Gemaklike skoene en gepermde hare 1

“Tannie Meraai se kinders het darem almal goed getrou,” sê Oupa so met die intrapslag. Die laaste du Preez is nou getroud met “’n man van aansien, hoog op in die weermag” het Oupa kwyt geraak. 

“Hanno en Marilize Pretorius,” sê Oupa, “dit klink mooi. Jy weet Pretorius is ’n trotse van,” voeg hy by. “Wanneer trou jy?” vra hy, “en vir wat dra jy sulke stywe broeke?”.

Ek het vroeg in my lewe agtergekom dat daai groot wiel draai en as jy jou nie handhaaf nie, bevind jy jouself aan die verkeerde kant van die draad, letterlik, en nou-nou, nou-nou loop iemand moeilik. Ma het mos so terloops geskei en skeef geword. Pa het erg begin fles vat en het later daaroor gekom, hy’t nou ’n varkhond wat so dom is hy dink die sopbene kom van onder af.

Dit was die storie van die dorp, Tannie Meraai het seker gemaak dat die hele gemeenskap weet en almal het my grootoog in die kerk aangekyk en bakhand gestaan en skinder by die teefunksie na die tyd. Maar hulle sit rooigesig bankvas in die kerk en kyk wie is vandag nie daar nie en bid vir hulle.

My suster het geweier om te kom kuier, sy’t eenvoudig nie ooghare vir die mense en Pa se naïwiteit nie. Hy glo almal wat kerk toe gaan is goed en familie is belangriker as kos.

Sondae by Pa se suster word Tannie Meraai se walglike droë skaapboud so stuk-stuk afgesluk met whiskey en water, want almal weet die poeding is soos God se seën. 

Kyk, sy skinder ’n plaassentrale tot bekering, maar as dit by gebakte lekkernye kom dan moet ek haar ’n rosette gee. 

So gaan Sondag vir Sondag verby en daar word so altyd half terloops vir my gevra hoe dit met Ma gaan en met Dezzie (Ma se vriendin), en ek antwoord eerbiedig kortaf, terwyl Pa my aangluur oor die rand van sy whiskey glas. Elke Sondag dieselfde terloopse vraag en elke Sondag dieselfde sotlike antwoord.

By die skool is ek aangekyk want ‘da loop Carl met die skewe Ma’. Dit het my nie regtig gepla nie, want die helfte van hulle het gedink hulle is hul pa’s se enigste kinders, Landbank se hoofkantoor is mos gerieflik in Pretoria middestad geleë.

Die grootste skinderbek-bybel-onder-die-arm-en-op-die-dashboard-en-bo-op-die-MNET-dekodeerder-tannie wat in my Ma se buurt gebly het se mond was verstommend stil. Grootste Christen in die dorp en die heilige boek lê oop by Prediker as daar ver gery moet word in ’n Volvo stasiewa. Sy’t ook maar sulke onverwagse uitstappies of ‘kerkfunksies’ gehad wat sy meer as gereeld in die stad moes bywoon, sy’s een van daai met die gemaklike skoene en kort hare.

Nou sit ek hier in Ma se voorhuis, Pa het kom hallo sê. Dis so nege jaar na die laaste Du Preez se troue. Pa lyk skuins beneuk asof hy iets moes bak. Hy en Ma drink koffie en gesels heel beskaafd. Hulle kom eintlik beter oor die weg as tevore.

Ma vra hoe dit met die oes gaan en Pa sê Hanno is ’n moffie. Ek stik in my koffie. Ek het geweet daar’s iets reg fout met mans wat hulle vrouens se hare perm. Dis seker lekker om so tussen uniforms te werk… Tannie Meraai vat dit glo nie so goed nie. Sy drink nou so baie Prozac en rum Pa sê sy lyk soos bly-roomys. Sy mompel in die kerk en vat aan almal se hare soos sy in die kerkbanke inskuif, oë sit stokstyf in haar kop soos twee albasters wat in kookwater geval het, sy mag nie meer dope of nagmaal bywoon nie, dit ontstel die kinders.

Met die dink ek aan sus, wat amper die oudste van die niggies en nefies is en nog steeds nie getroud is nie. Sy moes alewig aanhoor hoe goed die ander niggies getrou het en dat babas nie saam met plooie kom nie. Gebruik mense nog die term hoerkind?

Ek dink toe aan Ma se Bybel-buurvrou en haar man, hulle altwee is glo so skeef soos plaas-pelmets en het maar besluit om te trou, sodat hulle ook die poorte van die hemel kan binneloop, die man kan ook hare perm. Hulle kinders is ook in terapie, die oudste rook heeltemal te veel dagga en die jongste studeer drama aan Stellenbosch, het glo al drie een-man toneelstukke op die planke gebring asook ’n interpretiewe dansstuk gebaseer op die lewe van Sheila Cussons.

Ek spring onmiddellik op en hol foon toe – bloed is dikker as water, seker maar by Tannie Meraai geërf om so aanhoudend feite uit te ruil oor die foon. Ek bel onmiddellik vir Sus en vertel haar van die skewe affêre, sy lag en sê ek moet kom kuier, sy’t glo ’n nuwe ou ontmoet. Sy dink aan trou. Ek vra of hy kan hare perm en sy sê nee maar hy het ’n baard. Ek sê ek sien jou volgende naweek, ek stick jou vir ’n perm.

Kyk bietjie rond...

A tiny love story written at 17:15

I was feeling rather overwhelmed; this was before the word became trendier that OCD and everyone suffered from it. Sitting down on

Loulierblare en Skoonfamilie

Martie het eendag, toe ons daar in haar winkel gesit en tee drink het, ‘n onskuldige opmerking gemaak wat die satan in