Tannie Ansu het Dennis se ma so skuins na sy vyfde verjaarsdag gewaarsku en gesê die kind lyk soos die toonbank hulp by ’n afdelingswinkel. 

Dennis se ma het ook haar betwyfelinge oor Dennis gehad en het hom dokter toe gevat en gesê die kind se gestel is af, want hy kry lus vir snaakse goed. Dokter het ’n vitamiene B inspuiting vir Dennis gegee en sy ma is daar weg met ’n herhaling Valium.

Photo by Florentine Pautet on Unsplash

Dennis se ma het die mooiste rokke gehad, blou met blomme en kant, wyd onder met strikke, sjiffon, sy en damask. Dennis het homself altyd verkyk aan sy ma se uitrustings. In die middae het hy die rooi een met die sjiffon sleep aangetrek wat gewapper het in die wind soos hy deur die tuin gesweef het…

Dennis se wolfhond Buksie, hy het die hond Gwen genoem, het altyd saam gesweef. Hy het Gwen se gesig gemake-up met waterverf en vir hom die mooiste rooi en blou eye shadow aangesit, dan het hulle soos twee feëkarakters deur die tuin gehol en blomme gepluk wat Dennis in sy hare gesit het.

Dennis wou altyd ’n koets gehad het. Hy wou wegry met die koets met Gwen en die man van sy drome. Dennis het geweet daar was nie fout met hom nie. Sy naels was mooi pers geverf met blinkertjies bo-op. Gwen se naels was ook geverf.

Een vroegmiddag toe Dennis deur die tuin wandel met die blomme in sy hare en die wapperende sleep agterna, het sy pa huis toe gekom van die werk af. Dennis het na hom toe gehardloop met sy uitrusting en uitbundig gegil; “Pappa, Pappa, wanneer kry ek my koets?” Dennis se pa het strak voor hom uitgekyk en aanhou loop, terwyl hy rustig gesê het; “jirre Dennis, net nie in die voortuin nie”. Dennis het nie mooi verstaan nie, want die agtertuin was lelik en daar het ’n klomp honde stront rondgelê wat sy rok sou vuil maak.

Skemer se kant het die ouderling en sy vrou kom kuier, hulle was huisvriende en het sommer so oor tee gesels oor die basaar en die kinders. Dennis het die res van die middag in sy kamer gesit en ’n Bruidsgids deurgeblaai. Sy rooi sjiffon rok was oor die bed gedrapeer, hy het homself verbeel hy is Aspoestertjie wat wag vir haar prins. Gwen het begin drool en Dennis het geweet hy lyk pragtig.

Later het hy gehoor die grootmense lag lekker. Hy het opgestaan en sy hare gekam, versigtig Ma se make-up wat hy gesteel het, mooi aangewend, rooi lippe en groen eye shadow. Hy het vir Gwen ’n strik om die hals gesit en hulle het die gang af galop soos ’n dragtige koei met ’n aanneem kalf. Soos hy die sitkamer binnestorm roep hy uit; “dames en here, ek stel bekend, Denise en Gwen”.  Hy het die mense so ’n vinnige blik gegee en gevra “hoe lyk ek julle?” 

Dennis se ma het met ’n droë keel gevra of die noodapteek nog oop is, en een van sy pa se sigarette opgesteek. Dennis se pa het gesê hy moet die hond gaan kos gee. Mevrou Ouderling se hande het begin opswel dat haar ringe so begin bind het, sy het naderhand begin lyk soos ’n smaaklose hoenderrol. Die ouderling het in sy tee gestik. Dennis is daaruit met Gwen agterna.

Hoërskool was a tragi-komedie van bespotting, toneelstukke en wegkruip in die biblioteek. Dennis was natuurlik ’n uitblinker op die kultuur gebied en het soos ’n seer toon uitgestaan met sy perfek-gestylde hare. Hy was smoorverlief op die eerste rugbyspan se losskakel, skrumskakel en beide vleuels en het pouse-tyd by die musiek juffrou in haar kamertjie gesit en skelm gerook, in klas tyd gaan badkamer gebruik om só uit die moeilikheid te bly.

Na matriek is Dennis weermag toe. Sy ouers is beide oorlede, seker van verleentheid, doppers is mos niks gewoond nie. Hy was mal oor die army; die uniforms en die groot gewere.

Hy vertel ons van “strafkamp, dit was bedwelmd warm. Ons is op godverlate vlaktes afgelaai met ’n waterbottel en ’n buisie verwerkte kaas. My naels was smerig, ek het gelyk soos ’n weeshuis-queen; dit was ’n  gil gewees. Een van die outjies wat saam was, Duke, hy was oulik ek dink hy het van my gehou, hy het vir my van sy water geleen as ek dors was. Ek het myne gebruik om in die oggende my gesig en hare te was. Ek kon nie só die dag ingaan nie.”

Dennis sit vandag stoksiel alleen en wag vir sy prins, Gwen is lankal dood, het seker oogpotlood vergiftiging gekry of versmoor in ’n korset. Dennis is veertig, hy is depressief en hy begin plooie kry.

Hy soek sy geluk in die jeug wat nog eksperimenteer, hy huil in die aande, hy luister Piaf in sy duur kar. Sy enigste maatjie is Ronnie die lesbian bouncer. 

Sy sjiffon rok hang nog in sy kas, hy wag nog vir sy koets.

Photo by Florentine Pautet on Unsplash

Soortgelyk

heksedans

– Intussen dans ons godeloses soos hekse en heidinne op dwelms in grotte en woude om die sondes wat hulle in god se naam pleeg uit te weeg.

Read More »