Brenda-An Korf het op sestien haar eerste orgasme gehad en ’n loopbaankeuse gemaak. Haar pa het altyd vir haar gesê sy moet eendag beroepsatisfaksie hê en so het sy gepomp vir haar brood. Afgesien van haar droewige naam het haar ma eintlik baie liefde teenoor haar betoon, maar op Brenda-An se sestiende verjaarsdag het sy van haar ouers geskei, terwyl sy nog afterglow gehad het. Sy wou haar weg oopbaan, sodat niemand in die pad kan staan van haar beroepslewe nie.
Sy het op 21 haarself in ’n huis in Waterkloof, ’n Z4 en ’n reputasie in gekerm. Haar kar was rooi en haar vel het fantasties gelyk. Sy het perfek ingepas in die Lawley Straat scene; mooi kar mooi lyf, en ander vrouens se mans in die bed.
Op die tweede dag nadat Brenda-An – nou Anne – by haar huis ingetrek het met ’n GHD, ’n pak kondome, ’n klein gym en ’n manicure, bring haar lilac buurtannie vir haar tee, terwyl sy diep in ’n vergadering was met een van haar gereelde kliënte. Die tannie was besig om haar bril skoon te maak toe Brenda-An begin keel skoonmaak en gil soos net ’n hoer in die ooste van Pretoria kan. Tannie het net daar in die deur neergeslaan en begin ontbind. Die begrafnis was klein.
So is die huis langsaan in die mark en Brenda-An is tog te bly sy is ontslae van die pervert met die pers hare. Die treausou was nog nie in die lorrie nie, toe pak agt stelle Pam Golding naels die straat, oor die muur sien mens die perms ronddobber soos vet meisies in ’n publieke swembad. Saterdag was die huis só geskou, mens kon die ammoniak wind-af ruik. So het die gewilligste vrou haar man oorreed om die kinders se erfporsie op die huis neer te sit en drie dae later parkeer Stuttaford Van Lines hulle hele stoet in die oprit.
’n Mercedes Benz gee geboorte aan ’n Barbie pop met ’n Gucci hond, drie bekommerde bediendes, ’n Kirby en ’n persoonlike afrigter met ’n slap pols. So het Dokter en Mevrou Du Villé hulleself tuisgemaak in die ou-ooste.
’n Week het verby gegaan en Brenda-An het begin wonder of die mense nie gaan oorkom nie. Sy het eintlik geweet hulle sal nie, want wie is nou so voorbarig. Sy het toe maar een Saterdagoggend besluit om te gaan kennis maak met die nuwe intrekkers en sleep ’n dik vrugterol die pad af.
Die deur swaai oop en die mooiste man in die wêreld se ewebeeld staan in die portaal, Brenda-An sluk haar tong in. Sy het vir ’n wyle gestaar en toe haar tong weer opgebring en vir hom gesê: “vvvvrugte… rol…”
Hy het dit gevat met ’n glimlag. Nathan was sy naam. “Is jou vrou hier?” vra Brenda-An terwyl sy hoop dat dié in die bad geval het en haarself met ’n naelvyl om die lewe gebring het. “Sy pomp my seun se LO onderwyser in die swembad-kamer by die Seunskool,” sê hy terwyl hy haar met ’n gebaar die huis in nooi. Brenda het nie regtig geweet hoe om te reageer nie. Sy was maar nog altyd die ander vrou.
“Ek hoop nie sy doen dit verniet nie,” sê sy en maak haarself tuis by die eetkamer tafel.
“Wat bedoel jy?” vra hy.
“Ek is Br… Anne,” sê Brenda-An en steek haar hand uit. “Ek ken vir meneer Swart, hy hou van swart kant, rugbyballe en Jong Dames Dinamiek vergaderings op Donderdagaande.”
“Hoe so?” vra hy en wys haar na die kombuis.
“Man,” sê Brenda-An, “ek dink dis seker die onderwyser wat in hom deurslaan, hulle is mos almal gepla met balle, en as dit nie ’n rugbybal is nie is dit hul eie.”
“Ek het eintlik bedoel die vergaderings,” sê Nathan en skink vir hulle beide koffie.
“O dié! Ja dis die enigste tyd wat hy kry om weg te glip en rond te neuk, behalwe nou die swembad-kamer ding, het nie geweet dit pomp daar ook nie.”
Brenda-An skuif haarself reg op die kombuisstoel en gooi drie suikers in haar koffie. Nathan kyk haar in verwondering aan terwyl hy stadig aan sy koffie slurp.
“Jy weet, Nathan né?”, hy knik, “die Swart man is eintlik ook maar ’n ou bliksem, hy rig mos die eerste rugbyspan af by die skool. Kyk, dis nie so ongewoon as ’n mooi vrou se seun in die span is nie. ’n Pel van my, Bettie, haar kind is so verskriklik lelik, kan ook nie regtig ’n bal vang nie – Pa se gene, maar sy’t vir hom tot by agtsteman gehyg net voor die Super 12 eindstryd verlede jaar. Bettie is goed met ’n bal. Maar aan die anderkant, sy sal lê vir drie sigarette en ’n pedicure. Nou sê vir my waarmee hou jy jouself besig?” vra sy en steek ’n sigaret op.
“E… ek wag vir my vrou, ons het eintlik ’n afspraak gehad by ’n restaurant.” Hy vat een van haar sigarette en steek dit aan. “Het daar gesit vir ’n uur en…” Sy val hom in die rede; “nee man ek bedoel wat doen jy om so smart kar te ry?” Hy staan op en gaan sit die ketel weer aan. “Ek is ’n familie sielkundige, twee van my talentlose seuns speel beide eerste span rugby en my vrou is aantreklik…” Nathan vat ’n diep trek van sy sigaret.
Brenda-An staan op en loop na die foto’s teen die muur, “is dit sy hierdie?” Nathan knik, hy kyk haar nog steeds aan, “hoe oud is jy Anne?” vra hy met ’n sagte manlike stem, terwyl hy stadig nader stap na waar sy by die foto’s teen die muur staan. “Ek word 22 op 22 April cool né, ek wou nog sê, ek is julle buurvrou, dis hoekom ek hier ingeval het, wou eintlik net kom koffie drink het en gesig wys vir as julle dalk eendag ’n sigaret wil bum of so iets.” Brenda-An draai om van waar sy vir die man se drie pragtige seuns gestaan en staar het, toe staan Nathan teen haar.
“Jy het pragtige seuns,” sê Brenda-An, terwyl sy die knop in haar keel probeer wegsluk. Brenda-An voel vir die eerste keer in haar lewe ongemaklik in die teenwoordigheid van ’n man. Dis seker omdat hy nie ’n afspraak gemaak het soos enige normale man nie, dink sy by haarself.
Na ’n halfuur is Brenda-An daar uit met die vrugterol. Sy besluit maar om blomme te vat vir die Lilac-Tannie se graf… net om dankie te sê.





