Die kamer waarin ek staan, is pikdonker, en ek kan nie die dimensies daarvan bepaal nie. Dalk groot, dalk klein, maar ek voel dat daar mense rondom my is. Hulle is gesete in rye om my, en ek hoor hulle asemhaal, kriewel en skuif.
Ek staan op ’n lae verhoog, wat ek vermoed in die middel van die kamer is, en daar is ’n enkele lig wat skyn vanaf die plafon bo my. Die skerp, wit-geel straal verlig my hande wat bak voor my gehou word.
In die palms van my hande, weerloos, rus my hart.
++ Ek bied my hart weer aan. Kyk asseblief mooi na hom. ++
Geklee in glansige rooi lê hy saggies en klop. Loep-doep. Loep-doep. Die myokardium trek saam en ontspan ritmies, wat dit laat blyk dat hy wil begin hop, met die aanhoudende pomp van lewe wat deur hom bruis. Hy is nie groter as standaard nie, maar lyk sterk en goed ontwikkel. Die langafstandhardloop oor die afgelope paar jare het bygedra tot sy gespierde vorm. Hy kan my oor meer as honderd kilometer dra sonder om vreeslik te begin kla. “’n Goeie voorbeeld van ’n sterk hart,” hoor ek iemand in die gehoor fluister.
Maar kyk mooi. Kom nader. Neem daardie vergrootglas, en let hier en daar die kneusmerke. Die donkerder kolle wat net onder die glansige oppervlak lê, asof ru-olie daar dryf. En sien hier en hierso die letsels. Die steekwonde, gate, snymerke. Sommige van voor, en ander op die agterkant. Party van die wonde is oud en half gesond, en ander nog rou en bloederig. Party, soos hierdie een… wag, laat ek wys… lyk septies, besig om stadig geel te huil. Let byvoorbeeld op hierdie paar wat netjies toegestik is met gare, en dié een waar die eienaar nog besig is om die steke in te werk. Maar sien ook hier en daar, waar dele afgesny is. Daai een lyk asof ’n vlymskerp skalpel met chirurgiese vernuf ingespan is om ’n deel te verwyder. Maar kyk hierdie gaping. Rof en oneweredig. Skokkend, ek weet, asof ’n stomp voorwerp verwoed en desperaat gebruik is om ’n deel af te kap, voordat die stuk vleis op die grond laat val is.
In die palms van my hande, weerloos, rus my broosheid en verlies.
++ Ek bied my hart weer aan. Moet hom asseblief nie breek nie. ++
Kyk nou so bietjie dieper, en sien hoe die spiere daar pryk. Sommige is sag en soepel, wat geleentheid vir groei, aanpassing en verandering aandui. Ander is kliphard, soos die verskansing van ’n kasteel wat waak teen besering. Daardie tweede kategorie is meestal opvallend onder die letsels en wonde. Dit is huidiglik onduidelik of hulle verskuif of oorkom kan word. ’n Middel-kategorie wat moontlike verharding toon, is wel sigbaar onder die kneusmerke, met die finale uitkoms daar onseker. Ten spyte van die verharding wat plek-plek voorkom, klop hy steeds voort, met slegs minimale negatiewe impak.
In die palms van my hande, weerloos, rus my weerstand.
++ Ek bied my hart weer aan. Hou hom asseblief mooi vas. ++
Gee asseblief laastens jou aandag aan die diepste dele. Die kern. Let mooi op die vuur wat daar gloei. Die ewige en voortdurende geel-rooi van ’n fabriek waar yster gesmelt word. Kyk hoe spat die vonke sommige kere as hy klop, soos wilde, brandende flinders wat deur die binneste dele fladder en teen die wande van die atria en ventrikels bots. Gee net so bietjie tyd, wag, en dan raak dinge weer rustig, met die gloeiende vuur wat ’n hitte deur die kamers laat sypel. Die oorsprong van die vuur en die materiaal wat dit voer, is nie sigbaar nie, maar dit wil voorkom asof daardie voorraad nog lank sal hou. Al wat kort, is ’n ekstra paar hande om die vuur te stook.
In die palms van my hande, weerloos, rus my potensiaal.
++ Ek bied my hart weer aan. Hy is weerloos, broos en bang, maar wil weer vasgehou word. ++






