. En syhy net een swakte gehad.”

“Wat het syhy dan hier kom soek?!” gil ‘n droë stem vol woede van êrens uit die gehoor. “Kyk na ons nou! Wat was die fokkin punt?!”

“Ons dink sy was nuuskierig… aan die begin…” Niece antwoord sag en kyk af na haar eie gehawende skoenpunte, die rooi leer is stukkend en vol stof, “…luister mense, daar is niks wat ek julle gaan vertel wat enige verligting, duidelikheid of genot gaan bring nie.” Sy kyk op, haar oë blits met onderdrukte woede maar ‘n traan spoel oor die rooi rand van haar ooglid. “So bly en luister of loop verder.”

Niece haal diep asem en wag vir die gehoor om te verdun, maar helaas hierdie mense is gewen, oorwonne, verslaan. Hulle het niks beter of anders wat hulle kan of wil doen nie. Hulle kan net sowel sit en luister en sy wat Niece is kan net sowel begin by die heel eerste gedagte wat sy gehad het.

Daai eerste gedagte in haar eie kop wat nie haar eie was nie. Dit was Fie sin. Om korrek te wees, dit was Fie Een sin.

Die gedagte was: >> Hierdie sitplek is hard <<

Niece het van toe af elke gedagte, elke aksie, elke emosie, elke beweging… alles, alles wat Fie gedoen het ervaar. Om haar aan die lewe te hou moes hulle later jare vir Niece koppel aan sterk aarvoeding, want al wat sy gedoen het was sit en ‘kyk’; sy het nie meer haar eie lewe gehad nie.

Niece skud haar kop in ‘n simpel poging om haar gedagtes te probeer orden en dan begin sy vertel:

Dit was Junie op hierdie aarde, toe Fie op ons maan gaan sit het. Syhy se voete het oor die kant van die maan gehang en syhy het hulle stadig heen en weer geswaai.

>> Hierdie sitplek is hard. << dink Fie Een.

•• Dis net tydelik. •• maan Fie Twee en sug hardop.

>> Kyk net na hulle. Soos insekte. Skarrel. Skarrel. Doelloos. Wag kyk daai een… daai een is amper bewus. Dalk kan ekons (ek/ons) maar afgaan. <<

•• Nee. Nee. Nee. Ekons gaan nie weer betrokke raak nie. Hulle is heel moontlik nog nie reg is nie, dan moet ekons wag. Dink. Onthou… onthou wat op LuuuuuL gebeur het. ••

>> LuuuuuL is niks soos die een nie, daar was nie eers musiek nie. Luister mooi, iemand sing daar onder… ekons kan hier gaan soek na haar. Kyk net… daai een het amper empatie. So amper ‘n klein bietjie simpatie. Kom laat ekons gaan! << smeek Fie Een.

•• Net die een keer, kan ekons vir myjou (my/jou) luister? •• pleit Fie Twee.

>> Ekons het klaar besluit. Ekons gaan af. << Met die druk Fie op die kant van die maan en spring af aarde toe.

Kyk bietjie rond...

A tiny love story written at 17:15

I was feeling rather overwhelmed; this was before the word became trendier that OCD and everyone suffered from it. Sitting down on

Loulierblare en Skoonfamilie

Martie het eendag, toe ons daar in haar winkel gesit en tee drink het, ‘n onskuldige opmerking gemaak wat die satan in

One Reply to “Fie – insident een.”

Comments are closed.