Hoofstuk 4. Spietkop of ambulans

STORIE VIER UIT PLATPLEK SE MENSE

As ek nou terug dink aan al die dinge wat daardie jare op Stofbultlaagte gebeur het, dink ek die storie met die ambulans was die heel snaakstederherste gebeure van ons vlaktebestaan.

Een oggend, so met die instap in Marietjie se winkel, sê sy sonder om te groet: “Hulle begin alweer, en dit oor Anna se bliksemse hond!”

Jy moet half aan die flink kant wees as jy met Marietjie te doen het en ek sit my brein in top gear. “Wil jy vir my sê hulle wil weer ‘n spietkop hier op Stofbultlaagte aanstel?!” sê-vra ek haar. Sy skud haar kop. “Ja, en jy weet wat se stront dit die vorige keer afgegee het!”  Ek onthou die hele storie toe nog baie goed en ons gaan sit agteroor met ‘n koppie tee en gaan af oor diè bittere tyd in Stofbultlaagte se geskiedenis.

Ons het al die jare heel rustig gelewe op Stofbultlaagte. Só rustig, dat selfs nie een van die oudste inwoners kon onthou van enige krisis of ongeluk wat plaasgevind het vandat die aardige plat plek gemaak is nie. Elkeen het sy gang gegaan en sy ding gedoen en gery en gestop soos hulle wou op die paar stofpaadjies tussen die huise en winkels.

Tot die dag toe ou tant Fienie, Stofbultlaagte se nie-amptelike en selfaangestelde burgemeesteres, besluit het dat die plek ‘n verkeersman benodig. Tant Fienie was destyds voorsitster van die gesondheidskomitee gewees. Eintlik wás sy die gesondheidskomitee, want as tant Fienie die dag ‘n besluit geneem het, was die besluit geneem en het dit kort duskant die staatskoerant gedraai voordat sy dit as wet geproklameer het. En wee diegene wat enigsins laat blyk het dat hy ontevrede was met die nuwe wetgewing. Sy het so ‘n stompsinnige, dwarstrekker summier met haar lywige liggaam en baritonstem van die aarde afgevee! Nee, niemand het sommer vir tant Fienie teëgegaan nie. Dit is hoekom die verkeersmanstorie toe sulke geweldige en byna onhanteerbare afmetings aangeneem het!

“Maar die hele storie,” sê Marietjie toe die dag vir my, “het eintlik by die noodhulpaffêre begin.”  Ek stem met haar saam, want een of ander oorywerige vrou stuur op ‘n dag ‘n noodhulpaksie van stapel. En sy jaag al wat boervrou is die harnas in met haar dreigemente oor terroriste en bomaanvalle en sluipmoorde en wat nie nog alles nie. Die een vergadering na die ander word belê waartydens die grusaamste, bloedbevlekste stories oor gebeure op ander plekke vertel word. In elke vertelling is dit net derms en harsings wat rondlê en aaklige beenbreuke en rugbeserings wat op die dood uitloop, omdat omstanders nie korrek opgelei was om die beserings te hanteer nie.

Die klomp vrouens vang net daar die groot skrik en ou lakens word opgeskeur en verbande word gemaak. Tamatiekassies word uitmekaargeslaan vir spalke en die noodhulpklasse sit vol elke aand. In ‘n ommesientjie word die eeu-oue, rustige, krisislose en ongeluksvrye gemeenskap op ‘n gereedheidsgrondslag geplaas wat ‘n direkte aanval uit Rusland self die hoof kon bied! Die hele distrik word in wyke ingedeel en elke wyk word met ‘n tweerigtingradio beman, wat direk met die polisiekantoor en die noodhulphoofkwartier én onderling met mekaar, in verbinding is. Elke wyk is verantwoordelik vir ál die motorongelukke, bomaanvalle en terroristeaanslae wat binne die wyk voorkom.

