Stuur my jou adres

Stuur aan my ‘n liefdesbrief in die pos. As jy poskantoor toe gaan, en jy koop ‘n seël of ses, skryf vir my ‘n nota op Croxley papier, in blou pen neer. Smeer perongeluk die ink dat ek moet sukkel om die woord uit te maak, maar tog verstaan wat jy bedoel.

Stuur aan my ‘n liefdesbrief in die pos. As jy jou gedagtes op wit afdruk, die sweet van jou hand die papier laat skif, en ek volg jou lippe oor die ritmes van ‘n brug, die woorde begryp, en ook die gebruik van jou ellips…

Stuur aan my ‘n liefdesbrief in die pos. Dat ek ‘n week of twee kan wag vir dié, maar weet dit kom. Ek wil intussen sit en blare van ‘n Baberton daisy trek, en wonder oor jou. Om dan, met die ontvangs van die posstuk in my hand, die laaste paar blare van die blom te stroop, want die antwoord is tussen papier, met die spoeg van jou mond geseël.

Stuur aan my ‘n liefdesbrief in die pos. Een wat sewe of agt folios vol geskrywe is met versekerde, duidelik gevormde sinne, van sinvolheid. Sonder X’e of XXX’e, en van die’s  🙂 en daai 😉 en soene mwah mwah mwah wat makliker uit ons vingers ontsnap oor keyboards en touch screens ons taal verraai. Draai die bladsye om en skryf verder, ek wil sien hoe die ink deurslaan van die ander kant, woorde onthou soos ‘n Kentridge tekening.

Stuur aan my ‘n liefdesbrief in die pos. Enig in sy soort. Nie een wat herwin en herwin is, met name vervang, copy, paste, hier en daar ge-edit om in te pas. Ek soek ‘n nuwe een uit jou woordekwas, of dan eerder niks as sinne by iemand anders beroof, verwerk en uitgewas.

Stuur aan my ‘n liefdesbrief in die pos. Maak seker van die stories in jou onderstroom. Onthou… tussen lyne begin wat tussen lakens eindig; of in trane met pinotage. Passop vir wat jy daar wegsteek, en wie dit weer gaan vind. Onthou, soos ‘n kind, hoor ván ons nie die woorde nie, maar voel die diepte van die pen se groef in die papier wat van ons, van my, die verskuilde spelfout in jou subteks maak…

Maar asseblief stuur aan my dáái liefdesbrief in die pos. Sou dit so wees, die Een wat duidelik sê dis nou oor, ons het mekaar iewers tussen lyne verloor. Dat ek kan weet om my pen te stil, my hart te blok. Die verskuilde spelfout… die ellips te stop.

Of dalk stuur ék aan jou die liefdesbrief, in die pos met die seël of ses, in antwoord; op Croxley papier met ‘n blou-smeer-pen en sweterige palm, wat twee weke lank reis, en jou met daisy-in-hand betrap, tussen blaaie met spoeg geseël die ‘ja’, ‘JA’ ek wil jou óók hê, dankie dat jy so duidelik vra, ek kom môre saam die volgende melk-wa…

Dit alles vir ‘n seël of ses, nou al wat ek nodig het, is jou fisiese adres.

Mense wat ek ken

Twee maande na die 1994 verkiesing is Melda en drie van haar vier susters se huwelike op die rotse. Drie van die vyf is op pad hooggeregshof toe, die ander een, Meva, is ’n Christen. Die vyfde een is Mila.

Photo by Paul Green on Unsplash

Meva dra net klere wat by Poetry in Brooklyn Mall gekoop is, lees slegs Joice Meyers boeke en drink net versapte groentes. Sy’t ‘nee’ gestem in die referendum en is gemaklik met haar gay seun, solank hy net nie ’n swart kêrel huis toe bring nie. Sy’t ophou hare perm waaroor ek, vir een, baie bly is. Sy’t ook ophou kleur, daaroor is ek nie bly nie. Mens kan mos maar keer waar jy kan. Haar dogter is die grootse snob waarop ek my oë al gelê het. Dié het so ’n sleg man getrou hy kon nie eers ʼn diploma by die tegnikon verwerf nie. Hy kom uit ʼn vreeslike slegte huis uit, maar hy het baie mooi bene. Hy is ook nou ʼn Christen, want hy weet waar die geld vandaan kom. Hulle kan nie ophou teel nie. Weer die Bybel verkeerd verstaan, Hy’t gesê ‘vermenigvuldig’ nie ‘vervuil’ nie. Beide is redelike mooi mense, almal wonder oor die kinders. Die gay seun moes oorsee vlug, want hy skuld óf mense geld óf het met hulle geslaap. Hy’t ʼn MBA oor die internet verwerf. Hy is baie slim. Die ander seun is useless, daar is nie veel om oor hom te sê nie, te veel geld maak mens mos uiters vervelig. 

Meva se man bly steeds op die plaas. Hy boer heeldag, en saans drink hy ’n vyf liter Laatoes op en brand dan gate met sy sigaret in die matte en loop in die meubels vas. Hy het ophou bad en skeer. Mens staan maar so 3 meter weg en praat in die rigting van sy kop as jy nie die oë kan vind nie. Hy stuur elke maand hope en hope geld vir Meva, want Jesus hou hom dop. Meva wens hy was haar eksman, maar hy is nie, want Jesus hou haar ook dop.

