Hoofstuk 16. Boorgatpompe en slaapterapie

STORIE SESTIEN UIT PLATPLEK SE MENSE

Vra ek een Maandagmôre vir Marietjie of sy weet hoekom ek op ‘n plaas bly? Sy antwoord my nie. Kyk my net so onderlangs aan en ek sê vir haar ek bly op ‘n plaas sodat ek ‘n senuweeineenstorting kan kry, want dis deesdae mode. 

Marietjie skuif haar reg met haar koppie tee en ek sê vir haar dat mense wat in dorpe bly en reken dat dit so lekker is om op ‘n plaas te bly, my een groot vet kramp gee! Dis glo so rustig en so vry. “Man, hulle weet nie”, sê ek vir haar. “Hulle wéét nie van ‘n arm mens op ‘n plaas nie!”

Ek sit my koppie tee so driftig neer dat die helfte van die tee in die piering beland en ek gaan aan met my relaas. Van ou gedane trekkers en pompe wat daagliks breek en duisende rande later loop die goed ôk net en niks kan staan nie, want daar moet geboer word om te oorleef. En met die gejaag agter parte en goed aan, skud die enigste bakkie wat nog loop, op die ongure grondpaaie desmoers en kry die kinders sinusontsteking van die stof en jou niere gaan saam met die bakkie se skokbrekers daarmee heen en jy lyk altoos verwaarloos en toutjierig van die sweet in die verdomde hitte. Rustig en vry? Gmf! Ek en my man is dan nie eers vry om saam van die plaas af weg te gaan nie, want dan tref die een of ander ramp die plek.

Een jaar het ons as gesin dit gewaag om vir ‘n week lank saam met vakansie te gaan. Toe ons terugkom op die plaas, kry ons die bakkie so plat soos ‘n pannekoek. Een van die werkers, wat nie ‘n benul het van ‘n trekker nie, het glo die groot dubbelwieltrekker opgestart en bo-oor die bakkie gery. En so, sê ek vir Marietjie, kan ek haar van etlike rampe vertel. Nee, saam weggaan van die plaas af, is uit soos snuif. 

Maar wat my die klaarste maak van die plaas, is wanneer daar elektriese probleme in die huis of met ‘n waterpomp of by ‘n kragpaal ontstaan. Dis nie soos wanneer jy in ‘n dorp bly en jy bel gou die elektrisiën en binne tien minute is hy daar nie. Nee, hulle vat dae lank voor hulle uitkom plaas toe en dan moet jy betààl vir hulle reiskoste. En as jy sulke elektiese probleme oor ‘n naweek kry is dit fieliekondêm met jou.

“En het jy geweet, Marietjie,” vra ek haar “dat die boorgatpomp wat vir my huis water pomp, ’n aanvoeling het vir sekere situasies?” Marietjie sê toe maar nog steeds nie veel nie, want sy weet nie mooi waarheen die vrou voor haar oppad is nie. Sy sien net dat ek erg opgecharge is en ek vertel haar dat my ryk suster uit die Laeveld uit, die naweek vir my kom kuier het…

Ek slaan toe eers my oë af en staar vir ‘n ruk in my tee, want my siel voel geknak. Toe ek weer moed het, sê ek vir haar: “Ag my vriendin, jy weet hoe grênd my suster is, en dan kom sy daar uit die land van melk en heuning hier op hierdie droë, stowwerige, plat plek aan en alles is volgens haar daar in die Laeveld net eenvoudig beter. Ek meen ek weet dit is so, maar sy hoef dit nie so in te vryf nie.”

