Loulierblare en Skoonfamilie

Martie het eendag, toe ons daar in haar winkel gesit en tee drink het, ‘n onskuldige opmerking gemaak wat die satan in my ontketen het. Sy sê die môre vir my dat skoonfamilie eienaardige goed is.

Ek sit haar en aankyk en ek dink. Martie sê later vir my dat sy skoon verbouereed geraak het, want ek het blykbaar ‘n aardige uitdrukking op my gesig gekry en haar só vir minute gesit en aangekyk. Sonder om ‘n woord te sê. Die vrees het haar later beetgepak, want dit was haar uitlating wat my geknelde gesig veroorsaak het en sy het nie ‘n benul gehad hoe om dit ongedaan te maak nie. Sy wag toe maar en naderhand sê ek uiteindelik, nadat ek my dink gedink het: “Ja, hulle is eienaardige goed. Nes lourierblare.”

Toe kry Martie ‘n eienaardige trek op haar gesig. Maar voordat sy my kan vra hoe ek skoonfamilie by lourierblare uitbring, trek ek, opgetêns en opgejaag vir jare, los met die verklaring van my duistere uitspraak en ek sê vir haar: “Weet jy Martie, toe ek destyds met Abraham getroud is, was ek ‘n bloedjonge meisie gewees – skaars twintig jaar oud.”

En Martie skuif vir haar reg met ‘n koppie tee, want sy sien hier kom ‘n bittere storie.  Ek sit en staar so verby haar, terwyl my lewensverhaal oor my lippe rol. Ek vertel vir haar dat ek as jong meisie dit nie maklik gehad het toe ek na my troue op die plaas geland het nie. Ek, wat geen dooie benul had van kook of bak nie, trou toe in ‘n skoonfamilie in waar bobaasbaksters hoogty vier. Hulle het my skoon ontsenu met hulle onverskillige gebruik van vreemde name soos spaghetti bolognaise, lasagne en paella en ek weet nie nog wat nie. Hulle sou enige Franse restaurantbaas opgewonde gehad het met hulle pragtige uitspraak van al die boheemse name.

“Martie, jy weet nie hoe ek gely het nie. Ek sê vir jou, ek het vir jare gebuk gegaan onder die bolognaise en lasagne hel. Ek het nie geweet hoe of waarvan die donnerse goed  gemaak word nie en vir ‘n resepteboek was ek so bang soos ‘n gans vir weerlig!”

Ek raak toe sommer driftig en sê vir haar dat my ma ‘n doodgewone boervrou was en dat ‘n resepteboek nie in ons huis bestaan het nie, want ons het elke dag goeie gesonde boerekos geëet. Nie ‘n spul wind met fênsie name nie! Martie sien ek werk vir my op en sy skink vir ons nog ‘n koppie tee.

“Man Martie, ek was later so vreesbevange oor al die donnerse vreemde geregte, dat ek nie sommer op ‘n Sondag by een van my skoonfamilie gaan eet het voordat ek nie uitgevind het wat op hulle tafels gaan wees nie.” Buiten dat ek doodsbang was dat die vreemde kos my maag aan die gang sou sit, wou ek nie ‘n skande oor my familie bring deur nie die geregte te herken as dit op die tafel is nie. As hulle my moes vra om die lasagne aan te gee en ek weet nie in watter bak die lasagne was nie, was ek net daar in my moer!

Nee, dit was aaklig gewees. Ek raak toe sommer bot en  hartseer en ek sê vir haar : “Dit was amper so vreeslik soos die lourierblare.” Martie sien dat die lourierblare swaar op my hart lê en dat sy my nie moet aanpor nie. Sy dink toe dat ek haar wel daarvan sal vertel as ek reg is daarvoor. Sy sit my maar en uitluister en ek vertel haar dat ek my mos op ‘n dag wip vir my eie onnoselgeit, en ek gaan soek vir my resepteboeke in die naaste boekwinkel!

Daardie dag was ek in vrees en bewing gewees! My moed het my ‘n paar keer amper begewe en ek het al my dae met myself gehad om te keer dat ek nie soos ‘n verskrikte springhaas by die boekwinkel uitstorm nie! Al die volksvreemde geregte wat ek daardie dag my oë opgelê het, sou van enige stoere Afrikaner ‘n joiner gemaak het. Die doodsweet het naderhand op my ganse lyf begin uitslaan. Maar gelukkig val my oog op díe angsvolle stadium op ‘n boek wat vir my met die eerste kyk vertroue inboesem. Ek tel die boek angstig op en lees die title: Kook en Geniet. En ag, die skryfster van die boek klink toe sommer vir my soos een van oorle ouma Joubert se vriendinne: S.J.A. de Villiërs. Ek slaan die boek oop en so met die deurblaai besef ek opnuut dat die vrou se voorletters vir ordentlike boerename moet staan. Die name van die geregte was soos heuning op my tong: Souskluitjies, pampoenkoekies, gestoofde beesstert, geroosterde hoender! Die heimwee na my ma se kombuis was naderhand te veel vir my.

