Hi, my naam is Cassie, en ek sukkel met vrees.

Opstel 01 – Januarie 2024

Dit het so paar dae voor die groot dag begin. ‘n Gesukkel om te fokus deur die loop van die Maandag, so bietjie lusteloos, op en af stappery. Niks wat rerig uitgestaan het nie en niks meer as die norm nie. Dit het my net laat dink dat dit net ‘n slegte dag was. Teen die Dinsdagaand het ek begin dink daar is dalk fout. Omgekrap, humeurig, hol kol op die maag. By die Woensdagoggend het ek geweet iets is nie lekker nie! Lyfseer, gespanne skouers, kan nou glad nie vir langer as 10-minute sit nie, en algemene kak-gevoelery. Dit het my so tydjie gevat om te besef wat aangaan: die Saterdag sou ek my eerste ultra marathon aandurf, ‘n 50K oor die berge rondom Clarens in die Vrystaat. En ek was vreesbevange!

               Voordat ek jou vertel hoekom dit so was, moet ek jou eers vertel hoekom ek hardloop. Dit het niks met fiksheid, of pret, kameraadskap op stofpaaie, mooi dele van die land sien, en gewigverlies te doen nie. Nee, daai is alles net bonus aspekte van die aktiwiteit. Om dit so eenvoudig as moontlike te stel: ek hardloop weg vir hele spul trauma wat ek hier binne in my saamdra.

               Vroeg 2019 was die nadir van my lewe tot dusver. Ek het gewroeg met depressie. Die impak van my ma se dood, wat ek op daai stadium al vir 18 jaar saamgedra het, het lelik gekombineer met die dood van my pa in 2016. Daai dieptes van hartseer is verkleur deur ‘n lewe wat so bietjie besig was om uitmekaar te val vanweë ongediagnoseerde aandag afleibaarheidsindroom. En alles is mooi aangehelp deur ‘n huwelik wat besig was om te verbrokkel. Angsaanvalle. Onuitputbare woede. Vragte smart. Ek was op die vloer en ek het myself elke dag harder gebliksem omdat ek nie kon opstaan nie.

               Toe in Januarie 2020 begin ek hardloop. Sommer met my ou tekkies aan daar by die agterhek uit die berge in. Gelukkig het ek op daai stadium in Hogsback in die Oos-Kaap gebly, so daar was glad nie ‘n tekort aan berge nie! Hoekom ek hardloop gekies het kan ek tot vandag toe nie regtig sorgvuldig of genoegsaam verduidelik nie. As ek daaroor dink dan is daar net hierdie vae wolk van idees en rowwe gevoelens. Ek moes net iets doen. Ek moes net! Ek moes opstaan van die bed af. Ek moes ophou sanik. Ek moes ophou ‘n kak mens wees. Ophou tjank. Ophou jammer voel. Ophou sukkel. Ophou. Ophou. Ophou! En ek moes hardloop.

               Dis nou al vier jaar later en ek het nog nie terug gekyk nie, en net op teerpaaie as daar nie ander opsies is nie. Ek onthou die bloedsweet van die fiks wordery en 20kg verloor. Die blydskap van die eerste 10km in Februarie. Die af toonnael met die eerste 21km in die tuin gedurende April. Daai eerste 25km wat my gebreek het in Oktober. ‘n 30km in die yskoue van Julie in 2021. Die hospitaal toe gaan vir dehidrasie na die 42km in Desember 2022. En nou, die vrees vir die 50km in Clarens.

               Ek was (is!) bang vir mislukking. Ek was (is!) bang dat ek dit nie sou maak nie. Dat ek dit nie kan doen nie. Dat ek sou opgee. Daar was en is nou nog hierdie vrees dat sou ek moes opgee, ek nie net ‘n paar trappe sal terugval tot waar ek was voor die wedloop nie, maar tot heel onder en terug binne in daai donker, duistere dieptes van 2019. Weer op die vloer.

Met van daai vorige afstande en wedlope moes ek alles gee om klaar te maak. Gedurende die marathon in 2022 was ek teen 27km leeg. Ek kon nie meer nie. Maar ek het myself belowe dat ek sou sterf voordat ek opgee, en het met krampende bene die laaste 15km gestap.

               Ek dink gereeld na oor hierdie vrees en die implikasies daarvan op my lewe en gemoed, en hoe dit tot ‘n mate my groot dryfveer geword het. Daar is iets onbeskryfbaar om jou swakheid, jou vrees, te vat en dit jou grootste drywer te maak. Die vraag oor hoe swakheid kan omskakel in fisieke en geestelike krag verskyn elke keer in my kop as ek ‘n reuse berg uitswoeg. Of dit reg of verkeerd is traak my nie meer nie. Net solank dit my tot bo kry en eindelik oor die eindstreep forseer.

PS: Net so terloops, ek het wel die ultra suksesvol voltooi in agt en ‘n half ure, en ek kon teen die einde nog draf!

Soortgelyk

heksedans

– Intussen dans ons godeloses soos hekse en heidinne op dwelms in grotte en woude om die sondes wat hulle in god se naam pleeg uit te weeg.

Read More »