Dit oefen net drukpunte en dit verbind mekaar totdat hulle soos mummies lyk! Die polisie kry nie hul draaie soos hulle oproepe moet opvolg oor vreemde verskynsels en verdagte persone wat nadere ondersoek vereis nie. Ag, die hele gemeenskap is in ‘n senutoestand opgewerk en die ergste word elke oomblik verwag. Toe almal uiteindelik deeglik opgelei en opgetens en georganiseerd is, beplan die noodhulpkomitee, in die geheim, ‘n skynaanval op die skoolbus om die noodhelpers se paraatheid te toets.

Net die onderwysers en die kinders op die bus en die drie of vier komiteelede het geweet van die skynaanval. Een middag na skool trek hulle die bus, net so ‘n entjie uit die dorp uit, dwars in die pad. Hulle gooi al wat kind is van de tamatiesous en mercurochrome en laat lê hulle in die aardigste posisies die veld en teerpad vol. Die radios word beman en die terroristeaanval op die skoolbus word deurgesein en ‘n krisissituasie uitgeroep en elke noodhelper se dienste word vereis!

Nou kyk, as die noodhulpkomitee gedink het die terroristeaanval was die krisis, het hulle nie rekening gehou met die noodhelpers nie! Want elkeen van daardie noodhulpvrouens had ‘n kind of twee op die skoolbus. By die aanhoor van die nuus word party sommer net daar by die huis flou en party histeries! Die sterkeres hou tot by die aanvalstoneel, maar by die aanskoue van die bebloede kinders dop hulle net daar om of gaat aan die skreeu! Die meeste het van pure skrik hulle noodhulpkissies by die huis vergeet. Dit was pandemodium, want soos jy sê mes, het die grusame nuus deur die gemeenskap versprei en die bakkies en karre kom van heinde en verre aangejaag! Maar om ‘n lang storie kort te maak. Nadat die noodhelpers gelaaf en tot bedaring gebring is en die kinders van werklike beserings, as gevolg van die samedromming, gevrywaar is, begin hulle toe die klomp slagoffers verbind.

Die paar wat oorgebly het, want ‘n klomp ouers het hulle vreeslik gewip oor die onnodige spanning wat op hulle en hulle bloedjies geplaas is, en hulle het hulle getamatiesousde kinders net daar in die karre gelaai en gery! Maar nadat die ou spulletjie toe klaar verbind is en die rugbeserings reg gehanteer is, toe staat hulle daar. Want wat nou gemaak met die beseerdes? Net daar word ‘n leemte in die hele operasie blootgelê – hulle het nie ‘n ambulans om die beseerdes hospitaal toe te ry nie.

Die volgende oggend agtuur staan ‘n afvaardiging van die noodhulpkomitee voor die gesondheidskomitee en hulle sê vir tant Fienie daar moet dringend ‘n ambulans aangekoop word. Ou tant Fienie sê jammer sy kan nie, want sy het net verlede week besluit dat Stofbultlaagte ‘n verkeersman nodig het en die dorp kan nie ‘n ambulans en ‘n verkeersman bekostig nie.

Maar Marietjie reken toe dat die eintlike rede vir ou tant Fienie se dwarsgeit, was omdat sy de moer in was vir haarself omdat sy nie eerste aan die blink idee van die ambulans gedink het nie. Toe besluit sy sommer dat ‘n verkeersman nodiger is as ‘n ambulans en sy jaag almal die duiwel in daaroor.

Ek stem met Marietjie saam, want dié besluit van tant Fienie gee toe weer ‘n heerlike tyd van tweespalt en twis af met die gebruiklike broer teen broer en vader teen seun! En sommer vir die spangees niggie teen neef ook. Maar ou tant Fienie tree toe, soos gewoonlik, as oorwinnaar uit die stryd en ‘n paar weke later stoom die verkeersman die dorp geweldadig binne en skryf net kaartjies uit! Hy maak die spooroorgang, waar die enigste stopteken in die dorp staan, sy groot toeslaanplek. Daar was geen parkeermeters nie, want daar was geen gemerkte parkeerplekke nie. Oral was net stof en stofstrate.