“Martie, toe ek met daardie boek onder my arm by die winkel uitstap, toe voel ek soos ‘n oorwinnaar!  Man, die boek het sommer weer die vertroue in my Afrikaner volkie laat opvlam.”

Maar Martie raak naderhand ongeduldig, want ek sê niks van die lourierblare nie en sy vra my daarna. Maar ek praat aan en sy laat my begaan, wetende dat ek nog nie reg is vir die lourierblare nie.

Ek raak toe mos later lekker voorwaarts van al die vertroue wat die Kook en Geniet  vir my gee en ek gaan skaf  vir my ‘n paar van daai grênd resepte-boeke aan. Dis toe dat ek agterkom dat al die hogere geregte wat my skoonfamilie so Franserig oor hulle lippe laat rol, niks anders is as grênd name vir doodgewone boerekos nie.

“Aag Martie,” sê ek vir haar “spaghetti bolognaise is niks anders as die spaghetti en mince wat my ma altyd vir ons gekook het nie. En lasagne is net ‘n gewone vleis en pastagereg met ‘n doodgewone witsous tussenin. Die oorskietkos wat my ma altyd die volgende dag saam in ‘n pot gegooi en opgekook het, is niks anders as hulle paella nie.”

Maar toe bly ek stil en my gesig versomber sommer en Martie weet opslag dat die  lourierblaarstorie aan die kom is. My stemmetjie is ook sommer flou toe ek praat:  “Nee, al díe bose geregte van my skoonfamilie het ek sommer daardie tyd al onder die knie gekry.  Dis net die lourierblare wat my vir jare daarna nog gery het.”

Díe storie was vir my ‘n groot vernedering, want my skoonfamilie kon altyd vreeslik tekere gaan oor ‘n lourierblaar. Die manier waarop hulle oor ‘n lourierblaar gepraat het wanneer hulle resepte uitgeruil het, het my terstonds minderwaardig laat voel. “Oe nee, Anna,”  sou die een skoonsuster vir die ander een sê, “daardie gereg dúrf  jy nie sonder ‘n lourierblaartjie of twee maak nie.  Lourierblare bring die pikante geur van jou speserye na vore.”  En net daar het ek ineengekrimp, want ek het nie die vaagste benul gehad wat ‘n lourierblaar is of waar jy aan die ding kom nie.

“Martie, my vriendin,”  sê ek na aan trane. “Dit was ‘n nagmerrie! Ek kon later nie meer een van my grênd resepteboeke oopmaak nie, want elke keer as ek ‘n besonderse vleisgereg vir ‘n spesiale geleentheid soek, doem daar ‘n bliksemse lourierblaar in die resep op. Dan skrik ek vir my so buite weste, dat ek sommer pap en wors vir ete gee.”

My angs neem naderhand geweldige afmetings aan en ek begin later skelm in my skoonsusters se kombuise krap, maar nêrens kon ek my hande op ‘n pakkie of ‘n blikkie lê wat vir my ‘n aanduiding kon gee van waar hulle aan die blêrrie goed kom nie. Al hulle lourierblare was gebêre in pikante tuisgemaakte kruiebotteltjies wat geen taal of tyding opgehad het nie. En net daar kry ek snuf in die neus en begin op almal se groentetuine te spioeneer. 

Ek besef toe dat die lourierblare natuurlik ‘n baie delikate en skaars kruieplant is, wat net deur uitverkore vrouens met groen vingers gekweek kan word. En ek begin my ore en oë oophou en by elke koöperasie soek ek ongemerk na saad waarmee ek die gesogde plantjie mee kon kweek. Maar tevergeefs!

Toe bly ek eers ‘n bietjie stil, want ek voel hoe die vernedering deur my hele wese trek.  Ek staar eers ‘n hele‘n ruk by Martie verby voordat ek die moed vind om te sê: “En eendag soek ek peper in die supermark en daar staan ‘n pakkie lourierblare reg langs die peper!” My hart het geruk by die aanskoue van die vonds! En toe ek mooi kyk staan daar nog nége pakkies netjies in ‘n ry agter die eerste een. Ek het skoon van die peper vergeet en met bewende hande al die pakkies in my  mandjie gegooi. Oppad kasregister toe het ek om my rondgekyk of iemand my nie gesien het nie, want dalk was daar ‘n beperking op die hoeveelheid wat ‘n mens van die eksotiese krui mag koop.

Die vernedering het ‘n blywende letsel op my gees gelaat, want later het ek soos ‘n aap agtergekom dat lourierblare net so vrylik beskikbaar is soos sout. Ek het dit net nooit in die winkels raakgesien nie, want ek het nooit kon droom dat díe unieke blaar in supermarkte te koop sou wees nie.

“Nee,” sê ek later, lekker moerig, vir Martie toe ek opstaan om te ry, “skoonfamilie is nes lourierblare – simpel eienaardig en donnerswil doodgewoon!”

Kyk bietjie rond...

A tiny love story written at 17:15

I was feeling rather overwhelmed; this was before the word became trendier that OCD and everyone suffered from it. Sitting down on

John’s mother – I

John’s mother was convinced she had an influence on the weather. She had very bushy eyebrows that were linked in the middle