STORIE VYF UIT PLATPLEK SE MENSE
Ek kom een oggend by Lida op die plaas aan en kry haar bedremmeld in die kombuis met ‘n koppie koffie. Dit lyk of sy die doodstyding gekry het. Ek skrik, want ek ken nie die sterk vriendin van my so nie. Ek gaan sit toe maar saggies oorkant haar en vra haar wat makeer. En Lida kyk my met díe hartseerste oë aan en sê: “Ek is ‘n moordenaar, Lizelle.”
Maar ek word opslag stokstyf, want ek sien dadelik Lida se suipende voorman waarmee sy soveel moeilikheid het, in ‘n plas bloed met ‘n broodmes trillend in sy rug! Voordat ek nog iets kan sê, bars Lida in trane uit: “Alles het net te veel geword vir my Lizelle. Ek wou dit nie doen nie, ek weet nie hoekom ek dit gedoen het nie, maar alles het net te veel geword vir my!”
Ek skrik vir my so wit soos ‘n wolwedrol en ek sit lam en yskoud die vrou voor my en aankyk. Al wat in my gedagtes om en om tol is die besef dat ons van die lyk ontslae moet raak. Want, redeneer ek toe by myself, as Lida vanoggend nog hier in haar kombuis kan sit, weet die polisie nog nie van die moord nie en kan ons nog van die lyk ontslae raak. Ek kry krag iewers vandaan en ek vra vir haar waar hy is en sy sê vir my: “Hy’s weg, Lizelle, en dis my skuld”.
Ek vra haar weer waar hy is, maar sy hoor nie, want sy gaan voort en vertel my dat haar hele dag verkeerd begin het. Sy het nie kans gekry om haar eerste koppie koffie te drink nie. “Jy weet hoe belangrik dit vir my is om my eerste koppie koffie rustig te drink, Lizelle. As ek eers my koffie in het, kan ek die wêreld vierkantig in die oë kyk en my deel as moeder en boer met toewyding doen.” Sy het glo die oggend nie haar koffie gedrink gekry nie, want toe sy in die kombuis kom, staan die kat haar en inwag en díe skreeu asof hy net Maandae kos kry en dis al Vrydag. Sy sê sy wou hom skop, want sy het nog nie haar koffie gehad nie, maar bedink haar toe en maak ‘n blik katkos oop en gee vir die dier sy regmatige deel.
Daarna skakel sy die ketel aan en maak vir haar ‘n koppie koffie. Maar voordat sy ‘n sluk kon vat, storm haar oudste dogter die kombuis binne met die verwyt dat sy Ma die vorige aand gevra het om haar vroeër wakker te maak sodat sy haar werk kan oorgaan vir die toets wat sy skryf die dag. En nou het Ma vergeet en dit is nag vir haar! Lida sê sy sit toe haar koffie neer. Maak gou vir haar en die ander dogter elkeen ‘n koppie koffie en vat dit vir hulle kamer toe en kry hulle uit die beddens en aan die aantrek.
Toe sy uiteindelik terugkom in die kombuis, is haar koffie koud. Maar sy besluit om eers die dogters se ontbyt te maak en hulle betyds weg te kry skool toe, voordat sy vir haar in vrede weer ‘n koppie koffie sal maak. Sy doen toe ook so en nadat sy die laaste kind by die deur uit het, mét toebroodjies in die hand, skakel sy die ketel aan en maak vir haar koffie.
Voordat sy egter ‘n sluk van die begeerlike vloeistof kon inneem, slaan iemand aan die agterdeur asof sy lewe daarvan afhang. Sy sê sy sit haar koffie inderhaas neer en gaan kyk wie die erg beangste persoon is. Sy vind die ou kok, wat vir al die werkers op die plaas koskook, voor die agterdeur met die klagte dat hy nie mieliemeel en sjeba vir die oggend se ontbyt het nie. Sy kry inderhaas die meelkamer se sleutel en loop meet toe sommer vir hom al drie die etes van die dag se mieliemeel en sjeba af en kry hom gelukkig en tevrede daar weg. Maar, sê Lida, toe sy verby die hoenderhok huistoe stap, toe drom haar rooi henne teen die draad saam en vertel haar luidkeels van hulle hongerte en sy stap maar weer terug meelkamer toe vir hulle lêpille. Terwyl sy tussen die spartelende, kekkelende hoenders kos in die bakke gooi, hoor die varke die helse lawaai en besef dat dit voertyd is en gaan aan de skreeu asof hulle lewendig keelafgesny word.
“Lizelle,” sê Lida vir my, “dit voel toe mos op daardie stadium vir my of daai geskreeu dwarsdeur my koffielose liggaam trek en ek begin vir my opwerk oor al die vretende wesens waarvoor ek elke dag van my donnerse lewe moet kosgee!”
Die spanning in my word feitlik ondraaglik, want ek ken hierdie vriendin van my. As sy eers opgewerk is, is Napoleon se aanstromende leermagte ‘n mooie bog in vergelyking met haar! Ek weet toe om haar nie aan te jaag nie, want as Lida ‘n storie gevat het, vat sy vir hom voluit en enduit, met geen kortpaaie na die klimaks toe nie. Nee, ek ken haar. Sy beskryf elke stukkie besonderheid haarfyn ter verdediging en motivering van haar uiteindelike optrede en ek laat haar maar begaan.