Ek het nooit kon dink dat ‘n lewende wese homself op die dorre veld só plat en klein en onsigbaar kon maak nie. Die verkeersmannetjie gebruik toe die enigste verkrimpte seringboompie, wat daar langs die spoor staan en beur teen die droogte, as wegkruipplek. Ek sê vir jou, as hy vir hom agter daardie stammetjie skuilgemaak het, kry die FBI hom nie daar uitgesnuffel nie! Hy het later die boere heeltemaal verbouereerd en die vreeslikste ongelukke vind by die spooroorgang plaas. Want ongewoond aan die gestoppery by die oorgang, foeter hulle toe gereeld van agteraf in mekaar in as een onverwags by die spoor aan die stop gaan.

Die boere leer toe naderhand om die stopteken te respekteer en tant Fienie raak skoon ongeduldig oor die afname in boetes wat plaasvind. Sy bedink toe ‘n plan en sy laat skuif die spoedbeperkingsborde, wat aan weerskante van die dorpsgrense staan, sommer ‘n halwe kilometer uit die dorp uit. En die verkeersman looi weer onder die niksvermoedende spoedoortreders!

Marietjie reken dat die skade wat die verkeersman aan die infrastruktuur van die dorp gedoen het, die ergste was en ek stem met haar saam, want die hotel het amper bankrot gespeel. Niemand kon dit meer waag om daar ‘n draai te maak nie, want die verkeersmannetjie het om elke hoek en draai met sy blaaspypie gewag. Al wat op daardie stadium floreer het, was die gesondheidskomitee. Dit gaan lateraan so goed, dat tant Fienie besluit om die dorp te verfraai. 

Sy kry ‘n boertjie in die omgewing met ‘n half verfynde gees en sy gee hom opdrag om ‘n tuin aan te lê. Die boertjie vat ‘n oop stukkie grond daar langs die spoor en hy maak die mees eksotiese bedding met die fraaiste krulle en draaie en plant drie palmbome daarin. Die hele Stofbultlaagte is opgetrek oor hierdie opgradering van die dorp en hulle aanvaar die verkeersman in die uitvoering van sy pligte net daar en dan.

Ag, hulle neem hom toe só op in hulle harte en in die gemeenskap, dat daar naderhand nie meer ‘n enkele boete uitgeskryf word nie. Tant Fienie besluit later wrewelrig dat die gemeenskap nou so goed van verkeersreëls en alles geleer het, dat die verkeersman se dienste nie meer benodig word nie en ‘n ieder en ‘n elk neem met opregte hartseer van die pragtige man afskeid.

“En nou het Anna en haar hond weer die hele storie oor die verkeersman aan die gang!” Sê Marietjie vir my die oggend in haar winkel en ek kon net my kop skud. Want Anna se hond se been is afgery toe hy in die hoofstraat voor ‘n kar ingehardloop het. Sy het ‘n petisie opgetrek en handtekeninge gewerf, en die ondersteuners van reg en geregtigheid het aangedring op ‘n verkeersman ter beskerming van die kinders en diere en wese en weduwees teen roekelose bestuurders!

Later toe ek opstaan om te ry, voeg Marietjie, opsigtelik omgeêllie, as laaste gedagte by: “As die motoris nog ‘n wilde draai in Anna se tuin gaan gooi het en die hond desmoers gery het, kan ek haar ontsteltenis verstaan! En dit lyk vir my boonop of die gesondheidskomitee heel ingenome is met die idee van ‘n verkeersman.”Ek stem met Marietjie saam en verwonder my oor die aangeleentheid. Maar so met die uitstap kar toe, val my oog op die drie palmbome, wat intussen van die droogte beswyk het en ek dink so by myself dat dit nie gaan oor Anna se hond of onverskillige bestuurders nie. Die gesondheidskomitee wil seker weer die dorp verfraai. 

Soortgelyk

heksedans

– Intussen dans ons godeloses soos hekse en heidinne op dwelms in grotte en woude om die sondes wat hulle in god se naam pleeg uit te weeg.

Read More »