Miskien is Maandae nie bedoel vir iets so delikaat soos blomme koop nie, dis net te besig, te dol, effe mal. Jy het altyd kom koop op ‘n Dinsdag. Helder geel was nie jou gunsteling nie, maar sou ek nie die sagte geles in voorraad gehad het nie, was jy heel gewillig om hulle ook te vat. Solank dit pioene was, altyd 10, altyd geel. Ek kon myself nooit sover kry om dit vra wie die gelukkige ontvanger van die geurige ruikers was nie. Hulle was nie vir my nie, die wete was swaar genoeg.
So gaan een Dinsdag verby sonder jou en in die volgende week is jou afwesigheid al wat ek heel dag aanvoel. Dit was ‘n sonskyn Sondag wat ek jou vir die laaste keer gesien het. Jy’t my nie opgemerk nie, nie my skugter hand sien lig in ‘n skamerige groet nie. Soos die glaspapier waarin ek jou blomme toegedraai het, het jy reg deur my gekyk. Jou gesig, nog steeds so geliefd, het dieselfde gelyk. Dit was die skadu’s in jou oë wat ek nie herken het nie. Daardie flikkering waarvoor ek so lief was, dit was weg. Jy was gebroke, so het dit vir my gelyk.
Hartseer genoeg, vir een keer was ek nie alleen nie. Nou was daar twee van ons.