***

Die ander een, Melda, is ’n lesbian en koop ’n wildsplaas saam ’n vriendin. Hulle koop bokke en bokke en zebra’s en kragopwekkers en vlakvarke, seile, pale, beeslek, goed by Cape Union Mart en baie goed by Dischem. Hulle bou kampe en grou dreine. Alles is jag-groen of gekamoefleerde patrone en werk met remotes. As dit nog lewe, kry dit ’n naam, as dit dood is, word dit opgestop. Daar is velle op al wat vloer is in die huis, daar lê voertuigonderdele in houtbakke op eetkamertafels. John Deere hoede hang after deure, die kapstok is vol DriMac baadjies en die hele K-Way winter 2010 reeks. Alles ruik na sitronella-olie en wierook. Die werf is vol honde. Drie braaiplekke word aangebou en die spens is so groot soos ’n tweeslaapkamerwoonstel in Sunnyside. Vier massiewe boks-vrieskaste neem die spasie in beslag. Een is net vir ys. Die ander is vol van die binnekante van die opgestopte goed wat in die sonkamer hang. Mens eet altyd lekker by hulle. Hulle lees nie Bybel nie, wat ’n baie groot verligting is. Melda is amper ’n Boeddhis, sy drink glad nie en eet net witbrood. Sy is vreeslik kunstig, sy dink net self nie so nie, sy kan enige iets doen, is vreeslik handig. Kan goed regmaak; stukkende ketels, hekmotors, plugs, ligte, skoene en harte. Sy verstaan mense beter as wat hulle hulself verstaan, mense verstaan nie altyd vir Melda nie. Sy kleur nog haar hare, en skryf af en toe ’n baie mooi vers. Haar kinders is gelukkige mense. Die dogter bly in Pretoria, en haar seun in die Kaap. Beide het kuns in hulle. Melda en haar twee kinders kan mekaar vreeslik kak gee, maar hulle is almal baie lief vir mekaar. Melda haat vlieg, want sy kan nie rook op die vliegtuig nie. Maar sy kuier gereeld in die Kaap. Melda dink sy is ongelukkig, dalk is sy, dalk sal dit môre beter gaan. Dalk as sy meer geld het. Dalk as sy kan Kaap toe trek. Dalk as haar seun terugtrek. Dalk as sy soms ’n glas wyn kan drink. Baie mense is lief vir Melda, sy is lieflik, sy weet dit net nie.

Melda se eksman is ’n paar jaar terug oorlede, hy was ’n baie goeie mens. Het te veel gedrink, diabetes is niemand se vriend nie. Hy was ’n gawe man. Melda is nog steeds baie lief vir hom. 

***

’n Ander een, Mesa, werk vir die staat en het ophou grimeer na haar ‘vriendin’ uitgetrek het. Sy’t ook ophou rook, maar nie ophou eet nie, hoor ek. Sy is allergies vir alles, maar bly gewig optel. Sy drink elke pil wat die regering al ooit vir menslike gebruik goedgekeur het. Sy is hoogs gekwalifiseerd. Mesa trek eers die toilet, nadat sy die tweede keer gaan piepie het om water te spaar. Wanneer sy ’n glas wyn in het, is sy vreeslik snaaks. Haar kinders is baie aangename mense. Ons dink een is in ’n oop huwelik en die ander een moes ophou drink as gevolg van mediese redes. Haar dogter werk by ‘n mode tydskrif in New York, sy het emmers vol klas. Mesa moet binnekort aftree, maar weet nie of sy sal kan nie. Sy steel soms toiletpapier by haar werk en bring dit huis toe. Mesa pas haar ma op. Dis nie altyd maklik nie. Ek kry vir Mesa jammer.

Mesa se eksman was en is ’n smaaklose mens, maar tog baie aangenaam by tye. Vreeslik luidrugtig gelag en te veel speserye in die kos gegooi. As hy dronk was het hy amfibies gelyk. Moes ophou vetterige goed eet, ook weens mediese redes.  

***

Mena ontmoet ná haar egskeiding die walglikste kort man wat op die internet beskikbaar is. Hy werk op die oliebore en kom elke ander maand terug Suid-Afrika toe met ’n nuwe velsiekte. Hy is die lelikste mens wat ek al in my lewe gesien het in kakieklere, en kort. Rook so baie Camel sy hande lyk Asiaties. Hy ruik na sweet en as hy mens met die hand groet begin jy jeuk. Mens kan nie in ’n vertrek eet waar hy is nie. Hy haat diere en besoek die gruwelikste ruimtes op die internet. Mena self is ’n fantastiese mens. Histeries van aard, en baie komies. Vertel lekker stories, en is lief vir semi-soet wyn. Raak nooit so dat jy aanstoot neem nie. Haar hare lyk altyd versorg, en sy laat doen gereeld haar naels. Haar kinders is eie in hul soort. Die oudste moes akteur word, maar hou nou skool met ’n BSc graad. Die jongste het ’n voorliefde vir useless mans en Justin Bieber, baie aangenaam – kan lekker kuier, rook ook met baie panache. Die middelste een sê almal is baie misluk, maar ekself is mal oor haar. Droog, en stil. Rook soms ʼn bietjie dagga om te ontsnap. Nie mal vir mans nie.

Mena se eksman het toe homself na ’n Asiatiese bordeel van soorte gewend en het een ontmoet wat skaars kan Engels praat. Dié gee glo uitstekende rug masserings en kook alles in ’n watermassa bleekheid. Ruik na kool en dim sum en haar naam klink soos wanneer mens dik sop van een bak na ’n ander oorgooi.

