Afrikaanse & Engelse skryfwerk

Nuwe stukke, wanneer hulle gebeur

Rooi lynsketstekening van ’n gespierde man in ’n frokkie met die woorde STOP KILLING HER op sy bors

Hulle is monsters en hulle braai saam met ons

Rooi lynsketstekening van ’n gespierde man in ’n frokkie met die woorde STOP KILLING HER op sy bors

Vir die ordentlike ou by die braai wat saamgelag het, en vir elke man langs hom wat niks gesê het nie.

Terwyl die lyke van vroue in en om Kempton Park bly opduik, al minstens nege, het generaal-majoor Fred Kekana, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris van Gauteng, voor die kamera vir vroue en meisies gesê hulle moet in groepe loop, afgeleë plekke vermy en hul oë oophou.

Nie ’n woord vir die mans nie. Niks van “praat met jou pelle” nie. Die raad was vir die vroue: wees versigtiger, wees beter voorbereid. Dis die minirok-argument met ’n polisiekenteken op, en dit sê vir jou presies waar hierdie land dink die verantwoordelikheid lê.

Ek het die afgelope tyd ’n paar keer met mans hieroor gepraat, en amper elke gesprek eindig op dieselfde plek: by die regering. Die polisie moet beter werk, die howe moet vinniger wees, iemand moet iets doen. Ek stem saam, die polisie moet beslis beter werk. Maar die regering weet klaar presies wat aangaan. Jy kan môre voor die president gaan sit en hom alles vertel wat jy weet, en dit sal niks verander aan wat Vrydagaand oor ’n bier gesê word nie.

Want dáár lê die probleem, in die kop van die gewone man op straat, en geen regering kan met wetgewing daar inkom nie.

Hierdie stuk is dus vir die ou wat langs jou in die trein of die vliegtuig sit. Ordentlik, goed geleerd, “een van die goeie ouens”. Hy sal nooit ’n hand teen ’n vrou lig nie, maar hy is so deurweek van die manier waarop mans oor vroue praat dat hy nie hoor wat by sy eie mond uitkom as hy saam met sy pelle is nie. Elke keer as niemand hom daaroor aanspreek nie, maak ons dit ’n bietjie meer normaal om vroue soos tweedeklasburgers te behandel, een bier op ’n slag.

Die lat lê op die grond

Iewers langs die pad het ons die lat vir ’n goeie man so laag gesit dat jy daaroor kan struikel. Jy het nog nooit iemand verkrag, jou meisie geslaan of ’n vrou vermoor nie? Baie geluk, jy voldoen aan die toelatingsvereistes om ’n man te wees.

Jy ken die ou gesegde dat die kwaad wen wanneer goeie mans niks doen nie. Ek sou dit anders stel. Wanneer goeie mans niks doen nie, is hulle nie goed nie, en hulle is ook nie mans nie.

“Maar gaan dit die verkragter verander?”

’n Vriend van my, ’n man, het hieroor met my gestry, en dis ’n “regverdige” punt. Stel jou tien ouens voor wat in ’n kroeg sit en drink, en een van hulle is ’n verkragter. Hulle weet dit nie; vir hulle is hy net die ou met die… effens “skewe” grappe. Iemand maak ’n neerhalende opmerking oor ’n vrou, en my vriend staan op en sê dis nie reg nie, jy moet jou skaam. Die verkragter gaan dit in elk geval doen, het hy gesê. Gaan ’n uitbrander iets verander aan ’n man wat, soos hy dit gestel het, boos is tot in sy DNS?

Seker nie, en ek is nie naïef daaroor nie. Maar hoekom het ons besluit die verkragter is die enigste een in daardie kroeg wat tel? En hoekom sit hy nog in die kroeg?

As dit sy gewone kroeg is, en sewe of agt mans sê elke keer as hy sy mond oopmaak dieselfde ding vir hom, is hy vroeër of later nie meer welkom daar nie. Dalk sit daar ’n vrou by die volgende tafel wat hom nie ken nie, en nou weet sy hy is nie veilig nie. Dalk is daar ’n jonger ou in die groep wat vir die eerste keer agterkom dat jy niks by ander mans wen as jy so oor vroue praat nie. Jy gaan die man nie regmaak nie. Maar jy kan sy skuiling wegvat, en ’n kroeg wat hom nie meer beskerm nie, is ’n veiliger kroeg vir elke vrou daarin.

Daar is nog iets waaraan mans nie dink nie. As ek ’n ou in my kring inbring wat ek weet ’n bietjie twyfelagtig is, dalk ’n grootbek, dalk net ’n bietjie vulgêr, die een met die grappe wat, jy weet, amper aanvaarbaar is, sê ek vir elke vrou daar dat hy veilig is. Hulle vertrou my, so deur my vertrou hulle hom. Ek het vir hom ingestaan sonder om ’n woord te sê. Dis dus ons werk om hom die deur te wys en vir hom te sê hy hoort nie hier nie.

