STORIE DERTIEN UIT PLATPLEK SE MENSE
Marietjie sê eendag, toe ek in haar winkel instap en voordat ek nog my sit met ‘n koppie tee kon kry: “Om arm te wees is ‘n boggerse ding!”
Ek stem met haar saam, want almal in en om Stofbultlaagte was maar arm, maar sê sy vir my: “Ek bedoel arm, regtig arm, soos Letta Barnard-hulle.”
Ek het opslag geweet wat sy bedoel. Die Barnards het in ‘n kleinerige ou huisie gebly wat hulle vir next to nothing gehuur het by ‘n boer, wat die plekkie vir ‘n belegging gekoop het. In die erf van die Barnards was daar nie meer ‘n plek vir ‘n muis nie, want Hendrik, Letta se man, het sy eie backyard mêkêniekshop in die erf gehad. Daar het hy aan al die boere se trekkers en bakkies en goed gewerk en dit was net karwrakke en enjins en parte sover as wat jou oë kon kyk. Letta het vir haar tussen al die karwrakke ‘n plekkie skoongeskrop, ‘n ou army seil gespan en daar haar stoffeerwerk gedoen. Sy was baie goed met stoffeerwerk. Jy kon vir haar die stukkendste ou sitkamerstel bring en as sy met hom klaar was, was dit ’n masterpiece!
Hendrik het ook sy herstelwerk deeglik en eerlik gedoen. Hy het eendag aan my bakkie se ligte gewerk, maar kon dit nie regkry nie. Ek is toe maar daar weg met die bakkie en ‘n week later kry ek ‘n netjiese rekening: ‘Aan ligte gewerk. Ligte nie reg nie. R10.00.’
Ewenwel, die gemeenskap was maar yl en arm en werk skaars en Hendrik en Letta het die groot gesin net aan die lewe gehou. Hulle het ses kinders gehad wat gevoed en geklee en geskool en onder beheer gehou moes word. Ek dink die onder beheer houery was die moeilikste van alles, want díe ses kinders, vier seuns en twee dogters, was die vreeslikste, onbeheerbaarste en besigste kinders wat ek in my dag des lewens my oë opgelê het. Die dinge wat hulle aangevang het, het elke haar op jou lyf laat regop staan en Letta en Hendrik was nie die slanerige tipe nie. Hulle het maar verslae die water oor die akker laat loop.
Marietjie vertel sy het eendag in die grondpad voor die Barnards se huis, afgestap oppad iewers heen. Dit was net so twee weke nadat Letta haar sesde en hopelik laaste baby gehad het en sy sien die Barnard spannetjie, van speenoud en op, die pad afkom met ‘n babastootwaentjie. Dit was ‘n stokou ding waarvan die hele carrycot met die kappie en al, op die raamwerk vasgemaak was. Die oudste seun, wat so vlak in die Hoërskool was, het daar in sy pa se workshop die stootwaentjie se klein wieletjies afgehaal en regte groot fietswiele aangesit. Hulle kom toe met ‘n spoed met die bigfootwaentjie in die klipperige grondpad af en Marietjie sien van ver af hoe iets op en af wip in die carrycot. So ‘n entjie van haar af , sien sy dis die twee weke oue babatjie wat al skuddend en stampend aan die genade van die spannetjie kinders oorgelaat is! Sy kry die voortspoedende spulletjie uiteindelik, na aan histerie, ‘n ent verby haar tot stilstand en sy spring onder die besnotgestreepte, vuil kinders in en klap links en regs! Met die laaste een van die waentjie af verwilderd, buk sy om die babatjie te red en daar lê die pappe dingetjie, sonder ‘n matrassie of kussing of kombersie op die barre plank, vas aan die slaap.
Marietjie was verbysterd, want hoe die babatjie se skuddende koppie op die harde plank dit gehou het en hoe hy so rustig gelê en slaap het, weet sy tot heden vandag toe nie. Al wat sy kan dink, is dat die Barnardbloed wat in daardie bloedjie se are vloei, harde bloed is wat die stampe en stote van die lewe kan vat.
