STORIE ELF UIT PLATPLEK SE MENSE
“Die huwelik,” sê Marietjie die oggend in haar winkel, “is ‘n snaakse ding.” Ek ís lus vir gesels en alhoewel ek weet dat die huwelik ‘n snaakse ding is, vra ek haar hoekom sy so sê.
En Marietjie sê vir my: “Nee, ek dink nou sommer so aan die twee jongmense wat nou gaan staan en skei. Weet jy Lizelle, twee jaar gelede toe die twee daar voor die kansel staan, toe dag ek nog so by myself dat as daar ‘n huwelik is wat gaan hou, is dit dié twee sin. Hulle het so mooi bymekaar gepas. Ek meen, hulle kom uit dieselfde tipe huis uit en altwee is geleerd en goed opgevoed en alles.”
“Ja,” sê ek vir Marietjie, “maar die jongmense skei maklik deesdae. Dis of hulle nie genoeg murg in hulle pype het om ‘n huwelik te laat werk nie. Met die eerste ou klein probleempie wat opduik, spat hulle siele aan flarde en hulle bene kan hulle nie vinnig genoeg skeihof toe dra nie. Ons ouer geslag het meer vegtersmoed in ons as die jongetjies van vandag. Vat nou maar vir Herman en Rita van Vuuren. Al twintig jaar getroud…”
Ons skuif vir ons daar gemaklik en ons vat die spoor terug in die twee se verlede in. Die dag met hulle troue, het ons almal besluit hier kom moeilikheid. Party het vir hulle ses maande gegee en ander ‘n jaar, maar ‘n langer getroude lewe kon selfs die grootste optimis nie daardie dag vir hulle voorspel nie.
Rita was ‘n mooi, maar half befoeterde jong meisie wat, arm soos sy grootgeword het, gewoond daaraan was om hard te werk vir ‘n bestaan, terwyl Herman tot die dag van sy troue nie ‘n enkele eerlike dag se werk verrig het nie. Van verantwoordelikheid en plig het hy geen benul gehad nie, want pa was mos altyd daar om te sorg. Toe hy die dag met Rita trou, gee pa hom twee plase persent en reik hom uit met ‘n tjekboek vol geld en met trekkers en implemente waarmee hy daardie twee duisend hektaar soos ‘n fyntuin kon bewerk. Dis toe net waar al die pret toe begin!
Ongewoond aan werk en gewoond aan speel, sit Herman toe sy gewoonte voort. Dit jol en lê in die kroeë en op boeredae saam met die boys tot die vroeë oggendure. Dan kom slaap hy sy roes af tot wie weet watter tyd in die dag. Getrou aan haar aard, neem Rita toe nie met dié storie verlief nie en die een rusie volg op die ander. Herman, wat nie gewoond daaraan is om teëgegaan te word nie, verloor lateraan sy humeur heeltemal en begin slanerig raak aan Rita. Die hel is naderhand briekless! Want hoe meer Herman drink en rinkink, hoe meer baklei Rita, en hoe meer Rita baklei, hoe meer drink en rinkink Herman. Rita sien naderhand die plaas gaan ten gronde en sy neem die boerdery oor. Met die verligting van die verantwoordelikheid van die boerdery van sy skouers af, is daar net geen keer aan Herman nie. Vir nagte kom hy glad nie meer huis toe nie, en die kere wat hy wel ‘n tydjie by die huis spandeer, moet Rita net bakstaan of sy loop ‘n pakslae op die lyf.
Maar Rita was ‘n skerp mens. Die trick wat sy op Herman begin trek het, was klassiek.
Sy raak toe op ‘n dag keelvol vir die geslanery aan haar en word skierlik heeltemal pateties as Herman in haar nabyheid kom. Elke keer as sy vir hom ‘n koppie tee of ‘n bord kos aangee, gaan sy só aan de bewe dat sy die warm goed alles op sy skoot uitmors. Waar hulle ook al tussen mense is en Herman beduie iets met sy hande, koes Rita vir ‘n vale en hou haar hande voor haar gesig. Die man was naderhand skoon verbouereerd van skaamte en sy hele skoot gruwelik verbrand. Rita se verweer was net dat sy doodbang is vir hom en daarom so aan die bewe en aan die koes gaan. Herman los die slanery toe net daar uit skaamte uit en vir ‘n paar jaar gaan dit redelik goed. Ek sê redelik goed, want met sy drinkery en rondlopery kon sy hom nooit heeltemal hokslaan nie.
Een aand is daar ‘n dans by die hotel en Herman en Rita tel ‘n argument op oor ‘n ander vrou en die twee is daar by die deur uit om die saak buite te gaan besleg. Herman se handjies raak weer lig en hy klap vir Rita.‘n Ander man sien die hele petalje en hy kom spring tussenbeide en stamp die twee uitmekaar. En daardie Rita erg haar mos daar en sy slaat die vreemde man met ‘n vuis dat hy trek, want wie is hy om sommer so in hulle privaat sake te kom inmeng? Ek dink Rita het baie jare se frustrasie en woede in daardie hou gesit, want die man het net daar bly lê waar hy lê.
Maar die satan vaar mos daar in Rita in toe sy sien hoe plat sy die grote man geslaan het. Sy gryp daardie Herman aan sy kraag en gooi hom in die bakkie. Wel, wat by die huis gebeur het was glo iets verskrikliks! Die eerste ding waarop Rita haar hande kon lê, was ‘n tennisraket. Herman het gevoel of hy omsingel was! Sy het vir hom geslaat dat hy vir twee weke lank in die hospitaal gelê het met gebreekte ribbes en harsingskudding en veelvoudige beserings veroorsaak deur ‘n stomp voorwerp!
“Nee,” sê Marietjie toe ek later opstaan om te ry, “Rita het al sy rammetjie-uitnekgeit uit hom gemoer!” Ek beaam dit, want na daardie aand het Herman nooit weer gedrink of rondgeloop nie en sy hande uitsluitlik gebruik om op die plaas mee te werk.So met die uitstap kar toe, dink ek by myselwers dat die jongmense ‘n slapte in hulle het. ‘n Mens baklei mos vir wat jy wil hê in die lewe, en waar kry jy nou beter plek vir ‘n lekker geveg as binne die huwelik!





