STORIE TIEN UIT PLATPLEK SE MENSE
Een middag sit ons weer daar in Marietjie se winkel en whiskey drink en kuier en die wind waai vreeslik. Ons sit bedroef en bedoos deur die venster en staar, na waar die warm, droë wind die stof uit die stuk aarde voor die winkel soos ‘n malle opjaag. Oor die hele Stofbultlaagte hang ‘n wolk van rooi stof in droogte en ellende, wat die laatmiddag na onheil laat voel. Elke nou en dan vat ons in stilte ‘n sluk en iemand sug.
Ek sit en dink aan my kinderdae. Weet nie waar die ander drie se gedagtes hulle heen vat nie, maar in die winkel, is nie een van ons nie. Toe ek ‘n kind was, kon die geelperskereën op die Hoëveld vir weke uitsak. Weet nie of dit rêrig vir weke was nie. Miskien net vir dae, maar vir ons vier Herbst sussies het dit soos weke gevoel. Ons was buite kinders. Gesonde, maer, gebalanseerde kinders wat in die veilige strate op ons fietse rondgesaag het, cowboys en kroeks gespeel het, top gegooi het, kyte gevlieg het en tot- die- dood- toe- ernstige marble games georganiseer het.
As dit so gereën en gereën het en ons in die huis moes bly, het die snot en trane naderhand teen die sitkamer se venster afgeloop soos ons vier op die rusbank gesit en soek het na ‘n skrefie son in die grys lug. Dit reën nie meer geelperskereën nie en grootmens trane is nie lekker nie.
“Nee wragtag!” Lida se diep stem ruk ons onwillig terug die winkel in. “Die droogte het gemaak dat party ouens se koppe vir hulle los. En as ‘n man se kop hom eers gelos het, kry hy sy dele nooit weer bymekaar nie. Soos daai slegmoer Gert Viljoen.”
Ek stem saam, want ek ken Stofbultlaagte. Net die sterkstes oorlewe hier. Marietjie skink vir ons nog ‘n rondte, want sy voel hier kom ‘n storie. Jy moet nie saf wees of soos Gert Viljoen uit die voorwêreld uit hier aankom en probeer boer nie. Jy moet op die plek gebore en getoë wees en stelselmatig geestelik bestand raak teen die droogtes, want hulle is so gereeld en donners aanhoudend soos warm pap op ‘n kaal voet. En elke nuwe droogte is telkens die ergte in die ouerwordende inwoners se heugenis.
Ek sê eendag vir ‘n ou oom dat hulle die ding van die droogtes heeltemal verkeerd het. Hier’s glad geen so ‘n ding soos baie droogtes nie. Dat soos ek die ding sien, is hier vandat hierdie aardige plat plek gemaak is, nog net een helse, ellelange droogte aan die gang. Maar die ou oom erg hom bloediglik vir my en pluk daar ‘n vergeelde exercise boek uit met handaangetekende reënvalverslae. En hy bewys vir my, terwyl hy so met sy krom vinger op die syfers stamp, dat die droogte al in sy eie leeftyd minstens drie keer goed gebreek is. Dat daar, ook in sy eie leeftyd, al verskeie goeie buie geval het wat die een droogte behoorlik gelig het voordat die volgende een gevat het!
Nou kyk, dit was teen daardie droogte toestande wat Gert Viljoen glad nie opgewasse was nie. Op ‘n dag kom die mannetjie daar uit die Hoëveld uit, op die platplek aan. Ryk en lekker grootgeword en dik geërf. Hy koop sommer vier stuks plase langs mekaar en begin net bome omkeer en ploeë insteek.
Dit is nie sommer ploeë nie! Die goed is so wyd, dit keer ‘n morg grond met een slag om! Nou moet jy weet hoe lyk die trekkers wat daardie implemente sleep! Dis net dubbel wiele voor en dubbel wiele agter. Elkeen het ‘n lugversorgde kajuit met radio en televisie en wat nog alles in. Dan knak die goed nog te aardig reg in die middel, tussen die voor-en-agterwiele, sodat die agterlyf by tye amper langs die voorlyf loop. Die goed lyk soos grusame, wriemelende verskynsels uit die buitenste ruim en hulle keer die aarde om dat hy op sy rug lê!