***

Mila het gevlug. Sy het sak en pak gevlug net na die verkiesing, maar nie as gevolg van die land nie. Mila kon sien as daar moeilikheid kom. Daar was ’n poskaart al uit Indië, Milan, Parys, Birma, Kasakstan, Egipte en iewers uit die Oosblok. Mila vlieg maklik, want sy rook nie. Sy ooreet nie, want sy kort niks nie. Sy soek nie ’n eggenoot om die gat toe te maak nie, want sy ken haar binneste. Sy lees nie Bybel nie, want sy ken die wêreld. Sy kleur nie haar hare nie, want dit leef saam. Sy’t niks wat met ’n battery werk nie, want sy praat min. Sy wil niks dood nie, en ook nie dood haarself nie, sy’t niks studeer nie, want sy leer by die lewe. Niemand gee haar moeilikheid nie, en sy vir niemand nie. Sy skuld niemand geld nie en die lewe skuld haar niks. Die lewe is haar verhoog, haar klaskamer, haar geliefde en haar God. 

Mila het nie ’n eksman nie.

Vier van die susters lewe in die verlede wat hulle so haat, of in die toekoms waaroor hulle baie negatief is. Meva het ons onlangs verlaat. Ons hoop sy het haar God gevind. 

Dis nou amper 20 jaar na die verkiesing. Mila weet van niks. Hulle sê sy is vry… sy’t ontsnap, ek dink Mila was nooit vas nie. Sy was maar net nog altyd, en is nog steeds, gelukkig binne of buite haarself.

Videowinkels en Virgins

Bethel het nog nooit haar klere uitgetrek vir enige ander rede as om te stort of te bad nie. Sy was dood bang vir die dag wat sy haar bene gaan moet oopspalk vir iemand met ’n kleindorpie mentaliteit en ’n groot voordeel. 

Haar ma, Koti, was maar self sottig, soos sy haar bestaan aangevoer het met ’n goeie malva poeding, ’n ligte gin mengsel en selfrespek by die tuisnywerheid. Koti het opgegee om haar te laat man vat, en het begin hoop dat die kind sal gly en val. Dis in elk geval nie so onwaarskynlike ding in dié geweste nie. Haar pa was gedood in ’n karongeluk op die treinspoor en die orrelis het ook onbevlek swanger geword so paar jaar terug, niemand aanbid háár nie…

Photo by Chris Lawton on Unsplash

Bethel het die dag nét na die laaste jong man in die kontrei getrou het in die video winkel gaan werk en gebloos as iemand R18 films uitneem. So het sy in haar vrye tyd, wat baie was, maar so agter die till gesit en na die diskette wat terug kom gekyk vir krapmerke, beskadiging en selfbevrediging. Sy het haarself dieper en dieper in ’n skynwêreld in gedroom saam met Brad, Ben, Tom en ander Hollywood mans wat enige vrou wat nog Tampax koop, kortasem laat. Almal het gedink Bethel is ’n lesbian. Net sy het nie.

Sondag middag net na kerk, klok Bethel by die winkel in en gaan maak haarself tuis agter die kasregister met die afstandbeheer in een hand en nog iets wat met batterye werk in die ander. Haar ma storm binne met die hoof ouderling agterna. “My jirre Bethel, jy sal nog so sit en hierdie verdomde ge-neuk-spyker-jags-maak-bog kyk dan droog jou melk op en sit jy langs daai stadige Meyer kind in daardie gestig in Pretoria en tel die bolletjies op daai bliksemse abakus oor en oor en oor, terwyl ek op my doodsbed lê en wag vir ’n gestremde kleinkind, want daai ellendige broer van jou is besig om die spesiale klas aan die brand te spyker met sy borderline IK!” 

Bethel het net play gedruk en agteroor gesit. Die hoof ouderling se oë was so groot soos ’n kollektebak. Bethel vra “soek Oom weer die gewone?” en sy pluk ’n DVD uit die R18 afdeling agter haar uit. “Oom kan maar die een verniet kry, Oom het hom bykans al gekoop.”

Koti is daar uit en die ouderling het begin rondkyk en die DVD in sy baadjie sak gedruk en die winkel uit gestorm. Bethel het haar skof klaargemaak en haarself in haar kamer gaan toesluit met ’n doen-dit-jouself perm kit, ’n Sarie en die ding wat met batterye werk.

Koti het haarself langs ’n versigtige mengsel Celexa en Tramadol gaan tuismaak en op die eetkamertafel bewussyn verloor. Sy’t begin droom van Bethel se troue. Dit was aardig. Die ouditorium het gelyk soos ’n kleurblind skoolsaal met ’n straat dwelm tema. Alles was pienk. Die kerk was pienk, die klavier was pienk en almal het pienk aangehad. Koti het langs ’n man gesit met ’n rum asem. Aan haar ander kant het ’n  paartjie gesit wat mekaar probeer insluk het, hulle het elke vyf minute opgekyk en gevra wanneer die koek kom. Agter haar op ’n basaartafel het twee Sjinese moffies gesit en ‘geel madeliefies tussen dorings en gras’ gesing, terwyl hulle diep in mekaar se oë gestaar het.

Voor op die pienk vleuelklavier het ’n transvestiet in kabaret klere gelê en luidkeels gelag, terwyl sy haar kop agteroor gooi en aan ’n piesang knibbel. Elke keer as die paartjie vra wanneer die koek kom het sy gegil; “sy soek haar virginity!”. 

