Loulierblare en Skoonfamilie

Martie het eendag, toe ons daar in haar winkel gesit en tee drink het, ‘n onskuldige opmerking gemaak wat die satan in my ontketen het. Sy sê die môre vir my dat skoonfamilie eienaardige goed is.

Ek sit haar en aankyk en ek dink. Martie sê later vir my dat sy skoon verbouereed geraak het, want ek het blykbaar ‘n aardige uitdrukking op my gesig gekry en haar só vir minute gesit en aangekyk. Sonder om ‘n woord te sê. Die vrees het haar later beetgepak, want dit was haar uitlating wat my geknelde gesig veroorsaak het en sy het nie ‘n benul gehad hoe om dit ongedaan te maak nie. Sy wag toe maar en naderhand sê ek uiteindelik, nadat ek my dink gedink het: “Ja, hulle is eienaardige goed. Nes lourierblare.”

Toe kry Martie ‘n eienaardige trek op haar gesig. Maar voordat sy my kan vra hoe ek skoonfamilie by lourierblare uitbring, trek ek, opgetêns en opgejaag vir jare, los met die verklaring van my duistere uitspraak en ek sê vir haar: “Weet jy Martie, toe ek destyds met Abraham getroud is, was ek ‘n bloedjonge meisie gewees – skaars twintig jaar oud.”

En Martie skuif vir haar reg met ‘n koppie tee, want sy sien hier kom ‘n bittere storie.  Ek sit en staar so verby haar, terwyl my lewensverhaal oor my lippe rol. Ek vertel vir haar dat ek as jong meisie dit nie maklik gehad het toe ek na my troue op die plaas geland het nie. Ek, wat geen dooie benul had van kook of bak nie, trou toe in ‘n skoonfamilie in waar bobaasbaksters hoogty vier. Hulle het my skoon ontsenu met hulle onverskillige gebruik van vreemde name soos spaghetti bolognaise, lasagne en paella en ek weet nie nog wat nie. Hulle sou enige Franse restaurantbaas opgewonde gehad het met hulle pragtige uitspraak van al die boheemse name.

“Martie, jy weet nie hoe ek gely het nie. Ek sê vir jou, ek het vir jare gebuk gegaan onder die bolognaise en lasagne hel. Ek het nie geweet hoe of waarvan die donnerse goed  gemaak word nie en vir ‘n resepteboek was ek so bang soos ‘n gans vir weerlig!”

Ek raak toe sommer driftig en sê vir haar dat my ma ‘n doodgewone boervrou was en dat ‘n resepteboek nie in ons huis bestaan het nie, want ons het elke dag goeie gesonde boerekos geëet. Nie ‘n spul wind met fênsie name nie! Martie sien ek werk vir my op en sy skink vir ons nog ‘n koppie tee.

“Man Martie, ek was later so vreesbevange oor al die donnerse vreemde geregte, dat ek nie sommer op ‘n Sondag by een van my skoonfamilie gaan eet het voordat ek nie uitgevind het wat op hulle tafels gaan wees nie.” Buiten dat ek doodsbang was dat die vreemde kos my maag aan die gang sou sit, wou ek nie ‘n skande oor my familie bring deur nie die geregte te herken as dit op die tafel is nie. As hulle my moes vra om die lasagne aan te gee en ek weet nie in watter bak die lasagne was nie, was ek net daar in my moer!

Nee, dit was aaklig gewees. Ek raak toe sommer bot en  hartseer en ek sê vir haar : “Dit was amper so vreeslik soos die lourierblare.” Martie sien dat die lourierblare swaar op my hart lê en dat sy my nie moet aanpor nie. Sy dink toe dat ek haar wel daarvan sal vertel as ek reg is daarvoor. Sy sit my maar en uitluister en ek vertel haar dat ek my mos op ‘n dag wip vir my eie onnoselgeit, en ek gaan soek vir my resepteboeke in die naaste boekwinkel!

