Met die eerste noot van die troumars begin my suster pille uitdeel in die voorste ry. Van agter af kom ’n bakhand, Claude, een van die ander gay nefies, hy weet ook van beter. Dis so warm almal stoom en ek is bang die predikant lig sy arms op en seën iets.
Die bruid se dik ma kry nie haar sit op die stoel nie, die ouma vra heeltyd wie’s die bruid, want haar neus lyk uitheems. Iewers lag ‘n Chesterfield bors. Daar trek ’n vaal vrou met ’n harp in die hand los en mars die bruid tot voor die toga. Sy lyk soos marzipan op ’n kantgordyn, die bruid. Die vrou met die harp lyk of sy gehekel is van beige tou, die musiek het opgehou, maar haar vingers hou aan beweeg. My suster drink weer ’n tablet. Claude maak ogies vir die strooijonker. My pa staan eenkant en rook. Ek wag dat sus se pille begin inskop, die strooijonker ís nogal aangenaam, ek hoop hier’s ’n oop kroeg.
Ouma soek ’n glas semi-soet, niggie sê vir haar ons is nog in die kerk. Sy sê hierdie is niks ’n kerk nie, dis in die agtertuin van duiwel. Mens trou binne vier mure sê sy. Ek hoop hier’s ’n oop kroeg.
“Ja-ja”, sê beide en ek sluk. Die onthaal lyk soos ’n verbeeldinglose feëverhaal met ’n baie klein begroting. Alles is bottelgroen, ougoud en raffia, orals raffia, daar is nie genoeg lap in die wêreld om die binnekant van ’n plattelandse skoolsaal te verskans nie. Dis nou wat gebeur as homofobie jou behoefte aan goeie smaak oorskadu. Op die tafels is klein botteltjies Amarula, ek neem opslag twee. So baie raffia maak mens snaakse goed wil doen, ek wonder waar’s die strooijonker, my nefie Claude is ook nie op sy sitplek nie, die bruid is baie kreatief, kan ook Photoshop werk, die naamkaartjies op die tafel het ‘n stukkie organza oor wat met ‘n zigzag skêr gesny is.
Die bruid se ma waggel verby met ’n stuk koek wat lyk soos die in-soom van die trourok. Ouma vra waar is die bruidspaar, een van die kleintjies sê hulle stoei agter in die bakkie. Die blommemeisie loop in met ’n knop in haar keel en trek haar rok reg, die bruidegom loop so meter agter haar, die’t ook ’n knop. Tannie Voggie vra waar’s die bruid, hy sê nog by die seremonie. Ouma word siek op die troukoek en ek voel effens verlig, want nou kan ons die bruid uitken.
Ouma groet my vir die derde keer en sit af seremonie toe. Soos sy Satan se agtertuin binneloop, sien sy die bruid en die strooijonker is ook besig met duiwelse goed.
Ouma laat ’n bloedstollende gil en verander net daar in ’n engel. Die strooijonker wou nog pillow-talk toe’t die bruid al haar troukoek aan. Die strooijonker gee vir Ouma mond tot mond, toe kry die bruid afterglow. Dis toe met die dat Ouma bykom en vir hom vra of hy ’n engel is. Hy sê nee tannie, sy sê hy soen soos een. Die bruid wou nog vir Ouma jammer sê, toe sê sy “my kind, moenie worry nie, as ek veertig jaar jonger was het ek vir hom gery tot by die hel en terug”.
Die drie is daar weg met ’n geheim in die hart. Ouma het so ekstra huppel bygekry en die strooijonker het van sy laaste puisie ontslae geraak, die bruid gloei nog steeds. Toe hulle by die onthaal instap, is hulle al besig om troukoek uit te deel, die bruid is af bruidstafel toe en Ouma fluister in die strooijonker se oor, “dis genoeg koek vir een dag hartjie, kom, ek stel jou voor aan Claude.”