Dit gaan verskriklik en die stof hang vir weke oor die vier plase, want dis droog en warm en daar trek nie ‘n luggie nie! Naderhand is die ploeëry klaar en die stof gaan lê sy lê vir die res van die seisoen, sonder dat ‘n planter dit eenkeer versteur.
Net na daardie eerste droogte wat Gert deurgemaak het, staan ek en oom Stoffel van Tonder en die einste Gert eendag in die koöperasie en gesels. Gert sê vir oom Stoffel dat hy net wag vir die eerste ordentlike oes wat hy maak, dan pak hy sy goed en hy fokkof van díe plek af! Oom Stoffel kyk hom so en hy sê: “Ek bid vir jou neef, want ek wag al ses en sestig jaar vir daardie oes!”
“Nee wat,” sê Marietjie en sy skink weer. “Gert was al drellerig na daardie eerste ou droogtetjie. Ek het daardie tyd al geweet dit sit nie in hom om dit hier te hou nie. Te sag grootgeword.” En Marietjie het reg. Want vir ‘n seisoen of wat het Gert nog so in die rooi stof gespartel, maar later heeltemal boedel oorgegee. Dit het naderhand haglik gegaan, want Gert het sy dae in die bed deurgebring en een boek na die ander gelees, terwyl sy vrou en die volk wanhopig die boerdery aan die gang probeer hou het.
Ralie, altyd te bly as sy ook ‘n lekker storie ken, lewer onmiddellik haar inset en vertel dat Sannie, dis nou sy vrou, self vir haar vertel het dat die pomp wat vir die pampoene moes water gee, twee weke lank stukkend gestaan het. Eendag kon Sannie dit nie meer langer verduur dat die enigste lappie groen op die plaas so staan en verdroog nie en sy gaan skud hom elfuur die oggend wakker en vra vir hom of die volk al die pomp reggekry het. Hy kyk haar swak van verbasing aan en sê vir haar: “Hoe moet ek weet? Was ek nou al vanoggend buite gewees, hê?”
Ralie, nog steeds trillend van lekkerkry vertel ons: “Ek het nou die dag vir Sannie gesê sy moet die sleg moer af en toe omdraai. Netnou kry hy bedsere en dan sit sy nog daarmee ook!”
Dit gaan naderhand van vreeslik na erg toe, want Gert gaan aan die drink. Hy verloor sy een plaas en moet naderhand die tweede en derde een ook verkoop. Lida vertel dat sy gehoor het, sy vertel dit nie vir die reine waarheid nie, maar dis wat sy gehoor het: Gert sit glo weer een middag op die voorstoep en drink en hy kyk so uit oor die laaste stukkie plaas. En daar eenkant in ‘n lappie tamaties wat die volk probeer plant het, plunder ‘n klomp ape na hartelus. Hy staan naderhand vermoeid en wankelrig op en terwyl hy so met die een arm na hulle toe beduie, skreeu hy: “Julle moet maar aanfok! Julle moet maar aanfok! Ek suip hierdie donnerse plaas ook nog onder julle gatte uit!”
Maar hierdie jaar begin dit toe mos skielik reën. Die boere is opgejaag en dit ploeg en dit plant en dis net modderbespatte bakkies wat oral rondjaag! Net Gert kom nie aan die gang nie. Sy lande lê vervuil en die trekkers staan stukkend en die planters is deurgeroes.
Marietjie sê hulle staan nou die dag op haar winkel se stoep en gesels en sy sê vir Gert: “Mag, maar dit reën darem lekker nê. Hierdie jaar sal ons elke morg grond kan volplant.”
Maar Gert kyk so half verby haar met sy waterige rooi ogies, sug en sê vir haar: “Ja Marietjie, die Here se seën rus swaar op ons hierdie jaar.”
“Nee,” sê Lida kopskuddend toe ons sterk skemer opstaan om na huis te keer, “die man se kop het hom gelos.” En ek dink so met die wegstap kar toe, dat dit nie al is wat hom sou gelos het as dit my man was nie. Van sy dele sou hy nooit weer bymekaar gekry het as ek met hom klaar was nie!