Daardie dag was ek in vrees en bewing gewees! My moed het my ‘n paar keer amper begewe en ek het al my dae met myself gehad om te keer dat ek nie soos ‘n verskrikte springhaas by die boekwinkel uitstorm nie! Al die volksvreemde geregte wat ek daardie dag my oë opgelê het, sou van enige stoere Afrikaner ‘n joiner gemaak het. Die doodsweet het naderhand op my ganse lyf begin uitslaan. Maar gelukkig val my oog op díe angsvolle stadium op ‘n boek wat vir my met die eerste kyk vertroue inboesem. Ek tel die boek angstig op en lees die title: Kook en Geniet. En ag, die skryfster van die boek klink toe sommer vir my soos een van oorle ouma Joubert se vriendinne: S.J.A. de Villiërs. Ek slaan die boek oop en so met die deurblaai besef ek opnuut dat die vrou se voorletters vir ordentlike boerename moet staan. Die name van die geregte was soos heuning op my tong: Souskluitjies, pampoenkoekies, gestoofde beesstert, geroosterde hoender! Die heimwee na my ma se kombuis was naderhand te veel vir my.

“Martie, toe ek met daardie boek onder my arm by die winkel uitstap, toe voel ek soos ‘n oorwinnaar!  Man, die boek het sommer weer die vertroue in my Afrikaner volkie laat opvlam.”

Maar Martie raak naderhand ongeduldig, want ek sê niks van die lourierblare nie en sy vra my daarna. Maar ek praat aan en sy laat my begaan, wetende dat ek nog nie reg is vir die lourierblare nie.

Ek raak toe mos later lekker voorwaarts van al die vertroue wat die Kook en Geniet  vir my gee en ek gaan skaf  vir my ‘n paar van daai grênd resepte-boeke aan. Dis toe dat ek agterkom dat al die hogere geregte wat my skoonfamilie so Franserig oor hulle lippe laat rol, niks anders is as grênd name vir doodgewone boerekos nie.

“Aag Martie,” sê ek vir haar “spaghetti bolognaise is niks anders as die spaghetti en mince wat my ma altyd vir ons gekook het nie. En lasagne is net ‘n gewone vleis en pastagereg met ‘n doodgewone witsous tussenin. Die oorskietkos wat my ma altyd die volgende dag saam in ‘n pot gegooi en opgekook het, is niks anders as hulle paella nie.”

Maar toe bly ek stil en my gesig versomber sommer en Martie weet opslag dat die  lourierblaarstorie aan die kom is. My stemmetjie is ook sommer flou toe ek praat:  “Nee, al díe bose geregte van my skoonfamilie het ek sommer daardie tyd al onder die knie gekry.  Dis net die lourierblare wat my vir jare daarna nog gery het.”

Díe storie was vir my ‘n groot vernedering, want my skoonfamilie kon altyd vreeslik tekere gaan oor ‘n lourierblaar. Die manier waarop hulle oor ‘n lourierblaar gepraat het wanneer hulle resepte uitgeruil het, het my terstonds minderwaardig laat voel. “Oe nee, Anna,”  sou die een skoonsuster vir die ander een sê, “daardie gereg dúrf  jy nie sonder ‘n lourierblaartjie of twee maak nie.  Lourierblare bring die pikante geur van jou speserye na vore.”  En net daar het ek ineengekrimp, want ek het nie die vaagste benul gehad wat ‘n lourierblaar is of waar jy aan die ding kom nie.

“Martie, my vriendin,”  sê ek na aan trane. “Dit was ‘n nagmerrie! Ek kon later nie meer een van my grênd resepteboeke oopmaak nie, want elke keer as ek ‘n besonderse vleisgereg vir ‘n spesiale geleentheid soek, doem daar ‘n bliksemse lourierblaar in die resep op. Dan skrik ek vir my so buite weste, dat ek sommer pap en wors vir ete gee.”

My angs neem naderhand geweldige afmetings aan en ek begin later skelm in my skoonsusters se kombuise krap, maar nêrens kon ek my hande op ‘n pakkie of ‘n blikkie lê wat vir my ‘n aanduiding kon gee van waar hulle aan die blêrrie goed kom nie. Al hulle lourierblare was gebêre in pikante tuisgemaakte kruiebotteltjies wat geen taal of tyding opgehad het nie. En net daar kry ek snuf in die neus en begin op almal se groentetuine te spioeneer. 

Ek besef toe dat die lourierblare natuurlik ‘n baie delikate en skaars kruieplant is, wat net deur uitverkore vrouens met groen vingers gekweek kan word. En ek begin my ore en oë oophou en by elke koöperasie soek ek ongemerk na saad waarmee ek die gesogde plantjie mee kon kweek. Maar tevergeefs!

