Soortgelyk

Kremetarte kak af.

Met verskoning aan Jeanne Goosen My vrugte verryp tot swart?ek dink, of nee dis net Kremetartmajestueus grysbruin Jare lank so sterk en dik en wortels

Read More »

Die Saai Lewe II : DEEL 1

Ari was ‘n baba van agtien maande toe hy een middag sleg verbrand het in sy ma se kombuis. As volwasse man het daar nooit weer hare op sy regterblad en agter op sy kop gegroei nie. 

Daar was wel ‘n hardnekkige klossie bleek haartjies wat nie wou ophou uitkom reg op die plek waar sy kroontjie eens was nie, en Ari het dié koringaartjies gelowig toegemaak met ‘n kippah wat hy nog van sy pa oorgehou het. 

Ari het lankal vantevore met die god en die mense van sy geloof uitgeval en hulle het nie woorde vir mekaar gehad nie. Ari het nooit daaroor gepraat nie en niemand het meer gevra nie. 

Ari was ‘n gedrewe en ambisieuse man. Hy was geneig om mense en dinge binne sy reik styf vas te hou en het ‘n konstante strewe gehad om nét die beste en nét die mooiste te bekom en te behou. As gevolg hiervan kon Ari nooit onderskei tussen die mate van kwaliteite in mense en in dinge nie. Hy het dikwels ‘n kat in die sak met beide gekoop en baie bloutjies geloop wat vir ander mense voor-die- hand-liggend was om te vermy. 

Hy het geglo in ‘n wêreld van wîe, en het almal en alles om hom in kompartemente geplaas wat óf uitmekaaruit gewig het óf saamgevoeg het. Daar was met Ari geen middeweg nie. Enige middeweg of kompromie het hom inténs ongemaklik laat voel en hom met ‘n onverklaarbare verwyt gevul wat in ‘n oogwink in woede kon oorskakel. Dit was ‘n metamorfose wat mense vinnig geleer het om te vermy.   

Ari se vrou was uitsonderlik mooi. Hy het haar lief gehad want sy was mooi en slim en sy het geluister na wat hy sê en belanggestel in hom. Ari se vrou was lief vir hom net soos wat hy was. Wat Ari wel baie gepla het van sy vrou, was dat sy baie lief was vir haar ma. 

Ari se skoonma was uitsonderlik fyngesnaard, en sy het van die begin af haar skoonseun van ‘n myl sien kom. Sy het Ari met omsig hanteer, want sy het geweet dat enige persoon wat só deur homself geteister word net gevaar kan inhou vir almal om hom. 

Ari het vermoed sy sien hom raak, en het baie versigtig, metodies en uitgeslape tewerk gegaan om die lewe vir haar so moeilik as moontlik te maak sonder dat enigiemand behalwe hulle daarvan weet. Dit was hulle twee se geheim.  

Hy het ook, vir redes wat hy geensins kon verstaan nie, baie van sy skoonma gehou. Hy het so min as moontlik “familietyd”, soos wat hy dit genoem het, met haar spandeer, maar was mal daaroor om haar saam te vat om te gaan shop. Hulle het baie lekker die een winkelsentrum na die ander getoer en Ari was, vir daardie vlugtige oomblikke, ‘n ander mens. Hy het net klere vir homself gekoop as sy by was om haar opinie te gee want haar smaak was foutloos. Dit het sy verwyte teenoor haar net aangevuur en hom laat plannetjies maak om haar terug te kry vir die onreg wat sy hom só per geleentheid aandoen.

Gedurende “familietyd” moes sy ligloop vir Ari. Hy het sy venynigheid versluier met grappies en poetse maar sy korrel was heeltyd op haar. 

Hy sou terloops vir haar sê om hom en sy vrou by ‘n spesifieke kafee te ontmoet vir middagete, en dan by ‘n ander restaurant gaan eet, sonder om sy vrou te sê dat hy haar ma ook genooi het. Hy sou, wanneer almal saam kuier by die huis, vir al die gaste drankies skink behalwe vir haar en dan onskuldig verskoning maak vir die oorsig nadat hy reeds gaan sit het. Sy skoonma het nooit kapsie gemaak teen sy gedrag of enigiets daarteen gespreek nie. Dit was hulle twee se geheim. 

‘n Paar jaar in die huwelik in word Ari se vrou swanger met hulle eerste kind. Almal is baie bly en niemand is so trots soos Ari nie. Nou kon hy ‘n uitsonderlike mooi kind by sy uitsonderlike mooi vrou voeg. Net na die aankondiging van die nuweling kry Ari die geleentheid om ‘n been van sy besigheid oorsee oop te maak met die geleentheid om mettertyd permanent te verhuis. Besluite word geneem, reëlings word getref, planne word gemaak en drome word gedroom. Veral die droom om sy skoonma in Suid-Afrika agter te laat. Vir goed. 

Toe, in week 26 van die swangerskap, verloor Ari se vrou die baba.