“Lizelle, ek is ‘n vrou van in die veertig en soos dit ‘n vrou van my ouderdom betaam, weet ek wie ek is en waarheen ek oppad is. Dan besit ek ook nog die nodige statigheid wat die spesifieke ouderdom aan ‘n mens verleen. Ek meen, ‘n mens hardloop nie op díe ouderdom as jy haastig is nie, jy stap flink. En jy spring nie op en af soos ‘n kind as jy bly is nie, nee, jy glimlag mooi en slaan jou hande saam. Maar vanoggend het ‘n gans my van al my waardigheid ontneem!”
Lida sê, toe sy uiteindelik die spul varke se krete uit die hel stil het en weer huistoe stap, vaar die satan of die honger of iets in die dogters se mak gans, wat los op die werf rondloop, in. Hy skraap vir haar en jaag haar met ‘n draai oor die werf tot binne in die meelkamer in! Lida sê sy het nog nooit in haar lewe so gehardloop nie! Jy het net dinges en hare sien waai, want as daardie gans jou aan die bobeen beetkry, byt hy vir jou pimpel en pers. Toe sy die meelkamer se deur agter haar toeklap, sak sy op die koue sementvloer neer en daar het sy vir langer as tien minute gesit voordat sy haar asem teruggekry het.
“Nee Lizelle,” sê sy, “dit was ‘n vernedering wat ek nie gou uit my gestel uit gaan kry nie. Ek meen, om op díe ouderdom deur ‘n bemoerde gans op jou eie werf rondgejaag te word, is darem te erg vir enige fynbesnaarde gees!”
Toe sy later, nadat sy haar asem teruggekry het, die meelkamer se deur op ‘n skrefie oopmaak, staan die gans nog steeds daar en hy blaas vir haar. Sy gryp ‘n klomp mieliepitte en gooi dit by die deur uit. Toe sy seker is hy is goed aan die vreet, maak sy vir die kombuis! Sy sê, toe sy, weereens uitasem, by die kombuisdeur aankom, toe is sy moerig! “Lizelle,” sê sy vir my, “ek was gatvol vir almal en alles wat ek op my nugter maag moes kosgee. Maar my vriendin, ek sê vir jou, nog syn dit het einde niet!”
Op daardie stadium sien sy toe net ‘n koppie koffie voor haar en sy weet as sy net die koffievlak in haar liggaan kan regkry, sal haar dag begin reg draai. Maar voordat sy die kombuis kan in, sien sy haar twee honde met leepoë by hulle leë kosbak sit. Sy kners al haar tande tot poeier en kry die sak hondekos in die spens. Terwyl sy die kosbak volmaak, hoor sy haar voorman na haar roep oor die tweerigtingradio en sy vlieg die huis binne en beantwoord sy roep. “En kan jy raai wat sê hy Lizelle?” Vra sy vir my en ek sien die vrou se bruin oë spoeg vuur! Ek besef toe hier kom die moord en my reeds uitgerafelde senuwees begin op my nerves te werk! Ek por haar aan, want ek wil weet waar die lyk lê en sy sê vir my: “Hy sê vir my dat die voer van die skape klaar is en dat ek baie gou by die koöperasie moet gaan kry, want die skape drom by die bakke. My liewe donner! Kon hy dit nie gister vir my gesê het toe hy die laaste voer ingegooi het nie?!”
“Ek was so kwaad ek kon hom vermoor!” Ek voel hoe ‘n onsigbare hand my keel toedruk van vrees. Sy sê sy draai daar om en vlieg die gang af en vervloek al wat vretende, etende lewende wese op daardie plaas. Van sy voorste voorgeslagte af tot by sy laastederherste nageslag. En terwyl sy so al beswerende en vloekende deur die eetkamer storm, val haar oog op die ronde visbak met die goudvis daarin. Die goudvis se bek gaan oop en toe, oop en toe soos hy kos vra. Lida sê dis toe dat iets in haar breek, sy weet nie wat nie, maar iets het gebreek! Sy gryp daardie visbak en trek met hom die gang af en sy gooi die happende vis met water en al in die toilet en sy spoel hom weg!
“Wég, Lizelle” sê vir my. “Vir ewig weg. En hier sit ek nou – ‘n koelbloedige moordenaar wat ‘n onskuldige honger goudvis die ewigheid ingestuur het en ek was lief vir hom! Dit was sy gewoonte om altyd kant toe te swem as hy my sien aankom.” En Lida huil vir haar net daar heeltemal bevange. Ek laat haar maar begaan, want ek voel hoe die verligting oor my spoel soos lou water.Nee, ek laat haar toe maar begaan en ek sit terug en drink my tee, wat in die spanningsvolle paar minute terwyl Lida haar storie vertel het, yskoud geword het. Ek dog so by myselwers dat dit ‘n baie sad storie is díe, maar dat ek baie stof tot dankbaarheid het. Lida het darem self van die lyk ontslae geraak.