Toe bly ek eers ‘n bietjie stil, want ek voel hoe die vernedering deur my hele wese trek.  Ek staar eers ‘n hele‘n ruk by Martie verby voordat ek die moed vind om te sê: “En eendag soek ek peper in die supermark en daar staan ‘n pakkie lourierblare reg langs die peper!” My hart het geruk by die aanskoue van die vonds! En toe ek mooi kyk staan daar nog nége pakkies netjies in ‘n ry agter die eerste een. Ek het skoon van die peper vergeet en met bewende hande al die pakkies in my  mandjie gegooi. Oppad kasregister toe het ek om my rondgekyk of iemand my nie gesien het nie, want dalk was daar ‘n beperking op die hoeveelheid wat ‘n mens van die eksotiese krui mag koop.

Die vernedering het ‘n blywende letsel op my gees gelaat, want later het ek soos ‘n aap agtergekom dat lourierblare net so vrylik beskikbaar is soos sout. Ek het dit net nooit in die winkels raakgesien nie, want ek het nooit kon droom dat díe unieke blaar in supermarkte te koop sou wees nie.

“Nee,” sê ek later, lekker moerig, vir Martie toe ek opstaan om te ry, “skoonfamilie is nes lourierblare – simpel eienaardig en donnerswil doodgewoon!”

Oom Willem en die Spietkop.

STORIE TWEE UIT PLATPLEK SE MENSE

Vanuit Solly’s Furniture het ons vier die kleurvolle, gure en ongure karakters van Stofbultlaagte gade geslaan. Ons het elke doen en daad van elke karakter meelewe deur ons eie oorsaak en gevolg daaraan toe te skryf. Nee, ons het nie geskinder nie. Ons het mense met deernis bespreek het, want ons het nie meer die voortvarendheid van die jeug gehad om sommer ‘n oordeel te fel nie en nog nie die wysheid van die ouderdom om ‘n oordeel uit te spreek nie.

Nee, ek het dit mooi gestel – ons het mense met deernis bespreek. Soos die oggend toe ons in die winkel gestaan en regmaak het vir oom Willem se begrafnis. Ek sê díe môre vir Martie, Retha en Linda was nog nie daar nie, dat ‘n mens jou nooit moet aanstel nie, want dit kan jou donners suur bekom. Maar sy antwoord nie. Kyk ook nie vir my nie. Knik net effens instemmend en ek sien dat sy ook glad nie lekker is oor oom Willem nie. Na ‘n hele ruk, toe haar hoed volgens haar vereistes sit, sê sy sag: “Ja, en dis jammer dat almal dit nie weet nie, want die mense van hierdie plek kan hulle blêrrie opstêrs hou as hulle die dag lus kry.”

Ek sê toe sy’t reg en ek wonder hoekom die mense hulle so aanstel, want feitlik almal hier is maar net boere. “Dis hoekom,” sê sy, “Of hulle arm of ryk is maak nie ‘n moer verskil nie, want die ryk boere stel hulle aan omdat hulle boer en ryk is en die arm boere stel hulle aan omdat hulle boer en arm is. Soort van pretige geword om te ly onder die droogtes en ellemente en ellende.”

Ek kry die feeling van haar woorde en ons raak op dreef oor ons mense se aanstellerigheid en hoe dit jou inhaal. “Kyk nou maar vir oom Willem wat hom so aangestel het teenoor die spietkop”, sê ek. En Martie sê net: “Ja, ‘n lelike ding”

Een van Stofbultlaagte se vier strate is die grootpad wat dwarsdeur die plek loop, met die paar algemene handelaars en vulstasies en so aan weerskante. Die spoorlyn steek die pad reg in die middel van die dorp oor, met die kerke aan die linkerkant en die hotel aan die regterkant van die spoor. Ek dink dit is oor daardie verdeling dat daar altyd sulke onheilighede in die hotel se kroeg aangaan. Dringende Boereverenigingvergaderings in die aande met skelm gereëlde strippers uit die voorwêreld, en die volgende môre loop al wat boer is met blinkertjies op hulle baarde rond.