Bethel het alleen die kerk in gesweef met ’n spierwit safaripak. Koti was mismoedig oor die wit. Die dominee het van die vloer af opgestaan, die poeier van sy neus afgevee, na Bethel gekyk en gevra waar’s die ander bruid. Bethel het net voor haar gekyk en een van die moffies het van agter af gegil, hy soek sy onderklere in die konsistorie, hy’t gesê hy sal nou hier wees.

Koti het die volgende oggend met ’n hangover wakker geword en Bethel was by die videowinkel al van nege af en haar gewone roetine begin. Haar ma het later by haar kom inloer om vir haar malva poeding te bring. 

Daai middag, net so voor twee, het daar so jong kêrel by die winkel ingeloop. Hy’t van die voorwêreld geruik, heerlik. Bethel het ’n knop in haar keel gekry en na syne begin staar. “Het jy iets vir ’n date?”,  vra hy met ’n sterk stem. Dit was die mooiste man waarop Bethel al haar oë gelê het. “’n Date met Tad Hamilton?” vra Bethel. “Nee, enige iets met rooi. Dalk swart.” “Moulin Rouge?”, vra sy. Bethel lyk verbaas, iets in haar lieste pla.

“My neef trou vanaand hier in die kerk met daai afdraande gesig meisie wat by die koöperasie werk. Ek het ’n date nodig vir die troue. Stel jy belang?”, sê hy. “Hoekom?” sê Bethel. “Want ek wil dans. Wil jy kom?” Ek het klaar, dink sy by haarself. Sy stem in. Sy gee haar nommer en hy sê maak reg vir so vier uur.

Na die troue het Thomas, sy naam, haar huis toe gevat. Bethel het begin stoom. Haar hart het onophoudelik geklop, kort van asem en ongemaklik, sy kon nie ’n woord uitkry nie. Sy was iewers tussen opgooi, die hemel en die hel. Skuins voor haar huis pluk Bethel sy handrem op en Thomas stop die kar. As jy my nie nou in hierdie kar ’n vrou maak nie, gaan ek vir die res van my verkakte lewe in daai donnerse videowinkel sit en hoop een of ander pervert molesteer my in die badkamer. Thomas het haar daar en dan in die stoel vasgevat. Na ’n goeie ruk se gehyg na hulle asems, het Thomas sy vingers deur haar hare gestreel en vir haar gesê; “trou asseblief met my?”. Bethel het opgekyk en gevra of hy mal is. Hy sê: “nee maar ek dink ek like jou”. 

Die volgende oggend het Bethel met die grootse smile by die kombuis ingeloop. Koti het gesit en rook met die koerant. Sy was besig om malva poeding te bak. “Ek gaan trou Ma”, sê sy. Koti het net opgekyk en gevra; “watter kleur gaan jou troue wees?” “Ek dink sommer geel Ma, geel.” Koti het opgestaan en haar ’n drukkie gegee en gesê; “ag my liewe kind, net nie pienk nie, net nie pienk nie, wat is sy naam?”

“Thomas Ma, hy’s pragtig, en hy’t ’n billike voordeel.”

Soetpatats en Craven A

Sy skiet die stompie dat hy met ’n boog oor die voorstoep trek. “More Tant Rita, hoe gaan dit?” “Kind is ek met jou blerrie oom getroud goed dankie die knieg pla net wat gaan met jou hare aan?” Tant Rita is al twaalf jaar lank ’n weduwee, haar man is dood aan ’n bors en ’n klein drankprobleem. Sy het al jare terug die uile begin roep, niemand hoor nie, behalwe ek.

“Sit sommer daar in die kitchen my kind, het jy vir die Griek gevra of die patats soet is, daai goed van nou die dag was maar so half frank, jy weet mos; proe so asof jy patats eet.” Ek kyk haar vriendelik aan waar sy met haar krimpelien rok, handjies gevou op die draadstoel sit, die dood het seker van haar vergeet; God nie. “Ja Tante, hy sê dis stroopsoet, glo in bruinsuiker geplant.” Tant Rita kyk my so skuins deur haar bril aan, terwyl sy nog ’n sigaret opsteek. “Jy praat nou lekker twak, en sê jy vir my ‘stroopsoet’ in Ingels dan gee ek vir jou my oorlê Ouma Verhoef se antique sofa.” 

Ek koop eenkeer ’n week vir Tant Rita haar inkopies, sy sukkel met die knieg in die winkels, en dit gaan nog stadiger, want sy wil weet of dit vars is en of dit nog lekker crisp is; “want kindjie, jy weet die groente van vandag is ook nie meer soos dit in my tyd was nie, en die rose ruik ook na niks.”

“Tannie glo my, dis soet!” In hierdie klein plattelandse dorpie praat almal Afrikaans, selfs die Portugese se kinders gaan na Afrikaanse skole. Bolle rook waai in die wind weg, ek skink vir my tee uit haar ‘oorlê Ouma Verhoef se antique teepot’ en vat een van haar gemmer biscuits. 

Ek sien Tant Rita se praat is vandag op, dis dae soos die, dat ons net so sit en kyk hoe die kinders in die pad grootword. Haar dogter bly in die Kaap, sy sien haar so een of twee keer per jaar. Sy is siels-alleen hier in die aftreehuisie, waar sy sedert haar man se dood bly. Haar buurvrou Tant Mollie kom kuier elke middag half vyf. Ek reken hulle sit ook nou maar so en wag dat tyd vergaan, dag na dag sonder om ’n woord te sê. Tant Mollie praat ook nie veel nie, ook seker maar goed so, anders sou Tannie Rita haar seker lankal weggejaag het.

