Hoofstuk 12. Die Asgatvrou

STORIE TWAALF UIT PLATPLEK SE MENSE

Ons het ons eendag gruwelik vir ‘n teefsel uit die voorwêreld, wat haar hier kom aanstel het, gewip. Man, ons was die dag so ontstig, ons moes vir ons ‘n ou wiskiekie by die tee gooi om te kalmeer.

Kyk, as ‘n mens sy brood op ‘n eerlike manier verdien en hy doen dit wat hy doen goed, dan het jy mos respekte vir so ‘n mens. Gee nie om watse soort werk hy doen nie. En so het ons daardie jare groot respekte gehad vir ons asgatvrou op Stofbultlaagte. Maria het daardie tyd ons dorpie se asgat (of vullissstortingsterrein soos dit nou in grênd Afrikaans bekend staan), bewerk. Sy het al die blikke en bottels en papiere en ysters sorteer en dit dan verkoop aan die mense wat weer al die goed herwin.

Maria het hard in die bloedige son gewerk en was trots op haar werk. Die arme mens was elke dag toe van die stof en die vuil en haar vel naderhand soos leer verbrand. Dan het sy nog elke dag myle van die plot af dorp toe geloop om te kom werk. Maria was getroud met Dawid, ‘n bouer, maar vreeslik onbetroubaar. Hy was ‘n bloeier en het glo ook eienaardige aanvalle gekry wat gemaak het dat hy nie altyd op die job kon wees nie. Sy eintlike nering was glo houtsneewerk en hy het ons ook belowe dat hy eendag sy handewerk vir ons sou kom wys. 

Nou so het Maria ook maar vir Dawid gesorg. Elke einde van die maand het sy haar potjie Ponds vir haar vel kom koop en ander ou goedjies vir haar en Boetie. Boetie was Maria se enigste kind. Sy was baie trots op hom en het eintlik net vir hom gelewe. Boetie was in die Hoërskool en ‘n presteerder soos min. 

Elke einde van die maand het sy “something special” vir Boetie kom koop. Ag, sommer ‘n skryfboek of nuwe pen, of partykeer as die geldjie ‘n bietjie meer was, ‘n paar kouse of ‘n goedkoop paar skoene. En dan het sy hom ook altyd saamgebring op ‘n Saterdagoggend om sy geskenkie te kom kies. Hulle kon vir ure in Marietjie se winkel ronddwaal en na al die begeerlike goed kyk, en somtyds het Maria haarself ook ‘n bietjie getreat en vir haar die blinkste oorbelle en krale gekoop.

Marietjie het altyd so aardig gevoel om die goedkoop goed aan Maria te verkoop, want sy het geweet dit gaan nie lank hou voor dit breek of die oorgeblaasde goue verf af is nie. Dan het sy maar altyd ‘n vreeslike afslag gegee, omdat Maria kontant koop en so.

Boetie skryf toe matriek en kry ‘n onderskeiding in Engels en daar’s nie genoeg mense op Stofbultlaagte waarvoor Maria díe nuus kon vertel nie. En Boetie moet army toe, maar die army kan hom eers Augustus vat. Maria kry vir Boetie, met sy onderskeiding in Engels, vir ‘n maand lank werk by ‘n boer wat besig is om tamaties te pluk. 

Maar een môre kom Maria betraand by Marietjie in die winkel aan. Die trane het twee sulke lang wit strepe op haar vuil wangetjies gemaak. Maria het haar snikkend voor Marietjie neergeplak en in een asem gesê: “Boetie moet army toe, Marietjie. Die asgat is af en Boetie het net werk totdat die tamaties klaar geoes is. Ons trek swaar. Jy moet vir die army skryf, Marietjie!”

Marietjie het toe vir die army geskryf en die hele situasie beduie en twee weke later kry Boetie ‘n brief wat sê dat hy die begin van die volgende maand moet aanmeld vir diensplig. Maria was buite haarself van vreugde en weer baie trots op hierdie besonderse kind van haar wat nou ‘n soldaat gaan word. 

Maar daar moes goedjies, wat die army laat weet het, aangekoop word. Boetie leen vooruit op sy salaris by die boer en Saterdagoggend kom doen hulle toe hulle shopping by Marietjie se winkel. Skoenpolitoer, skoenborsel, brasso, strykyster, en al die derglike dingetjies wat Boetie nodig het vir die army. En na alles klaar gekoop is, bly daar ‘n ou geldjie oor. En Boetie sien sy ma kyk na een van die sonbrille in die glaskas en hy beduie na die bril en vra vir Marietjie hoeveel die bril kos.

Maria het daai sonbril met trots in ontvangs geneem want dit was haar kind, haar spesiale kind, wat met sy eie verdiende geldjies die bril vir haar gekoop het.

Boetie is army toe en Maria het met haar werk op die asgat aangegaan en Dawid met sy houtsneewerk. En eendag kom die twee by Marietjie se winkel ingestap met iets wat soos ‘n baba in ‘n kombers toegedraai is. Man, jy kon sommer sien die twee is op ‘n spesiale missie, want hulle kom maak die ding trots en sonder seremonie op die tafel voor my en Marietjie staan. En Maria kyk vol respekte na Dawid en sê belangrik: “Sy masterpiece”. Dawid trek die kombers stadig van die ding af en die twee staan vol afwagting ons en aankyk.

Ek dink dit was van die benoudste oomblikke wat ek en Marietjie nog belewe het, want voor ons staan ‘n borsbeeld van ‘n naakte vrou met enorme borste wat tot op haar middelrif hang – ‘n replika van Maria! Maria het nooit ‘n bra gedra nie en ‘n mens kon duidelik die groot borste onder haar verweerde bloese sien hang.

Ek en Marietjie was vir ‘n ruk, wat soos ‘n ewigheid gevoel het, stomgeslaan. Die beeldhouwerk was uitstekend, net soos die ooreenkoms met Maria, en ek het maar gewag vir Marietjie om die regte woorde te vind om ons waardering uit te spreek.

Marietjie het die trotse eienaar geword van Maria met die hang borste en die twee is trots daaruit met die eerste geldjie wat Dawid met sy kuns verdien het. Hulle het sommer ‘n huppel in hulle stap gehad, want soos Maria gesê het: “Dawid was nou oppad na roem.”

En toe kom die mêrrie daar uit die voorwêreld eendag hier aan en sy loop vir Maria raak net toe díe by Marietjie se winkel uitstap. En die goudbehangde affêre trek haar neus in die lug en sê: “What a dirty, stinking hobo”. Marietjie en ek het mekaar net een kyk gegee en toe losgetrek op die wese. Ek glo nie sy het alles verstaan wat ons in ons gebroke Engels haar toegevoeg het nie, maar dat sy genoeg verstaan het, kon ons aan haar verwilderde gesig sien. Sy’s daar in ‘n vaart weg in haar blink BMW.

 Marietjie en ek het ons wiskeytee omtrent gedown, want laat so ‘n blink gebroedsel, wat seker nog nooit in haar lewe ‘n steek se werk verrig het nie, so op ons asgatvrou kom staan en neerkyk! Sy, wat seker nog haar hele lewe lank op haar man se titel en geld ry!

Soortgelyk

heksedans

– Intussen dans ons godeloses soos hekse en heidinne op dwelms in grotte en woude om die sondes wat hulle in god se naam pleeg uit te weeg.

Read More »