Maar dit daar gelaat. Oom Willem Petoors, (‘n moeilike baas-op-my-plaas-mannetjie) ry glo een middag so teen drie-uur se koers oor die spoor en onskuldig ook, volgens oom Willem. (Weet nou nie of hy bedoel het van die hotel of wat nie). Weet nie, maar hy sien toe nooit die verdommende mannetjie wat homselwers met ster beplakte kar en al daar op die platte aarde in die lang gras langs die spoor, skuilhou nie.

Toe hy nou so feitlik heeltemal onskuldig oor ry, spring die ge-univormde verskrikking voor  hom in die pad en hy moet woes uitswaai om nie die vent so plat soos ‘n vlakvark te ry nie.  Maar, reken oom Willem, met ‘n gewete oor `n dooie fokken spietkop sou hy sonder gesukkel kon saamleef. Hy’t maar so weggeswenk om verby die mannetjie te kom, want as hy moes stop waar die poepol hom wou laat stop, het sy kar se boot nog oor die spoor gehang. Nee, hy kry toe sy stop waar hý hom wou kry – deeglik van die spoor af en die spietkop loop die sestig of wat treë na hom toe aan. En met die uitklimslag dag hy dat hy wat Willem Petoors is hom nie laat stop deur `n goewermentsamptenaartjie wanneer hy geen planne had om te stop nie en hy gaat staat  sy staat voor die affêre! Díe sê toe vir hom of  hy weet dat hy `n verkeersoortreding begaan het en oom Willem kyk so deur die stof oor die verlate strate en sê hy weet nou nie, maar waar is die verkeer waaroor die neef so tekere gaan?

Die verkeersman beduie toe lekker beneuk dat die oom oor die spoor gery het sonder om eers stil te hou en te kyk of daar treine aankom. Toe kyk oom Willem die man aan of die son sy breinvloeistof daar tussen die lang gras brak gebrand het. (Stofbultlaagte het nie bome nie). So in die kyk vra hy die mens of hy weet hoe laat dit is en die mens sê ja en kyk op sy  grênd horlosie en sê dis vyf oor drie. En oom Willem kyk hom weer – net erger hierdie keer, so of sy breinvloeistof nou heeltemal verdamp het! En hy maak sy stem koud. So koud soos die minister s’n as hy die begroting oor die draadloos lees. Hy sê vir die rafeltjie dat hy wat Willem Petoors is, al vir baie jare op díe plek bly – so baie jare dat hy al vergeet het hoeveel en dat daar in al daardie jare net twee treine elke dag oor diè spoor loop: die kalktrein om tienuur in die môre en die lemoentrein om vyfuur in die middag en die kalktrein is al verby en dit is nog twee donnerse ure voor die lemoentrein kom. Oom Willem beduie bemoerd met sy een arm op met die spoor en hy sê vir die rafel : “Wil jy vir my sê dat ek hier moet stop soos `n donnerse fool terwyl hierdie spoor vir ‘n honderd myl na die weste,” en hy beduie met sy ander arm af met die spoor, “en vir ‘n honderd myl na die ooste toe bar lê?!” Toe klim hy in sy kar en los die oorblufte spietkop net daar.

En daar staan ek en Martie die oggend en voel aardig om later in oom Willem se begrafnisstoet oor daardie einste spoor te ry. Met die uitbreiding van die kalkmyn, het daar verlede week ‘n ekstra trein begin loop en oom Willem het nie daarvan geweet nie.

Martie sluit die winkel se deur agter ons en sê met ‘n sug: “Ja, aanstellerigheid is ‘n verdomde ding. Noodlottig ôk.”

Stofbultlaagte.

STORIE EEN UIT PLATPLEK SE MENSE

As ons vier jonge vrouens dit nie vir onsself lekker gemaak het nie, sou ons sowaar as wat whiskey lekker is, vergaan het van sielsellende en intellektuele verdroging op daai stofbesonke vlakte rondom Stofbultlaagte. Soos die Hollanders dyke bou om die verwoestende see uit hul vlakke land te hou, het ons verwoed wal gegooi teen die versmorende uitwerking van allerverskriklike droogtes, ellendige misoeste, paniekmakende boerderyskuld en suipende mans. Ons het vernederings voor bankbestuurders en skuldeisers en depressieaanslae wat soos donker stofstorms in die gees wou woed, afgeweer met baie lag en ons menswaardigheid behou deur die eienaardighede van die lewe en die mensdom om ons op te tel en deel te maak van ons eienaardige  lewensrepertoire.