Ek sien die ou vrou kyk my so snaaks aan, ek weet sommer; haar blou rok. “Hartjie, jy weet die predikant kom die dag na oormôre, daai blou rok van my moet gedraai-clean word jy weet mos ek sê altyd, mens kan arm wees, maar jy moet dit net nie lyk nie.” Ek knik en sy skiet weer die stompie met ’n boog dat hy doer by die res op die hoop gaan lê.

“Het dit al gereënt by jou pa?,” vra sy met ’n hees stem voor sy in ’n hoesbui uitbars. Ek antwoord haar en sy sug. Sy bied vir my ’n sigaret aan en ek vat een uit die verfrommelde Craven A pakkie uit. “Hier’s die metches,” sê sy, terwyl sy ’n diep teug sigaret vat. 

“Ek sal moet spreen clean,” sê sy, “my dogter het gebel, sy kom Krismis kuier, die baby kom in Maart, glo ’n seuntjie”. Tant Rita word vir die eerste keer Ouma en ek kan sien dit is nogal ’n groot gebeurtenis vir haar. Haar groot oë blink as sy my vertel en haar handjies vryf stadig teen mekaar. “Hy gaan glo die ander Oupa se name kry dis sommer stront,” sê sy , “dis al klaar genoeg dat hy nie Verhoef agter sy naam kan skryf nie, nou moet hy nog ’n vreemde naam ook hê. Ek sê vir jou Oom Ben (haar man) draai in sy graf om.” 

Ek kan sien dit pla haar nie so erg nie, die idee van ’n kleinkind is al klaar genoeg. 

Sy druk haar hand in haar rok se hang sak, trek dertig rand uit en druk dit in my hand. “Is virrie draai-clean en Craven A,” sê sy, “hou die change.” Sy glimlag verleë. Ons beide weet dis nie genoeg nie. Maar dis eintlik soveel meer vir my. 

Toe ek die middag vir Tant Rita groet dink ek by myself, ek glo nie die dood het van Tant Rita vergeet nie, inteendeel, ek dink sy is een van die wat hy gaan onthou. 

Tant Rita is twee dae na haar kleinkind se geboorte oorlede. Sy het net gaan lê. Die patats by haar begrafnisete was stroopsoet. Tuisgekom ek het ’n Craven A gerook op my nuwe sofa, tee geskink uit haar Verhoef teepot. 

Mag die dood ons almal onthou en die klein goedjies laat geld, en die kleingeld hou.

Oupa se oes

Ek het verlede jaar agtergekom dis beter om die kersboom net so in die kas te bêre en dit volgende jaar net weer uit te haal, so ’n alewige op- en afslanery maak mens opgewonde vir die verkeerde redes. Daai boom is ’n plastiek simbool van ’n klomp slegte ervarings wat aan dieselfde tak gehang word. Tannie Elsie wat so vreeslik skinner en haar dik ou man wat elke hoer in die dorp al bygedam het, is maar net een van die skandes wat aan daai boom hang. 

Ek sien op na Kersfees. Dit lê soos ’n hoop honde siek voor my wat niemand wil opvee nie. Elke jaar dieselfde en ek weet sommer hierdie jaar s’n gaan glad nie afsteek by verlede jaar se affêre nie.

Tant Elsie het klaar laat weet sy bring ’n mengelslaai (met olywe én feta kaas) saam. Dís mos die familie se bydrae tot ’n Kersete van sestig mense, ’n slap bak mengelslaai wat na Gunston Filter ruik. 

Die storie kom ’n ver pad, en almal weet dat daar nie een werkende huwelik nog ooit uit hierdie familie uitgekom het nie, jong, maar vir opgee is daar nie tyd nie. Bittereinders is hierdie klomp nou vir jou. Tannie Marna en haar optelman, Hans, het die slegste verskoning vir ’n huwelik waarop ek nou al in my kort lewe afgekom het. Hulle donner mekaar links en regs, net om Sondag weer links en regs van die predikant op die ouderling- en diakenbanke te gaan sit. 

Nou Oom Hans en sy vrou se suster Tannie Elsie het op hoërskool uitgegaan en jy weet wat sê hulle van eerste liefde. Maar as daar in die Susters kerk voor God en gemeente gesweer is op die heilige graf van jou ma se dooie poedel, dat jy ‘tot die dood ons skei’ vir iemand gaan lief wees, dan is dit mos so. Maklik man. Jy sê net “ja” vir die ou met die toga en die Bybel onder die arm dan is dit geseël. 

Om alles te kroon was mal Tant Bets ook op die Kersdag by ons. Haar man, Dronk Ben, is myns insiens ’n eks Nazi, hy’t haar in ’n agterstand in met sy gekheid. Sy’s die oudste van die susters en het al drie kleinkinders, waarvan sy op die laaste twee nog nie ’n oog gelê het nie. Sy’t ses jaar terug in ’n hewige depressie verval, drink slegs Horlicks, eet net witbrood met Aromat op, lees dieselfde Sarie, Augustus 1989 oor en oor. Haar seun leen by almal geld en ry ’n ligblou Hyundai. Haar dogter werk agter ’n toonbank in Pretoria.

Die middag verloop sonder enige opwinding. Tant Bets sit soos gewoonlik in die hoek en wieg met die Sarie. Sy dra dit orals saam, sielkundige toe ook. Tannie Elsie maak elke nou en dan net seker dat sy op hoogte bly van die skindernuus op die plaaslyn.