Dit moes ook so gewees het, want hoe die ses onder die aanvalle van mekaar oorleef het, het my verstand te bowe gegaan! Een van die dogters, Martie, erg haar eendag vir haar ouer sussie, Mollie, en sy gaan steek Mollie se kamergordyne aan die brand waar Mollie lê en slaap. Letta en Hendrik, wat in die agteryard besig was om te werk, sien die rook by die venster uitpeul en storm die huis binne! Dit was ‘n vreeslikheid! Emmers water is op die gordyne uitgegooi en die slapende Mollie amper versuip in die proses!
So ‘n dag na die hengse kabaal en ‘n bloedige vuisgeveg tussen Mollie en Martie, sluip Mollie na Martie se hangkas toe en sny die styfleer van Mollie se nuwe skoolskoene met ‘n lemmetjie af. (Dit is nou, net vir die jongmense wat dalk nie weet nie, die agterste harde gedeelte van die leer bokant die hak van die skoen). Mollie het vir twee dae lank gehuil en geskreeu en Martie met die dood gedreig, maar die skoene was daarmee heen en Letta en Hendrik het die hele petalje net moedeloos gadegeslaan, want geld vir nuwe skoene was daar nie. Martie moes vir maande lank kaalvoet skool toe.
Etenstyd was ‘n aardigheid in die Barnard huishouding. Hendrik en die ses kinders het om die tafel gesit en Letta het opgeskep. Sy het met die groenboontjies by Hendrik begin en al om die tafel opgeskep tot by die laaste kind. Wanneer sy met die patats by Hendrik begin het, het almal al hulle boontjies opgeëet. Wanneer sy die rys opgeskep het, was die patats klaar geëet en as sy die aartappels begin opskep het, was die rys klaar geëet. Teen die tyd dat sy met die vleis by die laaste kind uitgekom het, het almal klaar geëet en opgevlieg en verdwyn. Dan het Letta vir haarself ‘n bord kos opgeskep en stoksiel alleen by die tafel gesit en eet.
Die wasmasjienstorie was ‘n ander storie! Letta en Anna, wat so drie huise van Letta af gebly het, het eendag ‘n wasmasjien saam gekoop. Letta het die helfte van die geld gegee en Anna die ander helfte. Vir ‘n ruk lank het dit goed gegaan. As Letta wou wasgoed was, het sy die wasmasjien by Anna gaan haal en hom met ‘n oorverdowende lawaai in die grondpad afgesleep tot by haar huis en as Anna wou was het sy weer die wasmasjien teruggesleep na haar huis toe.
Alles het vir ‘n ruk goed gegaan. Tot een oggend, toe die rus en stilte in Stofbultlaagte se strate skielik versteur is deur ‘n geskreeu en bakleiery van ‘n ander wêreld. Díe môre wou altwee vrouens wasgoed was. Letta het vir my later vertel dat die rusie oor die wasmasjien al ‘n lang ruk gekom het. Elke keer as sy die wasmasjien by Anna gaan haal het, het Anna lang stories gehad oor hoeveel wasgoed sý nog gehad het om te was en dan het Letta gesukkel om die wasmasjien uit Anna uit te kry. Letta het dit vir ‘n lang ruk gevat. Tot die oggend toe sy vir haar gruwelik gewip het! Anna wou weer met verskonings begin oor hoekom Letta nie die wasmasjien kon kry nie, toe gryp Letta, sonder enige woord, die wasmasjien en trek met hom straat af. Anna het vir Letta net verby die eerste huis ingehaal en begin skreeu en terugtrek aan die wasmasjien! Letta se bloed het begin kook in haar are en sy’t haar vuis getrek en vir Anna geslaat dat sy in die grondpad neerval dat jy net stof gesien trek het! Daar het Anna gelê! So uit soos ‘n kers in die middel van die pad en Letta het oop en toe getrek met die wasmasjien na haar huis toe!
Daarna het dit blykbaar baie beter gegaan en Letta kon haar beurt met die wasmasjien sonder gesukkel kry. Marietjie sê later, voor ek ry, dat Anna moes geweet het om nie met ‘n Barnard te sukkel nie, want in daardie familie gaan dit lankal oor die survival of the fittest.