Stofbultlaagte was ‘n bittere klein dorpie. Daar was twee kerke, ‘n hotel, een drankwinkel en een slaghuis. Dan was daar drie ander winkels. Maar hulle was nie rêrige winkels nie. Hulle was Algemene Handelaars – General Dealers – Wholesale to the public – winkels en het behoort aan mense wat plase gehad het voor een of ander droogte.

Ek, wat as gevolg van my ma se renons in familiename net Lizette heet, was getroud met ‘n hardkoppige en totaal huis-en-vaderafwesige saaiboer, wat vreeslik lief was vir sy dop. 

Martie het ‘n baie eienaardige, stowwerige en deurmekaar winkeltjie op Stofbultlaagte bedryf. Haar winkel se naam was Solly’s Furniture. Daar het sy alles verkoop wat enige mens mog nodig gekry het vir sy handel en wandel oor die aarde. In die een deel van die winkel het sy mieliemeel, mout, surf, cheap deodorant, chappies en ander sweets en plastic oorbelle en krale verkoop. In die agterste deel was tweedehandse meubels en voor in die linkerkantste hoek was rêrige boetiek klere, wat sy in die voorwêreld by modeparades gaan koop het. En daar het ons gekuier.

Die derde lid van die sielsvasbyters is die lawwe Retha. Sy was seketaresse van ‘n skool op die groot dorp en het die skoolbus bestuur. Haar man het bande verkoop en verskriklik gedrink. Retha het haar Kode 10 bestuurslisensie gehad waarop sy baie trots was en waarop sy haar ook gou beroep het, wanneer daar gebrêk was met geleerenthede en hogere poste en dies meer. Linda, die vierde lid, het ‘n lucky escape gehad toe haar man haar op ‘n vroeë ouderdom weduweestatus gegee het. Sy het alleen en in vrede op haar plaas met die mooi naam, Delft, geboer.

Alhoewel ons vier soos tropdiere saamgestaan het teen roofdier en gevaar en ander sielsbedreigende onheile en ongeregtighede, het ons eintlik in pare geloop. Linda en ek in een paar en Martie en Retha in die ander paar. Ons was jonk en gedug – alleen, of in pare, of in ‘n trop. Ons het gedeins vir niks en meestal vreesloos en sonder geveins ons pad bewandel. Ek sê meestal, (want daar was tye, soos die dag toe ek en Linda in die stof tussen haar verdroogde mielies gesit en huil het), dat die selfverloënde sagtheid van ons vroue siele net nie meer kon terughou nie.

Ons het uiteindelik na baie jare, een vir een, van die lekker, maar meestal sinkplaatgeryde stofpaaie wat ons so saam bewandel het, afgedraai op teerpaaie wat kilometers tussen ons gesit het. Martie en haar man het die vlakte armoede gaan fnuik met Cash Loans in Pretoria. Linda is met ‘n ingeneur getroud en het haar plaas verkoop en na ‘n ander dorp, ‘n hele ent van die vlakte af, getrek. Retha, wat êrens langs die stofpaaie haar wiskeybeleë man ter aarde betsel het, is later met ‘n veel jonger man getroud en het in die groot dorp daar naby gaan bly. En ek…. ek het my afwesige en wiskeyliefhebbende eggenoot lewendig verlaat, vir ‘n aptekertjie van die groot dorp….   ‘n Vrou….

Maar, al het ons teerpaaie ons in verskillende rigtings geneem, is ons vandag nog beste vriende en kan ons opruk uit alle windrigtings as een ‘n noodkreet gee.

I Know

I know rejection and judgment well

I had to live with it
Through all hardship

The pain
I carried alone
The long lonely years of illness caused by evil

I know betrayal
Being used, humiliated, criticized

And acknowledgement
Ever withhold
Until no self-worth remained

I know rejection and judgment well

I had to live with it
Because of gossip and lies

I had to live with it
Because a straight path I insisted to walk
Spoke my truth with strong emotion

I had to live with it
Even after times of need when I turned up before even asked

I know rejection and judgment well
With compassion I wish you well
‘Human’ Beings

May You Be Blessed!

