Hoofstuk 15. “Stooges” en Stadsmense

STORIE VYFTIEN UIT PLATPLEK SE MENSE

My skoonsuster, Jakes, sê eendag vir my toe ons doer ver in die Bosveld om ‘n vuur sit met ‘n koppie koffie, dat hulle klomp plaasjapies seker maar so common was soos hulle tant Dolly altyd gedink het.

Ek het maar net in die vuur gestaar en gewag op die verklaring van die onverwagse uitspraak. Jakes was geneig om ‘n ding so uit die lug aarde toe te bring. Sy het haar reggeskuif met haar koppie koffie en my vertel dat hulle agt kinders was, en arm, want haar pa het maar al die jare op Stofbultlaagte geboer, en so tussen die droogtes deur, siel en liggaam aanmekaar probeer hou.

Ek het agteroor gesit met my voete amper in die vuur, want ek het die gevoel gekry dat hier ‘n lekker storie kom. Jakes vertel my dat hulle spulletjie regte plaaskinders was – op die plaas gebore en daar grootgeword en alles. Omtrent nooit met vakansie gegaan nie, want daar was nie geld vir sulke luukshede nie en die plaas kon ook nie vir lank alleen gelos word nie. En so moes die agt kindertjies hulleself maar jaar in en jaar uit op die plaas vermaak. Van die buitewêreld het hulle maar bloedweinig geweet daar in hulle klein beskutte wêreldjie.

Elke kind het sy eie moerbeiboom gehad. Groot bome wat pers gehang het van die moerbeie. En een ou mag nie van ‘n ander se boom se moerbeie geëet het nie. Sy sê die heerlikste gevegte het altyd onder daardie moerbeibome plaasgevind, want dit was vet pret om in iemand anders se boom te klim en sy vetste en swartste moerbeie te steel. Van die wrede gevegte het Ma en Pa nooit geweet nie, want dit is altyd doodstil gehou. Verder het hulle vir hulleself ketties gemaak – ou binnebande vir die rekke en stukkies leer van ou skoene vir die velletjies waarin jy die klip sit. Om ‘n mik te sny vir daardie kettie was ‘n gewigtige saak wat maklik twee dae kon duur. Die uitsoek van die regte mik was belangrik en is baie tydsaam gedoen en dan moes hy nog met ‘n knipmes afgewerk word. Maar as jy klaar was met daardie kettie, was jy net so trots op hom soos enige ryk kind op ‘n blink nuwe speelding. Met die ketties het hulle voëltjies geskiet wat hulle dan saam met die plaaswerkers se kinders aan ‘n skerp stok oor die oop vuur gebraai en geëet het – sommer so sonder sout.

Hulle het net twee fietse tussen die agt kinders gehad. Sulke dikwiel mansfietse met carriers op. Dit het glo altyd die vreeslikste bakleiery afgegee oor wie moes trap en wie gelift word. Haar tweede oudste suster wou nooit trap nie, sy wou net gelift word, en elke keer as sy agter op die carrier gery het, het haar tone in die wiel se speke beland. Dan het dit die vreeslikste geskreeu afgegee en moes hulle haar tone met ‘n geel stoflap verbind.

Maar die swemmery in die sementdam was blykbaar die grootste pret. Daar het altyd so ‘n dik laag slik onder op die bodem van die dam gelê en daarmee het hulle mekaar gegooi en oorlog-oorlog gespeel. Wanneer hulle lekker honger geswem was, het Ma vir hulle sulke dik snye tuisgebakte brood met plaasbotter en stroop daarop gegee. Jakes sê hulle kinderjare was lekker gewees.

Sy vertel my hulle het so ‘n grênd tannie gehad wat daar in die voorwêreld in Springs gebly het, ou tant Dolly. Sy was haar ma se suster en sy het die klomp plaaskinders stooges genoem. Tant Dolly se man, oom Ben, was destyds General Manager van ‘n groot motorhawe op Springs. En dit het vir haar as kind vreeslik belangrik geklink – so asof hy net onder die eerste minister was. Haar oupa het ook altyd gesê dat Dolly en Ben die trots van die familie is.

Jakes sê alles van die stadsfamilie was grênd en anders gewees as waaraan hulle gewoond was. Oom Ben het altyd die grootste en duurste karre gery en hulle het in die smartste huise gebly en dan het hulle nog ‘n swembad ook gehad. Maar Jakes vertel dat die tant Dolly eendag spog dat oom Ben vir haar ‘n sunken bath gaan laat inbou. Jakes sê sy was so in standerd drie, vier gewees en sy het die hele relaas oor die sunken bath gesit en beluister. En naderhand kon sy dit nie meer hou nie en sy sê vir tant Dolly: “Maar wat is so snaaks aan ‘n sinken bath?  Ons ou Martha was elke dag ons klere in so ‘n sinkbad.” Toe sê tant Dolly vir haar sy is ‘n stooge.

Nou met dit en so het die klomp plaaskinders maar altyd half minderwaardig gevoel teenoor die spoggerige familie van die voorwêreld. So een keer ‘n jaar, sê Jakes, het hulle van die plaas af in die stad by tant Dolly-hulle gaan kuier.

