My liewe ex [1996]

Vanoggend toe jy ons seun hier by my huis kom haal het, was ek so jammer dat jy moes ry. Dit was lekker om weer met jou te gesels, om weer die bekende hande en gesig te sien. Ek wou nog meer met jou gepraat het. Gehoor het hoe dit regtig met jou gaan, waarmee jy deesdae jou tyd verwyl en wat in jou lewe gebeur. Maar jy was haastig en die enigste stukkie lewe wat ons nou deel, het saam met jou in die kar geklim en jou wêreld ingery. Ek het in myne agtergebly en tot die vreeslike besef gekom – ons loop nou elkeen ons pad alleen my Lam. 

Jy weet, ek het gedink dat ek eendag oor die egskeiding sou kom, maar na hoeveel jaar is ek nog nie heeltemal daaroor nie, en ek weet nie of ek ooit regtig daaroor sal kom nie. Al wat ek bereik het die afgelope tyd, is om tot die regte perspektief te kom. Die regte perspektief oor wat met my en jou gebeur het in ons huwelik van soveel jare. Ek het ook ’n baie ou waarheid ontdek – dat die huweliksband deur God self gesmee is, en al breek die mens dit hier op aarde, bly daardie band tussen man en vrou, al maak hulle wat. Dit besef ek elke keer as ek jou sien. Jy bly my man, al sê ’n koue hofbevel dat dit nie meer so is nie. 

Ek wonder baie keer as ek en jy ons lewens kon oorkry met die kennis en begrip en ondervinding wat ons vandag het, of ons huwelik weer op ’n egskeiding sou eindig. Ek glo nie. Want die dag toe ons getroud is, het nie ek of jy dit in ons beplanning gehad om ooit te skei nie. Maar dinge het skeefgeloop. Dinge wat dalk nie weer sou skeefloop as ons ons lewens sou oorkry nie. 

Waaroor het dit alles gegaan? As ek vandag terugkyk op ons lang getroude stryd, voel al die woede en baklei en trane so onbenullig. Was die dinge waaroor ons so gestoei het, al die gestoei werd?  Was dit regtig nodig om mekaar se siele so uit te ryg totdat net die barre kilheid tussen ons oorgebly het?  Ons het elkeen sy eiegeregtigheid en sogenaamde kennis van reg en verkeerd soos ’n purper kleed om ons gevou en nooit agtergekom hoe ons mekaar daarin versmoor nie. En as daar nog ’n wenner uit die stryd getree het…… Maar ons sit altwee as verloorders langs die pad wat ons gedink het ons loop alleen. Ons het nooit besef dat ons, al was ons aan weerskante van die middelmannetjie, tog die pad saam geloop het nie. 

En vandag het die gras die onkruid doodgegroei, want ek onthou net die lekker en die mooi. Dit spring tydig en ontydig soos groen spruite in die brandveld op, terwyl ek vir die sleg en die swaar, doelbewus in die as moet gaan rondkrap. 

Ek is jammer oor al die lelik in ons huwelik waarvan ek die oorsaak was. En ek is jammer oor die seer wat ek jou aangedoen het met die egskeiding. Ek hoop ek sal eendag in daardie sagte oë van jou kyk, en ’n bietjie vergifnis sien. 

Kyk bietjie rond...

A tiny love story written at 17:15

I was feeling rather overwhelmed; this was before the word became trendier that OCD and everyone suffered from it. Sitting down on

Loulierblare en Skoonfamilie

Martie het eendag, toe ons daar in haar winkel gesit en tee drink het, ‘n onskuldige opmerking gemaak wat die satan in