My liewe ex [1996]

Vanoggend toe jy ons seun hier by my huis kom haal het, was ek so jammer dat jy moes ry. Dit was lekker om weer met jou te gesels, om weer die bekende hande en gesig te sien. Ek wou nog meer met jou gepraat het. Gehoor het hoe dit regtig met jou gaan, waarmee jy deesdae jou tyd verwyl en wat in jou lewe gebeur. Maar jy was haastig en die enigste stukkie lewe wat ons nou deel, het saam met jou in die kar geklim en jou wêreld ingery. Ek het in myne agtergebly en tot die vreeslike besef gekom – ons loop nou elkeen ons pad alleen my Lam. 

Jy weet, ek het gedink dat ek eendag oor die egskeiding sou kom, maar na hoeveel jaar is ek nog nie heeltemal daaroor nie, en ek weet nie of ek ooit regtig daaroor sal kom nie. Al wat ek bereik het die afgelope tyd, is om tot die regte perspektief te kom. Die regte perspektief oor wat met my en jou gebeur het in ons huwelik van soveel jare. Ek het ook ’n baie ou waarheid ontdek – dat die huweliksband deur God self gesmee is, en al breek die mens dit hier op aarde, bly daardie band tussen man en vrou, al maak hulle wat. Dit besef ek elke keer as ek jou sien. Jy bly my man, al sê ’n koue hofbevel dat dit nie meer so is nie. 

Ek wonder baie keer as ek en jy ons lewens kon oorkry met die kennis en begrip en ondervinding wat ons vandag het, of ons huwelik weer op ’n egskeiding sou eindig. Ek glo nie. Want die dag toe ons getroud is, het nie ek of jy dit in ons beplanning gehad om ooit te skei nie. Maar dinge het skeefgeloop. Dinge wat dalk nie weer sou skeefloop as ons ons lewens sou oorkry nie. 

Waaroor het dit alles gegaan? As ek vandag terugkyk op ons lang getroude stryd, voel al die woede en baklei en trane so onbenullig. Was die dinge waaroor ons so gestoei het, al die gestoei werd?  Was dit regtig nodig om mekaar se siele so uit te ryg totdat net die barre kilheid tussen ons oorgebly het?  Ons het elkeen sy eiegeregtigheid en sogenaamde kennis van reg en verkeerd soos ’n purper kleed om ons gevou en nooit agtergekom hoe ons mekaar daarin versmoor nie. En as daar nog ’n wenner uit die stryd getree het…… Maar ons sit altwee as verloorders langs die pad wat ons gedink het ons loop alleen. Ons het nooit besef dat ons, al was ons aan weerskante van die middelmannetjie, tog die pad saam geloop het nie. 

En vandag het die gras die onkruid doodgegroei, want ek onthou net die lekker en die mooi. Dit spring tydig en ontydig soos groen spruite in die brandveld op, terwyl ek vir die sleg en die swaar, doelbewus in die as moet gaan rondkrap. 

Ek is jammer oor al die lelik in ons huwelik waarvan ek die oorsaak was. En ek is jammer oor die seer wat ek jou aangedoen het met die egskeiding. Ek hoop ek sal eendag in daardie sagte oë van jou kyk, en ’n bietjie vergifnis sien. 

Vergeet

Genade is

Alzheimer in die najaar

Geen onthou van

Storms en bliksemstrale

Waarmee jy pyn gegee het nie

Geen stofstorms waarmee jy siele besoedel het nie

Geen vloede 

Geen droogtes

Geen verkeerde rigtings

Net ‘n dolleeg vol saligheid 

Die Boer

Met die seisoen verby
en jou oë sku en weer vol pyn,
moet ek magteloos toekyk
hoe die moed in jou nog verder kwyn.

‘n Blink trofee vir jou handewerk
was die oes op vrugbare land,
maar êrens het die reën vertoef
en die son het jou trots verbrand.

Ag, lyk nie verleë
dit is nie jou skuld.
Kyk, jou hande bars al
en die eelte bult.

En al staan jy nou tussen droë katoen
Godverlate, moeg en stom,
sal ek jou later tog hoor sê:
volgende jaar sal die reën weer kom.

