Vir een of ander rede struikel ek gereeld.
Verstaan asseblief: dis nie opsetlik nie, en ek weet nie regtig hoekom nie. Dalk is dit die aandagkwessies, dalk net eenvoudige onnoselheid. Of dalk is dit net die feit dat die pad wat ek loop, baie klippe het. Veral onlangs. Daar was baie klippe, en baie van hulle was groot.
Maar dis maar hoe dit is. Wie weet rêrig hoekom?
Meeste dae is dit maklik om op te staan. Dis ‘n simpel toonstamp, ‘n gly, ‘n verkeerde trap, en voor ek weet wat aangaan, lê ek op die grond. ‘n Vinnige swets, gevolg deur opstaan en afstof, en ek stap weer in die pad af. Maklik.
Ander dae vat dit so bietjie langer. Ek stamp iets seer en moet eers ‘n bietjie sit en met styf toegeknypte oë vryf. Soms is daar bloed. Dan moet ek eers skoonmaak en toéplak voordat ek kan aangaan.
Daar is wel ‘n risiko verbonde aan die ekstra bietjie tyd wat ek op die grond moet spandeer. Want ek sien hulle nader kruip. Die ouens wat deur die stofwolk van my kennismaking met die aarde aangestap kom. Die figure in die stof. Die skadus in die wolk. Sommige gebukkend en kreupel. Ander groot en intimiderend. Ek weet ek moet dan vinnig maak en, met bloeddeurdrenkte en halfgebinde verbande, my voete vind en voortstrompel. Weg van hulle af. Vinnig.
Maar elke nou en dan gebeur dit.
Altyd onverwags. Ek’s altyd onvoorbereid.
Ek’s soos ‘n blinkgedrinkte ou by Oppikoppi wat met ‘n dronk-dans die groot manne voor die verhoog ontglip en dan lomp na bo klim. Terwyl die skare skree, gee ek twee tree terug, so tussen die musikante in. Dan vorentoe, en met oop arms word daar geduik. Vir daai oomblik word die wêreld stil. Alles stop. Al waarop jy kan fokus, is hoe my oë stadig groter raak soos ek sien hoe die mense wat nou net aangehits het, hier onder my padgee. Dan tref ek die aarde. Voorkop, borskas, ballas en knieë op dieselfde tyd. En ek lê.
En ek weet: vandag word daar nie opgestaan nie.
Gee nie om hoe desperaat ek is nie. Gee nie om hoe baie ek wil nie.
Vandag gaan ek gefoeter word.
Want die skadus in die stof, die figure in die wolk, is skielik hier by my. Hulle is hier op my.
En ek kan nie wegkom nie.
Ek ken hulle. Mens kan amper sê ons is vriende, want ek loop al ‘n lang pad met elkeen van hulle.
Voor is Aggressie. Hy is altyd voor. Groot, gespierd, wreed. Met geknersde tande en rooi oë. ‘n Storm gevul met vuiste, bedek in littekens. Agter hom, altyd sy kleiner boetie, Frustrasie. Tipiese tweede kind wat kak maak en dan skree vir boetie om te kom help. Die drie vriende, Seer, Verlies en Rou, is kort op hulle hakke. Hulle werk goed saam en weet wat hulle doen. Hulle dans om my, trane in hulle oë terwyl hulle slaan. Depressie is gereeld daar en altyd gewapen met iets skerps. Hy vind voortdurend ‘n gaping, maak altyd seer. Alleenheid is tussen hulle, en hy glip hier en moker daar. Heeltyd seer. Altyd teenwoordig. Stres ook, maar heeltyd agter, besig om die ander aan te spoor. Met sy krom rug en slap arms kan hy nie eintlik seermaak nie, maar hy smokkel die kortisol waaraan die ander verslaaf is. Die dwelm wat hulle dryf, en die swart kneusmerke is openlik sigbaar op almal se arms.
Hulle slaan en skop. Ek breek en bloei. Hulle vloek en gil. Ek krimp en ween. Hulle verwoes en vernietig. Ek is in die vuur, en ek brand. Hulle hou nie op nie. Ek kan nie meer nie.
Somtyds is hul leier sigbaar. Hy staan daar eenkant en kyk hoe hulle slaan en ek uitbloei. Hy was nog net een of twee keer betrokke, en daai kere was die ergste. Sy houe die hardste en die teikens van sy skoppe die plekke waar die meeste skade aangerig gaan word. Genadeloos, sy aanvalle oorweldigend. Ek weet steeds nie hoe ek sy aanslag daai vorige geleenthede weerstaan het nie. Met toegeswelde oë het ek net sy skadufiguur sien wegstap. Die enkele woord agter op sy swart hemp sigbaar.
Einde.
Aan die begin was ek bang, want die ding was nuut en hierdie gevegte was op ‘n stadium daagliks, en ek het nie geweet of verstaan hoekom ek skielik hier moes meeding nie. Nou, terwyl hulle my slaan en breek, het ek vrede. Want ek is al gewoond hieraan en ek weet wat ek moet doen.
My taak is eenvoudig: lê opgekrul hier om die ander ouens wat binne my is. Pas hulle op. Hou hulle veilig. Hulle staan om die laaste kampvuur en kyk uit die donkerte in. Hierdie klomp ken ek die beste: Gelukkigheid, Dankbaarheid, Trouheid, Lojaliteit, Passie, Durf. Naaste aan die vuur staan Liefde, en langs hom Hoop. Albei is op krukke, maar hulle staan.
En die enigste ding tussen hulle en die donkerte is ek. Ek is die laaste linie, die laaste loopgraaf. En al wat ek moet doen, is uithou. Ek moet net vasbyt. Want ek weet dié wat die slae uitdeel, gaan moeg word. Hulle kan nie lank aanhou nie. En wat hulle nie besef nie, is dat die houe en slae my vorm. Elke keer in die vuur, ‘n transformasie. Elke keer word die yster harder. Elke keer word die metaal sterker. En elke geveg verdra ek die houe beter.
En die oomblik wat ek stadig opstaan en vra of dit alles is wat hulle het, gebeur elke keer gouer.





