Twee maande na die 1994-verkiesing is Melda en drie van haar vier susters se huwelike op die rotse. Drie van die vyf is op pad hooggeregshof toe, die ander een, Meva, is ’n Christen. Die vyfde een is Mila.

Meva dra net klere wat by Poetry in Brooklyn Mall gekoop is, lees slegs Joyce Meyer-boeke en drink net versapte groentes. Sy’t ‘nee’ gestem in die referendum en is gemaklik met haar gay seun, solank hy net nie ’n swart kêrel huis toe bring nie. Sy’t ophou hare perm waaroor ek, vir een, baie bly is. Sy’t ook ophou kleur, daaroor is ek nie bly nie. Mens kan mos maar keer waar jy kan. Haar dogter is die grootste snob waarop ek my oë al gelê het. Dié het so ’n slegte man getrou hy kon nie eers ’n diploma by die tegnikon verwerf nie. Hy kom uit ’n vreeslike slegte huis uit, maar hy het baie mooi bene. Hy is ook nou ’n Christen, want hy weet waar die geld vandaan kom. Hulle kan nie ophou teel nie. Weer die Bybel verkeerd verstaan, Hy’t gesê ‘vermenigvuldig’ nie ‘vervuil’ nie. Beide is redelike mooi mense, almal wonder oor die kinders. Die gay seun moes oorsee vlug, want hy skuld óf mense geld óf het met hulle geslaap. Hy’t ’n MBA oor die internet verwerf. Hy is baie slim. Die ander seun is useless, daar is nie veel om oor hom te sê nie, te veel geld maak mens mos uiters vervelig.

Meva se man bly steeds op die plaas. Hy boer heeldag, en saans drink hy ’n vyf liter Laatoes op en brand dan gate met sy sigaret in die matte en loop in die meubels vas. Hy het ophou bad en skeer. Mens staan maar so 3 meter weg en praat in die rigting van sy kop as jy nie die oë kan vind nie. Hy stuur elke maand hope en hope geld vir Meva, want Jesus hou hom dop. Meva wens hy was haar eksman, maar hy is nie, want Jesus hou haar ook dop.

Die ander een, Melda, is ’n lesbian en koop ’n wildsplaas saam ’n vriendin. Hulle koop bokke en bokke en zebra’s en kragopwekkers en vlakvarke, seile, pale, beeslek, goed by Cape Union Mart en baie goed by Dischem. Hulle bou kampe en grou dreine. Alles is jag-groen of gekamoefleerde patrone en werk met remotes. As dit nog lewe, kry dit ’n naam, as dit dood is, word dit opgestop. Daar is velle op al wat vloer is in die huis, daar lê voertuigonderdele in houtbakke op eetkamertafels. John Deere-hoede hang agter deure, die kapstok is vol DriMac-baadjies en die hele K-Way winter 2010-reeks. Alles ruik na sitronella-olie en wierook. Die werf is vol honde. Drie braaiplekke word aangebou en die spens is so groot soos ’n tweeslaapkamerwoonstel in Sunnyside. Vier massiewe boks-vrieskaste neem die spasie in beslag. Een is net vir ys. Die ander is vol van die binnekante van die opgestopte goed wat in die sonkamer hang. Mens eet altyd lekker by hulle. Hulle lees nie Bybel nie, wat ’n baie groot verligting is. Melda is amper ’n Boeddhis, sy drink glad nie en eet net witbrood. Sy is vreeslik kunstig, sy dink net self nie so nie, sy kan enige iets doen, is vreeslik handig. Kan goed regmaak; stukkende ketels, hekmotors, plugs, ligte, skoene en harte. Sy verstaan mense beter as wat hulle hulself verstaan, mense verstaan nie altyd vir Melda nie. Sy kleur nog haar hare, en skryf af en toe ’n baie mooi vers. Haar kinders is gelukkige mense. Die dogter bly in Pretoria, en haar seun in die Kaap. Beide het kuns in hulle. Melda en haar twee kinders kan mekaar vreeslik kak gee, maar hulle is almal baie lief vir mekaar. Melda haat vlieg, want sy kan nie rook op die vliegtuig nie. Maar sy kuier gereeld in die Kaap. Melda dink sy is ongelukkig, dalk is sy, dalk sal dit môre beter gaan. Dalk as sy meer geld het. Dalk as sy kan Kaap toe trek. Dalk as haar seun terugtrek. Dalk as sy soms ’n glas wyn kan drink. Baie mense is lief vir Melda, sy is lieflik, sy weet dit net nie.

