Hoofstuk 8. Die Sensusopname

STORIE AGT UIT PLATPLEK SE MENSE

Omdat ons altyd arm was op die vlakte, het ons elke geleentheid aangegryp om êrens ‘n ekstra geldjie te verdien. En een jaar besluit Marietjie en Ralie om te gaan sensusopnames te doen. Met al hulle dokumente gereed, besluit hulle om by die hotel se Engelse kroegmeisie te begin. Hulle pik toe op haar, want díe het nie ‘n vreeslike suiwer reputasie op die dorp gehad nie. 

Maar nou moet ek net gou sê dat min van ons op die vlakte behoorlik Engels kon praat. Ons het nooit die geleentheid gekry nie, want selfs Shorty en Louisa wat die kafee gehad het, het Afrikaans gepraat. En die aksente!

Grênd aangetrek en uiters streng en professioneel stap hulle die middag die kroeg binne. 

“Good afternoon. We are here to do the sensus for the Goverment and you must answer every question we ask. Do you understand?” vertel Marietjie die kroegmeisie mooi. Die verskrikte meisietjie skud net haar kop.

“How old are you?” vra Marietjie en die kind sê twee en twintig. 

“What is the date of your birth?” Die kind gee die datum.

“How many times a week do you have sex?” Vra Marietjie en die kind skuif ongemaklik rond en sê sy is seker sy hoef nie daai vraag te antwoord nie.

“It is asked here on the form.” Voeg Ralie by. “And if you refuse to answer any question you could go to jail. It is for the GOVERMENT! So, answer! Is it three or more times a week?” Die meisie vee verleë oor haar wit gebleikte hare en sê dis so drie keer ‘n week.

“Is it with the same man or is it different men?” Vra Ralie. Die meisie raak bloedrooi en sê sy sal nie die vraag beantwoord nie!

Marietjie stamp met haar vinger ongeduldig op die vorm en sê :“It stands here. You must answer!” Die meisie sê floutjies dat dit met verskillende mans is. 

Ralie: “Is the lights on or off?” Toe spring die kind op en hardloop weg en Marietjie-hulle val omtrent van die kroegstoele af soos hulle lag.

Vir die res van die opnames het hulle die boere R50.00 gecharge om die vorms vír hulle in te vul. Die boere was maar te bly om nie self die skryfwerk te doen nie en het betaal.

Soortgelyk

heksedans

– Intussen dans ons godeloses soos hekse en heidinne op dwelms in grotte en woude om die sondes wat hulle in god se naam pleeg uit te weeg.

Read More »