Wie swyg, stem saam. Jou stilte sê vir hom wat hy gesê het, is reg, en hy kan maar so aangaan.

“You are such a girl”

’n Paar maande gelede het ek iets hiervan in myself raakgesien, en dit was nie lekker nie.

Ek was besig om te oefen, my afrigter het iets gedoen, en ek het gesê: “Ha ha ha, you are such a girl.” ’n Paar dae later kyk ek ’n fliek, en iemand prys ’n vrou met: “She’s the man.” Toe val die sjieling. As ons wil sê iets is sterk of goed, is dit ’n man. As ons iemand wil afkraak, noem ons hom ’n meisie. Twee woorde, en die hele rangorde sit reg daar.

Ek is grootgemaak deur ’n ongelooflik sterk lesbiese vrou. Sy het my geleer hoe om vroue te behandel, en as ek dit verkeerd gedoen het, het sy my, by gebrek aan ’n beter woord, opgef%&k. Ek het nog nooit geglo vroue is swakker as mans nie, en tog het daardie bietjie vrouehaat in my woordeskat gesit, vermom as ’n grap, totdat ek dit raakgesien het. Ek sal dit nooit weer sê nie. Ek soek nie ’n medalje daarvoor nie. Ek vertel jou omdat, as dit in my kon inkruip, sit dit ook in jou.

Sit nou daardie grap in ’n sitkamer. Oom Rooigesig sê die ding waarvoor almal al twintig jaar lank beleefd lag, en hy dink dis onskuldig. Daar sit ’n seun op die mat wat hoor meisies is swak en mans is in beheer. Daar sit ’n meisie op die bank wat hoor sy is swak en het ’n man nodig om haar te beskerm. Jare later ontmoet hulle mekaar, en hy dink hy besit haar en kan met haar maak wat hy wil. Niemand het hulle ooit eenkant toe geroep en daardie simpel idee in hul koppe gesit nie. Hulle het dit by Oom Rooigesig gekry, en by elke man in die vertrek wat dit laat verbygaan het.

Ek was gelukkig met my ma. Baie seuns is grootgemaak as klein prinse wat niks verkeerd kon doen nie, en hulle word mans wat dink om ’n vrou te beheer is net hoe dit werk.

Nie alle mans nie

Ja, nie alle mans nie. Ons weet. Gaan sit.

Kyk nou van die ander kant af daarna, met ’n beeld wat nie myne is nie, maar wat ek nie uit my kop kry nie. Sit honderd sjokolades in ’n bak en sê vir my een van hulle is ’n drol met sjokolade oor. Ek steek nie my hand in daardie bak nie, jy ook nie, en niemand sal jou paranoïes noem nie. En iewers in die vertrek sit ’n ander ou wat presies weet watter sjokolade die drol is, en hy sê niks nie. Dit bly “alle mans” totdat dit geen mans is nie, en die enigste manier om by geen mans uit te kom, is as die goeie ouens die drol begin uithaal in plaas daarvan om te kla dat niemand die sjokolades wil hê nie.

As ’n vrou dus praat oor hoe bang sy vir mans is, hou op om te kyk of jy persoonlik een van die gevaarlikes is, en vra jouself wat jy doen as jou pel een is.

Vriende van vriende

Sewe vroue het my al vertel dat hulle seksueel aangerand is. Drie van hulle was totale vreemdelinge vir my. Vier is vriendinne, uit ’n vriendekring wat nie baie groot is nie.

Nie een van daardie stories het gegaan oor ’n vreemdeling wat van die straat af inbreek nie, al is dit hoe die meeste mense dit voorstel. Dit was jong vroue op universiteit, en die mans was geleerde ouens met goeie vooruitsigte wat na dieselfde universiteite gegaan het en eenvoudig nie die woord “nee” gehoor het nie, of dit nie wou hoor nie. ’n Vriend van ’n vriend. En moenie vir my sê sy vriende het geen idee gehad nie. Hulle het geweet hoe hy oor vroue praat. Hulle het dit gehoor en laat verbygaan.

Vrouehaat het nie ’n kleur, ’n graad of ’n poskode nie. Geen skoolgeld is hoog genoeg en geen voorstad deftig genoeg om dit uit te hou nie.

Hoekom vertel hulle my? Dalk omdat hulle veilig voel by my. Dalk omdat ek gay is, sodat hulle weet ek gaan niks probeer nie, en ek gaan nie met “nie alle mans nie” antwoord nie.

Hoekom ek nie eenkant staan nie

Ek kan baie maklik my hande in onskuld was. Ek slaap nie eens met vroue nie. Ek kan sê dis ’n probleem vir vroue en die hetero mans met wie hulle uitgaan, iets simpatieks sê en met my lewe aangaan.

