Partykeer is ’n woordeboek nodig. Daar is ’n paar van hulle op my boekrak: daar is die Franse een wat ek in my eerste jaar op Tuks gekry het, dan die Zulu een wat ek aangeskaf het toe ek Durban toe getrek het. Ook die klein Setswana-boekie wat vodde geblaai en beskryf is. Maar daar is twee wat ek die meeste gebruik: een is ’n tweetalige een met Afrikaans en Engels, en dan die groot een met die bruin omhulsel. ’n Volwaardige Afrikaanse woordeboek wat iewers in die 1970’s gepubliseer is. Dié het ek by my pa geërf, en volgens die potloodgeskrewe inligting op die eerste bladsy het hy dit klaarblyklik vir R4,80 gekoop!
Ek gebruik hulle nie gereeld nie, slegs elke nou en dan as my brein nie die korrekte vertaling wil doen nie, of as ek desperaat na iets spesifieks soek. As my tong knoop en ek oor my lippe val. Onlangs was dit so ’n geval.
My eerste stap is altyd om te stop en stip na die vertes te staar, met die hoop dat die woord waarvoor ek soek, deur my brein-argiewe opgetower sal word. Ek het die Engels geken: void. Maar ek kon net nie op die Afrikaanse woord kom nie! Gaping was nie reg nie. ’n Gaping is iets waardeur Lukhanyo Am sny as hy die opponente se agterlyn breek. Gat was verseker nie reg nie. Dis iets waarin jy ’n boom plant of iets begrawe. Grot, nee. Holte, nee. Daai twee is plekke waar jy skuiling soek as dit begin donder hoog in die Drakensberge. Ek moes deur daai bruin boek blaai om op die regte woord af te kom.
Leemte.
Hoekom was dit belangrik vir my om die regte woord te kry?
Want ek sit met ’n paar van hulle hier in my binneste. Meeste is heel groot, en ander is aan die kleinerige kant. Maar hulle is daar. Ek het onlangs eers besef dat ek hulle saamdra. Hulle name is geëts in hul wande. Liefde en Vriendskap is die grootstes. Getrouheid, Kamaraadskap is ook daar, saam met Behoort. Almal leemtes binne my psige. Holtes, gapings, gate, grotte. Kom ons gebruik maar al daai woorde!
Die eggo’s wat binne hulle weerklink het hulle weggegee op die ou end. Vir lank het ek daai geluide gehoor, onwetend vanwaar dit kom. Dit was eers sag, maar later oorweldigend, sodat ek hulle nie meer kon ignoreer nie. Geen klank nie. Net stilte. Fokkit, ek het lank probeer ignoreer! Vingers in die ore soos ’n kind wat nie vir Ma wil hoor nie. Ek was alleen met niks om my nie. ’n Seepborrel wat nie aarde toe wil kom nie. ’n Ballon wat in die hoogtes bly hang. ’n Ruimtevaarder wat sopas by die skip se luik uitgespoeg is. Drywend. Klein. ’n Dowwe spikkel in die donker. Op die ou end moes ek luister na die stilte, anders sou ek in hulle verdwyn en verteer word.
Lank het hulle my besig gehou – hierdie gate in my. Ek het die donkerte ingekyk, en gesien hoe die dieptes vir my terugstaar.
Toe, uit die bloute, hoor ek dit. Die oorverdowende geluid van ’n enkele druppel wat uit die hemel val en die bodem van die leemte met ’n plons tref. Die stilte daarna het vir ewig geduur. Ek het nie geglo nie. Ek wou nie hoor nie. Dit was vir so lank stil en leeg hier binne, dat die blote feit van daai druppel ongelooflik was, en ek het opgekrul bly lê. Maar toe nog een. Plons. Ek het my kop stadig gelig, steeds ongelowig. Plons-plons. Toe nog meer. Plons-plons-plons! Vele meer. ’n Reën. ’n Waterval. ’n Stortvloed! ’n Hoëveld-donderstorm! Water wat skielik val op plekke waar daar net stof en leegheid was. Borrelende riviere wat onverwags oor die ou, droë rivierbeddings spoel. Golwe wat teen die rotse in my pad breek en skuim. Water wat my wegdra. Nie die dieptes in nie, maar na hoër grond. Na plekke waar ek weer my voete kan vind. Waar ek gehawend kan opstaan, my kop op lig, en met toe oë en oop arms die reën op my voel val.
Waarvandaan, het ek gewonder? Na jare se droogte en verlies – hoe het hierdie gebeur? Wat het hierdie vloed veroorsaak?
Die beelde flits deur my bewussyn. Kort. Vinnig. Maar daar is beloftes van meer.
’n Skelm oog wat vir my knip.
Die stofpad draf met ander se voetvalle wat om my weerklink.
Die klein handjie wat aan my vinger klou.
Die geklink van vol glase.
’n Nuwe dorp. ’n Nuwe tuiste.
Die skaterlag van nuwe vriende.
Die tong-in-die-kies spot en aanhits.
Die omhelsing van ou bekendes.
Die reuk van ’n houtvuur met sagte stemme in die vlamme se skadus.
Die glimlag waarin ek kan verdwaal as ek haar om die dansvloer tol.
Boodskappe, beelde, gebeure van hoop.
Die wete dat elke droogte ’n einde het.
Die ding met leemtes is uithouvermoë.
Ek vermoed daar is dalk nog ander maniere om hulle te hanteer, maar daardie faset is vir my die belangrikste. Om te kan uithou. Vasbyt! Die kapasiteit om uit te hou en vas te byt en met die leemtes binne jou saam te leef, is krities. Daar is geen waarborg dat verlossing gaan plaasvind nie. Geen beloftes dat hulle gevul gaan word nie. Dis vasbyt en hoop, en hoop en vasbyt. Vasbyt en hoop dat dit nie te lank gaan vat nie. Hoop en vasbyt dat daar iets van jou oor is as die water begin val.