Die kinders het maar die wêreld vol gehardloop, mekaar gespoeg en rugby gespeel tot iemand huil. Dan’t almal voor die TV kom lê en skottelgoed vuilmaak.

En soos Tannie Elsie weer met een van haar updates telefoon toe mik, is dit toe dat Oom Hans agterna is en daar verdwyn die twee. Die kinders se bekke het begin afblaas na die rugby-spelery en is weer die plaas vol; dit raak toe nou al amper tyd vir die Kersete om verslind te word. Al die kinders word bymekaar geroep, Tant Bets en haar Sarie word verskuif na buite waar die ete sou plaasvind. En so met die verbykom slag vra Tannie Marna vir een van die klein kinders: “waar is Oom Hans en Tannie Elsie?” “Ja,” reken die kind “hulle is in die tabakstoor, ek dink hulle speel dokter-dokter”. Net daar kry die kind ’n snotklap van Ouma af oor die taal, hy’s in trane die huis in met ’n halwe bord wat so loop-loop kos verloor – ’n streep honde agterna. 

Oupa steek nog ’n sigaret aan met die stormloop stoor toe, Ouma maak net kinders bymekaar en gee poeding, hulle moet bly. Tant Bets begin lewe kry, en loop saam met die stoet af stoor toe, Sarie opgerol in die regterhand.

Om die hoek gekom slaan koue stilte oor die trop mense neer, die toneel van ’n B-graad Amerikaanse sepie ontbloot dit self! Oom Hans en Tannie Elsie is inderdaad besig om dokter-dokter te speel. Oom Hans het die Tante op ’n ou oliedrom getel, besig om vir haar by te dam dat die stoor skud.

Ouma sak net daar inmekaar, en met dié, gil Oupa op haar; “Ouma bring my bril, jy kan nie nou loop lê nie.” Tannie Marna het olywe en feta kaas begin opbring wat sy vroeër die middag van die slaai af gesteel het. Die res het almal tjoepstil gestaan soos mense in ’n vol hysbak.

Dis met dié, dat tant Bets haar eerste woorde in ses jaar uiter en sê: “Hans Meiring, jy kan tot vandag toe nie jou voël in jou broek hou nie, net soos jy ses jaar terug ook nie kon nie”. Met dié kyk sy na die bleke Oom Daan, Tannie Elsie se man. “Daan, daai donkerkop kind, wat jou van dra, het nie ’n pint van jou bloed in sy are nie. Net soos nou, het ek ses jaar terug op hierdie twee krummels ingeloop waar hulle mekaar op Ou-Kersaand soos twee jagse rotte bygekom het in hierdie einste stoor! En Marna my sus, daai vrou wat in die dorp by die kroeg werk se mof kind is ook nie deur die ooievaar gebring nie. Daai kind is ʼn Meiring en almal kan dit sien!” 

Tant Bets is met die woorde terug huis toe, die vuil Sarie lê eenkant waar sy dit neergesmyt het. Oom Hans en Tannie Elsie het so stuk-stuk begin klere aansit en daar staan almal vir mekaar en kyk soos ’n klomp skape.

Van die huis se kant af het daar ’n bloedstollende gil gekom. Die hysbak sê ‘ping’ en almal is terug huis toe, dit klink soos pouse by ’n spesiale skool. Dis net huilende kinders en snot. In die spens hang Tannie Bets, twee duim van die grond af met ’n das om haar nek. Langs haar op die grond; ’n servet met die woorde op: “Tot die dood ons skei.” 

Tannie Elsie is daai middag met haar vol slaaibak sonder feta en olywe huis toe. Oom Daan het op die bank gesit en staar tot die volgende oggend. Tant Bets se man, Oom Ben, het opslag begin drink. Oom Hans is daar weg met sy onderklere in die sy hand, bakkie toe. Hy’s drie jaar later dood aan ’n bloedklont. Tannie Marna het haarself vir twee dae in die toilet toegesluit en Ouma het begin bak.

Die res van die familie is so stuk-stuk huis toe met Kerspresente en alles. Oupa het op die stoep gesit en rook en kyk hoe die ondernemers vir Tant Bets agter in die lykswa laai. 

Hy rol sy sigaret rond tussen sy vingers en mompel by homself: “My oes verdor”.

Ou Vriende

’n Naweek in die Hoëveld waarvan ek nie spesifiek die datum van kan onthou nie, het ek gerus. Dit was winter weet ek. Soggens oor die panorama uitgestaar en gekyk hoe die mis die oggend ‘koebaai’ sê. New York, New York was nie in die agtergrond nie. Die stilte was ontstellend. Ek sit en kuier by myself, word uitgeskel oor ek so lanklaas gesig gewys het. Geen verduidelikings nie. Erken my skuld. 

Photo by Laura Geror on Unsplash

Ek luister vir die wind deur die denne. Herken hier en daar woorde, maar ek’t die aksent te lanklaas gehoor, ook my eie skuld. Om my is twee mense, maar ek bly alleen. Verder is daar niemand anders buite my nie. 

Ek begin die ander mense groet, het hulle so lanklaas gesien, maar die gesigte lyk bekend. Die hofnar kom sê eerste hallo, will weet hoekom ek so lanklaas gelag het, hy gee vir my ’n koppie koue tee en ’n ou beskuit; “sy ouma is glo dood en met sy ma se bak vernuf”, sê hy, “is sy dood ook naby”. Ons groet en ek sê ek sal meer gereeld kom kuier.

