Ons is presies 13 976km van mekaar af maar jy is hier in my kombuis met jou LeCrueKuhn, die klein pannetjie waarin jy haloumi braai in jou Tamboerskloof woonstel.
Jou MA tesis nog met Joan se rooi pen of was dit jou bloed of ‘n vroeë oes Pintotage en ‘n pakkie Lucky Strike en Gauloises rooi asb by die Seepunt Spar as jy my deur kom afskop.
In my sitkamer die boekrak met
Die Groot Bybel
Die plek vol met jou
Breyten, Cousins, Jonker, Sexton en Ingeboek en Pomp
Ouma Toppie se handskoene van die wêreld heen in my stoor, geseël teen die motte wat moontlik mag.
Jy trap steeds spore in my dag 13 976km weg.
Geluk met jou verjaarsdag, ek is godweet bly jy is toe gebore.





