Hoofstuk 14. Vuil gewere en simpel ma’s

STORIE VEERTIEN UIT PLATPLEK SE MENSE

Ek gaan kuier een oggend by ‘n ander vlakte vriendin van my, Maryna en met die instap by die kombuisdeur sien ek dat díe vrou nie lekker is nie. Ek vra vir haar hoekom haar wurm omgeslaan het en sy sê ‘n ma is ‘n simpel ding.

En sy kry daardie uitdrukking in haar oë wat net ‘n ma kry wanneer sy tot by haar voorkop toe vol is vir haar kinders en sy laat loop ook sommer soos ‘n AK47 masjiengeweer in ‘n mal terroris se hande.

“Kyk Lizelle, vir hierdie aanteel van my is ek nou keelvol! En sommer vir hulle pa ook! Hulle wil mos net lekker kry. Hulle haal alles uit die lewe uit wat daar te geniete is, gebruik dit op en kom staan in die ry vir nog. Nie een van hulle weet dat daar by elke lekkerkry ook ‘n verantwoordelikheid betrokke is nie!”

Ek sien hier kom ‘n ding, want Maryna het vier seuns waarvan die geboortedatums soos ‘n riller lees – een elke tweede jaar. En ek laat haar begaan. Die ding, vertel sy my toe, kom al van ver af – vandat haar oudste seuntjie genoeg krag had om ‘n geweer op te lig. Pa was te opgetrek met sy groot seun en begin hom naweke en vakansies saamvat Bosveld toe. Ag, alles gaan te pragtig. As die twee die aand van die jagveld af terugkeer, sit pa en seun (‘n heel aandoenlike toneeltjie, sê Maryna), die geweer en skoonmaak. Pa antwoord al seun se vrae geduldig en verduur die geweerolie wat op sy broek uitgestamp word en soek verdraagsaam na die parte van die geweer wat in die proses verlore raak.

Vir ‘n jaar of twee gaan dit goed en uiteindelik kry die tweede seun ook genoeg krag om ‘n geweer teen sy skouer te druk. Die Bosveldekspedisies brei toe uit tot drie jagters en twee gewere en die geweerskoonmaak toneeltjie word langer en minder aandoenlik.

Maar die pret het slegs begin! Want die bloedjies ruik net bloed en soos die res van die vier hulle jagterstatus verwerf, word nog gewere gekoop en die jag word al groter en bloediger. Dit gaan te vreeslik – net biltong en droëwors en bokhorings waar jy kyk. Maryna sê sy voel naderhand skoon aardig in haar eie huis, want díe lyk soos ‘n museum vir uitgestorwe diere, soos die opgestopte bokkoppe teen die mure pryk. 

Die verslae wat sy oor die gebeure in die jagveld ontvang, sê Maryna, is die ergste!

“Lizelle, ek sê vir jou, die Tweede Wêreldoorlog was ‘n vulletjie!” Die skote klap glo oor mekaar se koppe, want party verdwaal en beland in die ander se jaggebied en drie trek op een bok los en jy sien net gewere waai en vuiste swaai en die sterkste een het die bok geskiet! Gebede, sê Maryna, is al wat haar deur die jagseisoen dra.

Intussen raak Pa met die geweerskoonmakery heeltemal die kluts kwyt. Dit donner en bliksem en bedreig die spulletjie en uiteindelik onttrek hy hom verbouereerd met die bevel dat die groter kinders die kleintjies moet help. Die groter kinders loop dikbek rond en weier om die kleintjies te help, want as hulle groot genoeg is om bokke te skiet, is hulle groot genoeg om geweer skoon te maak. Die kleintjies het lankal van geweerskoonmaak vergeet en saag buite op hulle fietse rond. Pa skreeu en dreig dat hy nie een van hulle weer gaan saamvat bos toe nie, want ‘n man wat nie sy geweer wil skoonmaak nie, is nie die naam jagter werd nie. Sy oorlede oupa het altyd gesê dat ‘n man se geweer kosbaarder is as sy vrou! En uiteindelik val hy met sy uitgemergelde liggaam op die bank voor die televisie neer.

So gaan dit toe keer na keer, vir jare. “Maar vanmôre toe bars die bom!” sê Maryna. Toe Pa sê ons gaan Bosveld toe, gryp elkeen ‘n vuil geweer en spring op die bakkie! Reg vir aksie! Hulle was nog so besig om hulle sit uit te baklei, toe trek hulle soos verskrikte vlakhase in elke windrigting in en die wat nie vinnig genoeg ‘n rigting kon kry nie, word van agteraf in een ingehelp! Die rede vir die groot verskrikking is toe Pa wat net mooi genoeg gepraat het en ‘n daadwerklike sambok-poging aanwend.

Maryna sê dit was te aardig om te aanskou. Lank nadat daar nie meer ‘n kind in sig was nie, het hy nog soos ‘n mal mens in die lug bly slaan en skreeu. Dit het blykbaar soek gekos, maar nadat hy hulle almal uiteindelik uit hulle skuilplekke uit opgejaag het, sê hy vir hulle dat net díe met skoon gewere saamgaan. Maryna sê wat toe gevolg het, was nie mooi nie. Sy sê sy het nooit geweet dat haar kinders tot soveel aggressie en onderduimsheid instaat was nie. Hulle het gegryp en gestamp en geruk en vloeke gevloek wat sy nog nooit uit hulle monde gehoor het nie. Toe geweld nie help nie, begin die beskuldigings en verwyte! Want hierdie een het die vorige keer daardie een se geweer skoongemaak en toe het daardie een belowe hy sou weer hierdie een s’n skoonmaak en hy het nie en nou is hierdie een se geweer nog vuil en skuld daardie een hom sy skoon geweer!

Maryna sê hulle het alles in die stryd gewerp om ‘n skoon geweer uit iemand te wurg! Van die gruwelikste leuens tot die vreeslikste dreigemente om ou verborge stories aan Pa te openbaar, maar alles tevergeefs! Daar was nie één skoon geweer in omloop nie en Pa is alleen Bosveld toe.

En daar sit Maryna bedremmeld voor my en sê dat wat haar die kwaadste van die hele katastrofe maak, is dat sy die seuns nou jammer kry. Die laaste week van die vakansie en hulle sit beteuterd by die huis.

“Ja,” sê sy, “ek kry hulle jammer en is de hel in vir hulle pa! En eintlik was hy reg en hulle verkeerd. Ek sê jou ‘n ma is ‘n simpel ding!”

Soortgelyk

heksedans

– Intussen dans ons godeloses soos hekse en heidinne op dwelms in grotte en woude om die sondes wat hulle in god se naam pleeg uit te weeg.

Read More »