Die menthol brand koud in my bors en ek skop die kind se bal terug. Sy lag en sê ek moet oefen. “Ja”, sê ek; “ek is onfiks”. Sy gee my ’n soen op die wang en die suigstokkie waaraan sy gekou het. Sy skop die bal teen ’n klip vas en hardloop die gras in.

Ek sien die monnik oor die water aansweef, ek gryp vinnig na my boek en druk my neus in die tee. Hy stop voor my en draai sy rug. “Daai boek het ’n kak einde”, sê hy. Ek kyk op en sê: “ek sal maar sien”. “Hoekom weet jy so donners min?” vra hy. Hy slurp aan my tee en ek sê: “ek’s te besig om my met stront te bewerk”. Hy sê ek praat my kop se twak en gee vir my ’n kers; “dis vir die aande”, sê hy; “lees meer”, sê hy; “maak lekker kos en lag saam met jou geliefdes”. “Jou tee is vreeslik bitter, neem maar suiker, die lewe is kort.” Stil sweef hy weg, skop die kind se bal vir haar terug en sy klap vir hom hande.

Ek blaai om, die afgelope vier bladsye blaai ek net om. Ek wil regtig weet wie is Mara en hoekom is sy so donners bitter. Vandag voel ek mara. 

Mara kom nader met ’n droë blom in haar hare en sy snuif. Ek vra vir haar of die winter haar ook onderkry en sy sê vir my nee. Sy sê vir my hoe kouer die winter hoe mooier die blomme in die lente. Sy sê dit maak die bitter tee soet, dit help met haar gemoedstoestand en sy gooi die blom in my tee. Daar’s weer ’n blom agter haar oor en sy sê dis om haar deur die winter te help. Sy begin blur en ek vryf my oë.

Die ou man kom nader en ek groet hom vriendelik, hy vra waar was ek al die tyd, ek sê: “ek was besig”. “Almal is te besig vir my” sê hy. Ons het gereeld gekuier. Hy vra of ek vir Mara gesien het en ek sê: “ja hoekom?” “Daai teef moet uit my blomtuin bly, ek gaan haar bitterbek nog toeklap”, mompel hy. Hy draai om en loop weg, ek groet agterna en hy tel sy hand op en laat sak.

Ek druk dood en staan op, ek gooi die suigstokkie in die voëlbak en dit kleur roospienk. My tee is stroopsoet en ek sluk dit weg, ek gooi die beskuit in die gras. Die kers word opgesteek in die voorhuis en die son sak in my koppie.

Die ander twee mense saam my vra hoekom ek so staar; “ek kuier by ou vriende” sê ek; “hulle stuur groete”.

Ek voel bly, die ou man moet maar môre alleen brug speel, ek moet gaan bal skop in die park dink ek, steek nog een aan en maak sterk soet tee.

Gebak of gebatter

Soos sy staan en vis batter laat dink dit haar aan haar huwelik met Pa. Sy sê sy’t hom maar soms terug gebatter met die kos wat sy voorgesit het. Almal het seker maar sy hou ingekry. Gelukkig het Ma nogal groot voete vir ’n vrou. “Maar”, sê Ma, “as ek hom wou terugkry het ek gebak”. Kyk, Ma kan baie goed doen, maar bak en stryk kon/wou sy nie.

Eendag net so skuins voor basaartyd het die woeker tannies by die kerk Ma gevra om koek te bak vir die tombolatafel. Ma het nie vrae gevra nie, almal se weggooi snert is seker klaar iewers gelukkig in ander mense se huise; almal het probleme. Dié dat hulle begin gebak uitdeel teen twee rand ’n kaartjie. Ma dog toe dit is seker gepas, siende haar gebak mens se maag net so kan ontstel soos enige tweedehandse tuindwerg. Sy bak haarself in permanente senuweeskade in.

Saterdag staan die tombolatafel vol gebak, ’n afskuwelike hervormde pastel-kleurige trauma; Ma drink iets op voorskrif. Sy was moeilik vernederd met ’n seun wat verkeerde kant toe hardloop op die rugbyveld, so sy voel nie veel vir die klipkoek op die tafel nie.

Drie ure die basaar in het die kinders hulself moeg getombola en klaar gekyk na mekaar se skaamdele agter die fietsloods. Die kwylende Kemp kind, dringend opsoek na ’n chromosoom, begin gebak gooi. Hulle ry mos ’n Nissan Skyline, Ma sê hulle weet nie van beter nie en ons moet nie oordeel nie, swak smaak verskil. 

Voor die ouers kon inspring, verloor twee kinders tydelik hulle sig, al drie die Smit kinders het ligte kopbeserings, ’n ouderling soek na ’n asmapompie en Tannie Olga met die slap gesig probeer die versiersuiker van haar nylon bloes afkrap met ’n skroewedraaier, terwyl haar bloedsuiker gevaarlik begin styg. Iewers huil twee baba’s.

Ma bak nooit weer vir enige kerk aangeleentheid nie. So leer ek, mens kan jouself ook úit ’n ding uit bak.

Oond

Ma vertel oor die dag toe sy seker was sy hou van vrouens. Dit was twee weke na haar troudag. Sy het op die plaas aangeland met haar sakke stadsklere en baie pille. Pa was klaar in die lande of in die kroeg. Ouma het met ’n spaan die kombuis en die res van die plaas bestuur. Oupa het gedobbel by die hotel op die dorp. Ma word kombuis toe bestel deur die spaan, en word aangestel om die herderspastei in die oond op te pas, terwyl ouma die spaan so rukkie laat rus. Ma mag nie aan ouma se spaan vat nie. 