Vandat my suster met haar twee bedorwe brokkies die Vrydag daar aangekom het, totdat hulle die Sondagmiddag weer gery het, moes ek net hoor van die Laeveld, die Laeveld! Hoe groen dit daar is van al die reën en hoe sterk die riviere, (wat dwarsdeur hulle plaas loop), vloei en hoe mooi hulle uitvoer lemoene nou is. En dis nie gewone lemoene nie, dis Laeveldlemoene – groter en soeter en gesonder as enige ander lemoene in die wêreld. En die tamaties hang vet en rooi aan die stoele en die markprys skiet die hoogte in, en dis net miljoene en miljoene rande se praatjies. Ek het later ineengekrimp van vernedering oor ons patetiese katoenoes wat op die lande staan en beur teen die droogte. Maar die groot Laeveldoeste en miljoene rande was nie al wat ek moes aanhoor en waarteen ek my moes versterk nie.

As my suster eers afgaan oor Laeveldsiektes, moet jy nie ‘n swak gees hê nie. Nee, jy moet bestand wees en jy moet vir ure kan sit en luister na die lot van die Laevelders. Volgens my suster is dit noodlottig om’n Laeveldgriep te kry! ‘n Laeveldgriep is tienkeer erger as die griepe wat in ander dele van die land voorkom. Jong, so’n Laeveldgriep tas onmiddellik jou hart, longe, pankreas en niere aan, en dan is dit moer toe met jou! En ’n Laeveldpitsweer is altyd ‘n nege-oog, en teen die Laeveldse mangowurms en malaria is geen mens of dier bestand nie. En wee vir jou as jy’n Laeveldvirus optel! Dít oorleef jy blykbaar nie sommer nie en die intensiewe eenheid en die spesialiteite is vir maande jou voorland. 

Maar die Laeveld-allergieë is glo die ergste. Daar is blykbaar nie ‘n kind in die Laeveld wat nie gebuk gaan onder die aanslae van díe Laeveldse neiging nie. Almal loop met pype in die ore vir dreinering en drink bokmelk en is op spesiale diëte. Want as dit nie suiwelprodukte is wat die allergieduiwel loslaat nie, word iets soos onskuldige hoendervleis verdink. En díe Laeveld-allergieë laat jou nie doodgewone galbulte uitslaan soos ons aan gewoond is nie. Nee, dit veroorsaak glo hoofpyne wat jou oë wil laat uitpeul en lewerdisfunksies en nierversaking en ek weet nie nog wat nie!

Dit alles kon ek nog in ‘n mate hanteer. Maar die Saterdagoggend sit ons op die voorstoep in die sonnetjie en gesels, en my suster begin vertel van al die aanbouings en veranderings wat hulle besig is om aan haar huis aan te bring. Ek het week geword, want daar sit ek wat Lizelle is, in ’n huis wat deur die voortrekkers self gebou is en waarvoor ek nie die geld het om die vrot dak te vervang nie, en my suster praat van ekstra kamers en patios en glasdeure en ‘n swembad.

En daardie swembad het hulle nie uitgemeet nie. Hulle het die blêrrie ding afgetreë! En elke keer as hulle die penne ingeslaan het, het hulle die grootte so bekyk en dan besluit nee, nóg ’n paar tree. Ek weet nie of my verstand teen daardie tyd van die jaloesie al beneweld of verward was nie, maar ek reken hulle het geëindig by so veertig by vyftig treë. Toe eers is hulle tevrede.

En my suster sit nog so en brêk oor haar kasteel van’n huis, toe bring een van die kinders die tyding dat die toilet verstop is. Ek het net vir ‘n oomblik my oë toegemaak en gebid vir krag en toe so koel en kalm en statig as moontlik opgestaan en die huis binnegestap – so asof dit ‘n ou klein probleempie is wat gou opgelos sal word. Maar ek het geweet wat op my wag, ek het daai toilet se giere geken. Die pype is al deur die jare só toegekalk van al die harde boorgatwater, dat enige abnormale verkeer katastrofiese gevolge het. By die toilet gekom, het die water al oor die bak gestoot en in die gang afgeloop.

