Stofbultlaagte.

STORIE EEN UIT PLATPLEK SE MENSE

As ons vier jonge vrouens dit nie vir onsself lekker gemaak het nie, sou ons sowaar as wat whiskey lekker is, vergaan het van sielsellende en intellektuele verdroging op daai stofbesonke vlakte rondom Stofbultlaagte. Soos die Hollanders dyke bou om die verwoestende see uit hul vlakke land te hou, het ons verwoed wal gegooi teen die versmorende uitwerking van allerverskriklike droogtes, ellendige misoeste, paniekmakende boerderyskuld en suipende mans. Ons het vernederings voor bankbestuurders en skuldeisers en depressieaanslae wat soos donker stofstorms in die gees wou woed, afgeweer met baie lag en ons menswaardigheid behou deur die eienaardighede van die lewe en die mensdom om ons op te tel en deel te maak van ons eienaardige  lewensrepertoire.

Stofbultlaagte was ‘n bittere klein dorpie. Daar was twee kerke, ‘n hotel, een drankwinkel en een slaghuis. Dan was daar drie ander winkels. Maar hulle was nie rêrige winkels nie. Hulle was Algemene Handelaars – General Dealers – Wholesale to the public – winkels en het behoort aan mense wat plase gehad het voor een of ander droogte.

Ek, wat as gevolg van my ma se renons in familiename net Lizette heet, was getroud met ‘n hardkoppige en totaal huis-en-vaderafwesige saaiboer, wat vreeslik lief was vir sy dop. 

Martie het ‘n baie eienaardige, stowwerige en deurmekaar winkeltjie op Stofbultlaagte bedryf. Haar winkel se naam was Solly’s Furniture. Daar het sy alles verkoop wat enige mens mog nodig gekry het vir sy handel en wandel oor die aarde. In die een deel van die winkel het sy mieliemeel, mout, surf, cheap deodorant, chappies en ander sweets en plastic oorbelle en krale verkoop. In die agterste deel was tweedehandse meubels en voor in die linkerkantste hoek was rêrige boetiek klere, wat sy in die voorwêreld by modeparades gaan koop het. En daar het ons gekuier.

Die derde lid van die sielsvasbyters is die lawwe Retha. Sy was seketaresse van ‘n skool op die groot dorp en het die skoolbus bestuur. Haar man het bande verkoop en verskriklik gedrink. Retha het haar Kode 10 bestuurslisensie gehad waarop sy baie trots was en waarop sy haar ook gou beroep het, wanneer daar gebrêk was met geleerenthede en hogere poste en dies meer. Linda, die vierde lid, het ‘n lucky escape gehad toe haar man haar op ‘n vroeë ouderdom weduweestatus gegee het. Sy het alleen en in vrede op haar plaas met die mooi naam, Delft, geboer.

Alhoewel ons vier soos tropdiere saamgestaan het teen roofdier en gevaar en ander sielsbedreigende onheile en ongeregtighede, het ons eintlik in pare geloop. Linda en ek in een paar en Martie en Retha in die ander paar. Ons was jonk en gedug – alleen, of in pare, of in ‘n trop. Ons het gedeins vir niks en meestal vreesloos en sonder geveins ons pad bewandel. Ek sê meestal, (want daar was tye, soos die dag toe ek en Linda in die stof tussen haar verdroogde mielies gesit en huil het), dat die selfverloënde sagtheid van ons vroue siele net nie meer kon terughou nie.

Ons het uiteindelik na baie jare, een vir een, van die lekker, maar meestal sinkplaatgeryde stofpaaie wat ons so saam bewandel het, afgedraai op teerpaaie wat kilometers tussen ons gesit het. Martie en haar man het die vlakte armoede gaan fnuik met Cash Loans in Pretoria. Linda is met ‘n ingeneur getroud en het haar plaas verkoop en na ‘n ander dorp, ‘n hele ent van die vlakte af, getrek. Retha, wat êrens langs die stofpaaie haar wiskeybeleë man ter aarde betsel het, is later met ‘n veel jonger man getroud en het in die groot dorp daar naby gaan bly. En ek…. ek het my afwesige en wiskeyliefhebbende eggenoot lewendig verlaat, vir ‘n aptekertjie van die groot dorp….   ‘n Vrou….

Maar, al het ons teerpaaie ons in verskillende rigtings geneem, is ons vandag nog beste vriende en kan ons opruk uit alle windrigtings as een ‘n noodkreet gee.

Kyk bietjie rond...

A tiny love story written at 17:15

I was feeling rather overwhelmed; this was before the word became trendier that OCD and everyone suffered from it. Sitting down on

Loulierblare en Skoonfamilie

Martie het eendag, toe ons daar in haar winkel gesit en tee drink het, ‘n onskuldige opmerking gemaak wat die satan in