Ma kon en wou nie kook nie. Haar belangstelling in enige pastei was altyd maar metafories en so staan en babysit sy die pastei tot ’n stuk charcoal en ouma flap haar pols uit lid uit met die spaan wat nou een geword het met die stuk pastei.

Ma besluit sy breek verdomp nie haar hande oor kos potte vir ’n man met ’n drankprobleem nie, en word net daar skeef voor die Kelvinator. Min weet sy daar’s klaar ’n broodjie in die oond.

Rooster

As die oggend jou dubbelsinnig in die oë staar en jy voel of jy nie deur die dag gaan kom sonder om alles in tamatiesous te verdrink nie, dan kry ek soms die gevoel dat ek ’n hoender moet rooster. Daar is op enige gegewe oomblik vyf gevriesde hoenders in my vrieskas wat Ma so saam met die voorskrifmedisyne en power tools by my voordeur insleep wanneer sy kom kuier.

Graag sit ek nie self die oond aan nie. Dit is nog splinter nuut en ruik na Sjina. Sommige Sondae, wanneer die onheil in my brein begin versamel, gee ek uiting met te veel speserye, te veel vindingrykheid en te veel emosies vir een bevrore hoender. Ek moet die kak uitbak.

My vriendin reken my emosionele wanbalans is uiters nadelig vir die hoender bevolking van die Limpopo Provinsie. Gewoonlik is een hoender genoeg. ’n Spesifieke onheilspellende Sondag, na ’n dramatiese liefdesteleurstelling, ’n onderonsie met Veet Hair Removal en ’n dramatiese episode Ally McBeal, druk ek sonder nadenke twee in die oond. Dit voel of die kak net nie wou uitbak nie, en ek pluk Ina, Marina en Robert se bestes uit die boonste rak en verkrag ’n tweeling pluimvee met oorvloed emosionele smaak. 

Geen mens is veronderstel om soveel probleme in ’n oond te druk nie. Maar rooster rooster ek my vandag emosioneel sinvol. Geen bykosse, net twee hoenders. Onthou ek, ek het niemand langs my in die bed om die hoenders meer te deel nie. Ironies, siende dit die rede is hoekom ek die pluimvee so te na kom in die eerste plek. Staan ek met ’n halwe bottel wyn en ’n benadeelde, dog smaakvolle hoender en ’n Men’s Health tydskrif voor my vriendin se deur. Sy maak oop, kyk op en af “ja-nee, die fokker het dit verdien, het Ina gehelp?” “Ja” sê ek, “Robert en Marina was ook daar”. 

Onthou, as ’n voël jou teleurstel, rooster twee.

Gemaklike skoene en gepermde hare 2

Hanno en Henk Pretorius. Tannie Meraai het nog swaar gesluk aan haar vierde Prozac vir die dag toe’s die tweetjies al op honeymoon. 

Ek weet nie wie’t wie gemoon nie, maar hulle is sak en pak in die afslaandak met 80 kilogram Country Road, twee ontwerpers sonbrille en Madonna se hele discography af Kaapstad toe. Tannie Meraai het die Prozac begin van onder af neem, want ná die gedoente het sy onophoudelik begin opgooi en kan niks anders as die Rum en toast inhou nie.

Maande later breek daar mense by die plaashuis in en steel haar enigste foto album van haar straight skoonseun, haar Glomail teflon braaipan, al die tuin dwergies, ’n asbes verwarmer en ’n Arzberg teestel. Ek dank die Here vir rowers met swak smaak. 

So haak haar kop uit na die sesde pil en sy pluk die haelgeweer uit en hardloop soos Eileen Vornos op National Coming Out Day rond en soek die misdadiger. Die dwergies was nog nie die plaashek uit nie, toe slaan sy die stadige een met die heater op die kop met die kolf teen die wang en hou die res met die loop op die grond.

Sy begin skree soos ’n dragtige kat met oggend siekte, toe pluk een van die werkers sy selfoon uit, skel die 112-I’m-on-teabreak-suster aan die anderkant iets van Madam white… Me black… gun… apartheid… box matches… and half loaf. Twee minute later staan daar ’n oorgewig blou blur op met ’n boksie vuurhoutjies, ’n half gevrete brood en twee stelle boeie in sy hand.

Tannie en Oom Meraai word daai nag in die tronk gegooi en sy tel onttrekking simptome, dubbele long ontsteking en ’n STD op. 

Oom Meraai het vir die volgende twee weke moeilik gesit. Tannie Meraai is die volgende oggend met ’n moerse smile daar uitgebail deur Marilize en haar Vriendin-wat-nie-kan-hare-perm nie. Oom Meraai is toe dokter toe, want die pyn in sy stoel het onuithoudbaar geraak, die ontvangsdame het gesê hy moet net ontklee en op sy maag gaan lê, Dokter Pretorius gaan nou daar wees. So gemaak kom Hanno die kamer binne geloop en vra, “was Oom nog ’n maagd?”

Die storie het die dorp rondgelê, Oom Meraai moes ’n rubber rektum kry en Tannie Meraai het aanhou kos aandra vir die gevangenisse. 

Marilize en haar Vriendin-wat-nie-kan-hare-perm nie het gaan kampgoed koop by Cape Union Mart en ek dink by myself, ja, dit kom nou van skinner. Kyk wie is nou aan die verkeerde kant van ’n bakhand.