Lizelle Jacobs 1992

Reënrympie

Met die eerste koel druppels
se val op die sink
het dit stil in die plaashuis geword.
En ‘n skielike vreugde,
‘n dankbaar gebed
het in elkeen se hart opgeklink.

Te bang om te praat
die reën kan dalk wyk,
het die boer oor die velde gekyk.
Maar die donkerblou wolke
het mildadig geskink
en die twyfel in stroompies verdrink.

Dit reën, dit reën
het die wind skaars gefluister
en speels aan nat blare gepluk.
Nie klaar met sy spel
‘n wye draai gaan gooi
en sy bors teen die reën aangedruk.

Na ure se korswel
met die stuitige wind
het die reën uiteindelik bes gegee.
En skaam het die son oor sy vroeëre geweld
van agter die wolke getree.

Wysheid en Old Age

Daar word gesê: ‘The youth is wasted on the young’

Wat baie waar is.

Maar ek as ouer vrou kan vandag sê: ‘Wisdom is wasted on the old’

Hoe ouer ‘n mens word, hoe meer insig kry jy in die lewe. Dit wil sê hoe meer wysheid verwerf jy. Maar dit is te laat. Jy het reeds jou foute gemaak en kan nie jota of titel daaraan verander nie. Die jonger geslag wil niks van jou wysheid hoor of glo nie. So, jy sit met jou bietjie wysheid soos ‘n aap op ‘n kluit. En met jou baie foute wat jy gemaak het, omdat jy self te wys was om uit ouer mense se lewenslesse te leer.

Jy vergeet nooit daardie foute nie. Op jou kluit leer jy maar om daarmee saam te leef.  Dit loop langs jou, soos die bose aan jou hand.

En die booste van alles aan jou hand, is die foute wat jy met jou kinders gemaak het. Onomkeerbare foute, wat jou as ouer duur te staan kom.

Die Baby Boomers, soos ons geslag genoem, of liewer, geskel word, soek wegkruipplek in baie dinge, want ons geslag het tot dusver nog die grootse besef van ons foute wat ons gemaak het. Ons geslag is die eerste geslag in die geskiedenis van die mens, wat gebore is met ‘n gewete! En lyk dit vir my ook die laaste.

Party van ons soek wegkruiplek  in godsdienste. Party in drank. Party in pille. Party in aanhoudende werk. Party in ‘n kombinasie van sommige. Maar die bose los nie jou hand nie!

Elke keer as jy met jou kinders praat oor ‘n selfoon en erger, elke keer as jy hulle sien en hulle met jou oë en ore en wese beleef, word jy gekonfronteer met jou foute. Jy sien dit nie net nie, jy voel die foute wat jy gemaak het. En die skuld en verwyte druk dan eers onuithoudbaar op jou hart en laat jou skouers krom trek van pyn en depressie.

Wat nog seerder is, as dit moonlik is, is wanneer jou kinders niks van jou wroeging wil weet nie. Jou nie één kans wil gun om te bely, te verduidelik en om vergifnis te vra nie. Die één ding wat jou las ligter sal maak en jou weer met ligte tred deur die lewe sal laat gaan.

Ek weet daar is uitonderings. Daar is ouers wat gebless is met oop kinders en oop verhoudings met hulle. Ek dink dit is ouers wat min foute met hulle kinders gemaak het!

Ja, die feit sal ek as die waarheid kan verkondig. Maar daar is ‘n ander waarheid ook. Ek het in my leeftyd mense beleef wat uit die mees afgryslikste dysfunctional huise gekom het en wat meer onaardige ouers het as ander, wat goeie oop verhoudings met hulle ouers het en wie se samehorigheid hulle geniet en kosbaar troetel.

Nou vra ek myself af: Waar lê die probleem? Ek weet nie. Daardie wysheid het ek nog nie bekom nie en sal seker nooit.

Miskien moet ons oues van dae ophou kla omdat ons min hoor van ons kinders en hulle omtrent nooit of glad nie sien nie. Dit ís alleen en seer. Baie seer. Want die liefde van ‘n ma vir haar kind, is seer. 

Maar miskien is dit eintlik genade.

Jy word ten minste minder face-to-face gekonfronteer met jou foute, skuldgevoelens, verwyte en pyn.