Tant Agna was nie iemand waaroor mens sou vuisslaan om in jou familie te hê nie. Haar man Oom Giep was ook vreeslik onsmaaklik.
Op haar begrafnis was daar nie baie mense nie, as dit nie vir Avbob was nie was ons regtig ’n klein skare. Daar was nie veel om te erf nie, so ek weet eintlik nie wat ek daar gesoek het nie, nie dat ek in elk geval iets sou kry nie. Ek dink ek wou tot ruste kom oor ’n paar goed.
In standerd vier het ek net ná Kersfees vir haar gesê ek en my hond gaan op haar graf kom urineer. Ek het dit nie toe so mooi gestel nie. Die hond is intussen dood. Pa het hom geskiet oor hy die skape gevang het, dit was nogal traumaties, ek sien tot vandag toe nog elke Woensdag vir Dokter Kriegler.
Soos haar kis tussen hemel en hel in die lug hang, wonder ek of hulle haar lippe aanmekaar gegom kon kry. Oom Giep kon dit nooit regkry nie en dis ook hoekom sy vandag vir die wurms gevoer word. Ek dink my teenwoordigheid by dié vreugdevolle seremonie het baie te doen gehad met Tant Agna se groot bek. Sy’t almal beskinner en was ’n regte ou bitter gatbyter. My ma se doen en late was haar gunsteling tydverdryf, en Tant Agna het ’n punt daarvan gemaak allerhande stories oor Ma op die plaaslyn te versprei, haar man het by die sentrale gewerk. Hy was eintlik ’n onderwyser maar kon nie rugby afrig nie.
Ma het daarvan gehou om haar huis mooi te maak en sy kon met min geld baie doen. Sy’t haar gordyne self gemaak en ook sommer die stoele oorgetrek. Mens kon Ma se huis deur ’n ring trek al was dit vuil oor die Kerstyd. Dis juis met een van hierdie kommerwekkende Kersvakansies dat ek my gly in Tant Agna gevang het en ek glo, sy in my ook. Die klomp skoonsusters het in die kombuis gestaan en praat oor nageregte, terte en dié se mans, Ma was buite. Ek het ’n remote control kar vir Kersfees gekry die vorige aand en ek het die hele huis met hom plat gery tot sy batterye pap was; later met sus se pop in die kas gaan speel.
Dis toe met die dat ek so in die begin van die gang, net links van die kombuis, gesit het om die batterye vir die sesde keer te byt, dat ek hoor hoe Tant Agna oor Ma uitpak. Ma was sis en Ma was so. Sy mors Pa se geld en haar kinders is beide te lief vir kuns en sy dra nooit rokke nie en lees boeke oor engele, positiewe denke en re-inkarnasie en sy brand wierook in die woonkamer. Sy’s glo nie die regte vrou vir Pa nie, en moes nooit kinders gehad het nie. En die vriendinnetjie wat sy op die dorp het is glo onder sensuur geplaas deur die Dopper kerk oor sy so mooi smile vir vrouens in die apteek.
Dit was met die dat ek nie die gekoude battery vinnig genoeg in die karretjie kon terug kry nie. Ek gryp die ding en gooi dit in haar rigting, die battery tref die custard-bak en dit bars, die hele plek lê vol glas en vla. Ek gryp die kar en gooi die ook; tref haar reg op die neus en dit begin bloei, die bloed en vla meng op die kombuistafel, ek hoor stemme.
Dis met dié dat Ma inkom en my kamer toe sleep, ek begin al my huil gesig soek. Soos die deur agter ons toeklap begin Ma giggel, ek kyk haar verdwaas aan en wonder of Tannie Agna miskien nie die waarheid gepraat het toe sy gesê het Ma het probleme nie. Gedagtes van mense wat dromspeel en in die lig opstyg skiet deur my kop en ek sien engele uit die hemel neerdaal met gebrande herderspasteie. Ek begin saam lag en ons twee lê op die bed en giggel soos twee meisies wat net begin borste kry.
“Die ou teef het dit verdien,” sê Ma, “jy moes net nie gemis het met daai battery nie”. As Pa vra moet ek sê ek het slae gekry en ek moet vir Tannie Agna gaan jammer sê.
Nou is dit tien jaar later en die mense sing al te jolig op die begrafnis. Hulle klap nie hande nie. Ek wonder wat of wie doen Oom Giep in die tronk en dink aan die pan waarmee hy haar die hiernamaals in gestuur het. Dit is seker ingeduik, sy was vreeslik hardkoppig. Dit word seker gebruik om eiers in te braai by die polisie kantore op die dorp. Tant Agna was besig om af te luister op die plaasfoon toe Oom Giep haar bygedam het met die brandende pan vol verkoolde eiers wat sy besig was om te bak.
Oom Giep het rus vir sy siel gekry in die tronk, glo ek. Geduld het hy verloor, vergifnis wag hy voor en vryheid het hy gevind.
Tant Agna se bek lyk toegegom want sy’t nog nie vandag ’n woord gesê nie.
Photo by Scott Rodgerson on Unsplash