Ek het eers weer ‘n rukkie vernederd geswyg en later flouerig vir Marietjie gevra: “Het jy al ooit so ‘n toilet probeer oopmaak?” My suster het ewe uit die hoogte kom vra of sy kan help, maar by die aanskoue van die gemors, stil-stil verdwyn en ek het vir ‘n ewigheid gestaan en toiletpapier uitkrap met ‘n bloudraad, en gepomp en gekarring tot die water weer die pad kon vind.

“Dit was ‘n vernedering, Marietjie, maar ek is daardeur. Weliswaar met ‘n paar letsels aan my gees, maar ek is daardeur! Maar wragtag, die volgende aanslag het my die finale nekslag toegedien.”

 So teen vieruur Saterdagmiddag toe ek wou begin kosmaak, kom daar nie ‘n druppel water by die krane uit nie. Ek stuur my seun om die pomp te gaan start en díe kom terug met die aaklige tyding dat die pomp nie wil start nie. Na ‘n groot gesukkel het ek later my man voor die televisie weg om te gaan kyk wat met die pomp aangaan en hy kom terug met die aakliger tyding dat die motor uitgebrand het. Ek het nog nooit in my lewe flou geword nie, het my altyd te sterk geag daarvoor. Maar ek dink daardie middag was ek na aan flou neerslaan, want ek het baie aardig gevoel.

“Ek meen Marietjie,” sê ek moedeloos vir haar “hoekom kan die pomp nie op ‘n Vrydagmiddag of ‘n Saterdagoggend breek nie? Hoekom vieruur op ‘n Saterdagmiddag as al die besighede toe is en ek ‘n huis vol mense het? Ek sê jou daardie pomp het ‘n aanvoeling vir situasies. Hy treiter my al vir jare so met sy gebreek oor ‘n naweek.”

Ek vermoed my man het die flou of die dood in my oë gesien daardie middag, want toe ek vir hom sê dat hy ‘n plan sal moet maak vir water in die huis, dat ek nie weet hoe of wat nie, maar dat hy ’n plan sal moet maak, vloog hy by die agterdeur uit. En ‘n uur later kom hy met die groot waterkar, waarmee ons vir die arbeiders in die lande water aanry, daar aan en trek hom langs die badkamer en koppel ‘n tuinslang daaraan en gooi die tuinslang deur die badkamervenster. En daarmee is die problem volgens hóm opgelos, want daar is mos water in die huis.

Daardie aand met badtyd was dit chaos! Ons het potte en potte vol water op die stoof warm gemaak en badkamer toe gedra. Dat niemand in die verkeer tussen die kombuis en badkamer gruwelik verbrand is nie, was net genade.

Eers laat daardie nag, toe my suster en al die kinders skoon en gewas in hulle beddens lê, kon ek kans kry om te gaan bad. Maar ek was na liggaam en siel so uitgemergel, dat ek nie kans gesien het om nog een enkele pot warm water aan te dra nie. Ek loop toe sommer vir my ‘n bad koue water in met die idee om net vinnig in en uit te wees. Maar toe ek in daardie koue bad water klim, toe raak alles net te veel vir my. “Marietjie,” sê ek vir haar “het jy al ‘n vet blou vrou gesien huil?”
Ek sien dat my storie vir Marietjie diep geraak het, want sy besef dat die naweek ernstige letsels aan my gees gelaat het. Maar voordat sy kan simpatiseer, sê ek met ‘n dun stemmetjie: “Nee Marietjie, my senuwee-ineenstorting is nie meer ver nie en ek sien uit daarna. Ek wil ook soos die ryk vrouens na een van daardie inrigtings toe gaan waar ‘n mens slaapterapie kry. Dit klink vir my mos altoos of sulke vrouens sulke lekker diep, dramatiese lewensprobleme het.”

Soortgelyk

heksedans

– Intussen dans ons godeloses soos hekse en heidinne op dwelms in grotte en woude om die sondes wat hulle in god se naam pleeg uit te weeg.

Read More »