Dit was nou vir hulle klomp kinders ‘n belewenis gewees. Om alles te sien en te hoor wat in die buitewêreld aan die gang was, het hulle stom gelaat. Veral die stories wat hulle wêreldwyse neefs en niggies oor die ducktails te vertelle gehad het, was te lekker. Dit het haar so ‘n heerlike rilling langs haar ruggraat af gegee.

Sy sê hulle was doodbang vir die ducktails gewees. As hulle met hulle Opel Kapitan (waarin al agt die kinders en Ma en Pa ingeprop was), die stad so binnegery het, het al die kinders agter in die kar platgeval sodat die ducktails hulle nie moes sien nie. Eers as hulle by tant Dolly-hulle se hek ingery het, het hulle weer hulle neuse bokant die vensters uitgesteek. Maar so teen die tweede dag, sê Jakes, het die klomp plasies begin mak raak en dit gewaag om saam met die neefs en niggies in die strate te begin rondloop.

Die lekkerste plek om te speel was in die parkie met die swaaie en daai ding wat jou so in die rondte gedraai het tot jy lekker dronk was. Hulle het gedraai en gedraai totdat hulle naderhand vaal en naar op die gras bly lê het. Net van die slide het hulle weggebly, sê Jakes. Want die neefs het vir hulle vertel dat die ducktails skeermeslemmetjies aan die kante van die slides indruk, wat vir jou oopsny van jou enkel af tot by jou bo-boud. Nee, vir die slide was hulle so bang soos ‘n gans vir weerlig gewees.

Die hoogtepunt van hulle stadsbesoek was die roomyskarretjie wat verbygekom het. Dan het die spul plaaskinders met geweld draad toe gestorm en met lang oë na die begeerlike wit karretjie gekyk. ‘n Roomys het maar destyds drie pennies gekos en meeste van die kere het haar pa nie die geld daarvoor gehad nie. Maar dan het oom Ben hulle seker maar jammer gekry en vir hulle roomys gekoop.

Jakes het hier eers ‘n rukkie stil gebly en net in die vuur gestaar. Toe sê sy vir my, noudat sy groot is onthou sy dinge wat hulle destyds as kinders nie verstaan het nie. Die grênd tant Dolly van haar het ‘n drankprobleem gehad. Jakes vertel dat hulle haar ‘n paar keer lekker getwalla gesien het, maar dan het hulle maar gedink sy hou net lekker partytjie. Maar noudat sy terugdink onthou sy dat hulle eendag baie skierlik Springs toe moes gaan, want haar ma moes tant Dolly hospitaal toe vat. Maar as sy nou dink was die hospitaal sekerlik ‘n inrigting vir drankverslaafdes gewees. Sy wat Jakes is moes toe drie weke lank by die niggies kuier, sodat haar ma-hulle, wanneer hulle haar weer gaan haal het, ‘n rede gehad het om te gaan kyk hoe dit met tant Dolly gaan. Destyds het sy nie ‘n idee gehad hoekom sy so lank daar moes kuier nie, maar nou weet sy.

Dit was die aakligste kuier gewees, want die niggies en die neefs het elke aand sessions toe gegaan. Hulle het haar die eerste aand saamgevat en dit was die verskriklikste ondervinding van haar lewe gewees. Sy het die hele aand soos ‘n verskrikte vlakhasie in die hoek gesit en die dansende, jillende kinders in hulle stovepipe jeans en leerbaadjies bekyk en gewonder of die aardige musiek nie sonde is nie. Vir die res van die drie weke het sy elke aand maagpyn of mangelontsteking ontwikkel sodat sy nie sessions toe kon gaan nie.

Maar in elk geval, die tannie het toe ook later op ‘n redelike jong ouderdom skierlik tot sterwe gekom. Jakes sê sy het haar seker doodgedrink, maar aan almal is vertel dat sy ‘n hartaanval gehad het.

Die geraamte van die grênd familie is destyds deeglik in die kas gehou. Maar nou dat sy so sit en dink, onthou sy nog ‘n ding wat haar as kind gehinder het. Die einste tant Dolly-hulle wat hulle so opstêrs teenoor die klomp plasies gehou het, het gereeld op die plaas kom kuier. Om weg te kom van hulle besige lewe in die stad. En as hulle die dag weer ry, het hulle daardie kar van hulle gelaai van die groente en plaasbotter en melk en skaapvleis dat die dif op die grond gesleep het.

Dit kon sy destyds nie verstaan nie. Hulle was dan die arm spul en tant Dolly-hulle die rykes. Jakes het gewonder of tant Dolly-hulle gedink het haar pa en ma kry al daai skape en botter en groente verniet. Sy kon ook nooit onthou dat sy haar ma en pa ooit hoor kla of skinder het oor die gewegdraery nie.Ek het my laaste slukkie koffie gedrink en gewonder oor wie die common spul was — Jakes-hulle of die grênd tant Dolly..?
En Jakes het nog hout op die vuur gegooi.

Soortgelyk

heksedans

– Intussen dans ons godeloses soos hekse en heidinne op dwelms in grotte en woude om die sondes wat hulle in god se naam pleeg uit te weeg.

Read More »