Maar ek weet wat dit beteken as iemand wat nie self geraak word deur wat jy deurmaak nie, tog langs jou kom staan. In De Waterkant in Kaapstad is daar ’n reënboog-voetoorgang op die pad geverf. Ek het ’n artikel daaroor geskryf en op my sosiale media gedeel, en ek kan die mense wat nié queer is nie én dit gedeel het, op een hand tel. Ek is ’n grootmens, ek weet wie ek is, en ek is groot genoeg om na myself te kyk, so daardie oorgang is nie eintlik vir my nie. Dis vir die agtjarige wat in die kerk sit en hoor hy of sy gaan hel toe, wat dit sien en dink dit word dalk beter. Wanneer iemand dit beskadig, soos hierdie maand al twee keer gebeur het, kry daardie selfde kind die ander boodskap: dat daar iets met hom of haar fout is. En dís die boodskap wat op selfbeskadiging uitloop.

Woorde en tekens skep veilige plekke, en hulle gee hoop. As ’n man in ’n groep sy mond oopmaak, sien die vrou in daardie groep dat iemand na haar kyk. Sy voel ’n bietjie minder alleen, en ’n bietjie meer in staat om self iets te sê.

En dit maak my die moer in dat dit altyd dieselfde mense is wat baklei: vroue, mense van kleur, queer mense. As jy nog nooit vir jou stemreg, jou reg om te trou, jou sitplek op die bus of jou veiligheid hoef te veg het nie, weet jy nie regtig hoe om by iemand anders se stryd in te val nie. Dis maklik vir ’n hetero ou wat nog nooit ’n vrou verkrag of vermoor het nie om te besluit dis nie sy probleem nie. Maar jou pel het waarskynlik iets gedoen, en jy het weggekyk toe hy ’n grap daaroor gemaak het.

Mans luister na mans

Ek het vir ’n vriend ’n video gestuur oor mans wat mans volg, die Andrew Tate-kultus. Hulle noem hulself “alfas”, en wanneer die eerste ou vir hulle sê val plat en gee my tien, val hulle plat en gee hom tien, want wat hulle eintlik soek, is ’n leier.

Gee dan vir hulle een, ’n beter een. As jy ’n ou is na wie ander ouens opkyk, die rowwe, manlike “ALFA”-tipe (ek f%&kken gril vir daardie woord), by die gym, op kantoor, op die veld of op Instagram, het jy meer invloed hierop as enige politikus. Jy hoef nie eers voor ’n kamera te praat nie. Deel net die plasing. Jou tydlyn vul met waarmee jy ook al omgaan, die mense wat jou volg, sien dit ook, en iewers tussen hulle is een ou wat nog nooit oor enigiets hiervan gedink het nie. Verander een d**s se kop, en dalk word een vrou nie verkrag nie, word een meisie nie groot met die idee dat sy minder werd is nie, en word een seun nie ’n Oom Rooigesig nie. Daardie ruil vat ek elke keer.

Sê dit by die braai, in die WhatsApp-groep, in die kleedkamer, en by die familie-ete wanneer Oom Rooigesig begin. Sê dit waar die mans wat dit moet hoor, regtig is, en sê dit voordat ’n vrou dit moet sê.

Ja, dis ongemaklik. Dit kan jou ’n vriend of twee kos, wat in elk geval nie jou vriende moes gewees het nie, en dis ’n baie klein prys teenoor nog ’n vrou wat verkrag of vermoor word. En watter ongemak jy ook al voel, is niks teenoor waarmee vroue elke dag saamleef nie: in groepe loop, vir iemand sê waar hulle gaan wees, die foon in die hand hou, en uitwerk watter man in die vertrek veilig is nog voordat hulle gaan sit het. Dalk moet ons almal baie meer ongemaklik raak, want niks anders het gewerk nie.

Ek kan nie belowe dat dit ’n verkragter sal keer as jy ’n opmerking uitwys nie. Ek weet wel wat stilte doen, en dis f%&kkol, behalwe om vir hom te sê hy kan maar aangaan.

Wanneer goeie mans niks doen nie, is hulle nie goed nie, en hulle is ook nie mans nie. Hulle is monsters, en hulle braai saam met ons, kyk die Bokke saam met ons, en ons sê vir ons vriendinne hulle is lekker ouens.

OUENS, MANS…

Ek SMEEK jou, veral as jy ’n klomp volgers op sosiale media het: deel ASSEBLIEF die plasings wat vroue, en ander mans, oor hierdie probleem maak, plaas self iets daaroor, en nog beter, sit jouself voor die kamera. Ons het meer goeie mans nodig wat hul gesigte wys, sodat die seuns wat na die Andrew Tates van die wêreld kyk, joune ook sien. Dalk blaai hulle volgende keer reguit by hom verby, want nou het hulle gesien hoe ’n man regtig lyk, hoe hy optree en wie hy beskerm.

As jy voel hierdie stuk is ’n aanval op mans: dit is. En dan is jy nie net deel van die probleem nie, dan is jy die probleem.

Lees volgende

heksedans - Willem Jacobs

heksedans

– Intussen dans ons godeloses soos hekse en heidinne op dwelms in grotte en woude om die sondes wat hulle in god se naam pleeg uit te weeg.

Lees meer / Read more