Melda se eksman is ’n paar jaar terug oorlede, hy was ’n baie goeie mens. Het te veel gedrink, diabetes is niemand se vriend nie. Hy was ’n gawe man. Melda is nog steeds baie lief vir hom.

’n Ander een, Mesa, werk vir die staat en het ophou grimeer na haar ‘vriendin’ uitgetrek het. Sy’t ook ophou rook, maar nie ophou eet nie, hoor ek. Sy is allergies vir alles, maar bly gewig optel. Sy drink elke pil wat die regering al ooit vir menslike gebruik goedgekeur het. Sy is hoogs gekwalifiseerd. Mesa trek eers die toilet, nadat sy die tweede keer gaan piepie het om water te spaar. Wanneer sy ’n glas wyn in het, is sy vreeslik snaaks. Haar kinders is baie aangename mense. Ons dink een is in ’n oop huwelik en die ander een moes ophou drink as gevolg van mediese redes. Haar dogter werk by ’n mode-tydskrif in New York, sy het emmers vol klas. Mesa moet binnekort aftree, maar weet nie of sy sal kan nie. Sy steel soms toiletpapier by haar werk en bring dit huis toe. Mesa pas haar ma op. Dis nie altyd maklik nie. Ek kry vir Mesa jammer.

Mesa se eksman was en is ’n smaaklose mens, maar tog baie aangenaam by tye. Vreeslik luidrugtig gelag en te veel speserye in die kos gegooi. As hy dronk was het hy amfibies gelyk. Moes ophou vetterige goed eet, ook weens mediese redes.

Mena ontmoet ná haar egskeiding die walglikste kort man wat op die internet beskikbaar is. Hy werk op die oliebore en kom elke ander maand terug Suid-Afrika toe met ’n nuwe velsiekte. Hy is die lelikste mens wat ek al in my lewe gesien het in kakieklere, en kort. Rook so baie Camel sy hande lyk Asiaties. Hy ruik na sweet en as hy mens met die hand groet begin jy jeuk. Mens kan nie in ’n vertrek eet waar hy is nie. Hy haat diere en besoek die gruwelikste ruimtes op die internet. Mena self is ’n fantastiese mens. Histeries van aard, en baie komies. Vertel lekker stories, en is lief vir semi-soet wyn. Raak nooit so dat jy aanstoot neem nie. Haar hare lyk altyd versorg, en sy laat doen gereeld haar naels. Haar kinders is eie in hul soort. Die oudste moes akteur word, maar hou nou skool met ’n BSc-graad. Die jongste het ’n voorliefde vir useless mans en Justin Bieber, baie aangenaam – kan lekker kuier, rook ook met baie panache. Die middelste een sê almal is baie misluk, maar ekself is mal oor haar. Droog, en stil. Rook soms ’n bietjie dagga om te ontsnap. Nie mal vir mans nie.

Mena se eksman het toe homself na ’n Asiatiese bordeel van soorte gewend en het een ontmoet wat skaars kan Engels praat. Dié gee glo uitstekende rugmasserings en kook alles in ’n watermassa bleekheid. Ruik na kool en dim sum en haar naam klink soos wanneer mens dik sop van een bak na ’n ander oorgooi.

Mila het gevlug. Sy het sak en pak gevlug net na die verkiesing, maar nie as gevolg van die land nie. Mila kon sien as daar moeilikheid kom. Daar was ’n poskaart al uit Indië, Milaan, Parys, Birma, Kasakstan, Egipte en iewers vanuit ‘n eiland. Mila vlieg maklik, want sy rook nie. Sy ooreet nie, want sy kort niks nie. Sy soek nie ’n eggenoot om die gat toe te maak nie, want sy ken haar binneste. Sy lees nie Bybel nie, want sy ken die wêreld. Sy kleur nie haar hare nie, want dit leef saam. Sy’t niks wat met ’n battery werk nie, want sy praat min. Sy wil niks dood nie, en ook nie dood haarself nie, sy’t niks studeer nie, want sy leer by die lewe. Niemand gee haar moeilikheid nie, en sy vir niemand nie. Sy skuld niemand geld nie en die lewe skuld haar niks nie. Die lewe is haar verhoog, haar klaskamer, haar Self en haar God.

Mila het nie ’n eksman nie.

Soortgelyk

heksedans

– Intussen dans ons godeloses soos hekse en heidinne op dwelms in grotte en woude om die sondes wat hulle in god se naam pleeg uit te weeg.

Read More »