Hoofstuk 1. Stofbultlaagte.

STORIE EEN UIT PLATPLEK SE MENSE

As ons vier jonge vrouens dit nie vir onsself lekker gemaak het nie, sou ons sowaar as wat whiskey lekker is, vergaan het van sielsellende en intellektuele verdroging op daai stofbeskonke vlakte rondom Stofbultlaagte. Soos die Hollanders dyke bou om die verwoestende see uit hul vlakke land te hou, so het ons verwoed wal gegooi teen die versmorende uitwerking van allerverskriklike droogtes, ellendige misoeste, paniekmakende boerderyskuld en suipende mans. Ons het vernederings voor bankbestuurders en skuldeisers en depressieaanslae wat soos donker stofstorms in die gees wou woed, afgeweer met baie lag en ons menswaardigheid behou deur die eienaardighede van die lewe en die mensdom om ons op te tel en deel te maak van ons eienaardige  lewensrepertoire.

Stofbultlaagte was ‘n bittere klein dorpie. Daar was twee kerke, ‘n hotel, een drankwinkel en een slaghuis. Dan was daar drie ander winkels. Maar hulle was nie rêrige winkels nie. Hulle was  Algemene Handelaars – General Dealers – Wholesale to the public – winkels en het behoort aan mense wat plase gehad het voor een of ander droogte. En dan was daar Marietjie se winkel!

Ek, wat as gevolg van my ma se renons in familiename net Lizelle heet, was getroud met ‘n hardkoppige en totaal huis-en-vaderafwesige saaiboer, wat vreeslik lief was vir sy dop. 

Marietjie het ‘n baie eienaardige, stowwerige en deurmekaar winkeltjie op Stofbultlaagte bedryf. Haar winkel se naam was Simon Furniture. Daar het sy alles verkoop wat enige mens mog nodig gekry het vir sy handel en wandel oor die aarde. 

In die een deel van die winkel het sy mieliemeel, mout, surf, cheap deodorant, chappies en ander sweets en plastic oorbelle en krale verkoop. In die agterste deel was tweedehandse meubels en voor in die linkerkantste hoek was rêrige boetiek klere! Die klere het in die voorwêreld by modeparades gaan koop het. En daar in Marietjie se winkel het ons vrouens gekuier..!

Die derde lid van die sielsvasbyters is die lawwe Ralie. Sy was seketaresse van ‘n skool op die groot dorp en het die skoolbus bestuur. Haar man het bande verkoop en verskriklik gedrink. Ralie het haar Kode 10 bestuurslisensie gehad waarop sy baie trots was en waarop sy haar ook gou beroep het, wanneer daar gebrêk was met geleerenthede en hogere poste en dies meer.

Lida, die vierde lid, het ‘n lucky escape gehad toe haar man haar op ‘n vroeë ouderdom weduweestatus gegee het. Sy het alleen en in vrede op haar plaas met die mooi naam, Delft, geboer.

Alhoewel ons vier soos tropdiere saamgestaan het teen roofdier en gevaar en ander sielsbedreigende onheile en ongeregtighede, het ons eintlik in pare geloop. Lida en ek in een paar en Marietjie en Ralie in ‘n paar. Ons was jonk en gedug – alleen, of in pare, of in ‘n trop. Ons het vir niks gedeins nie en meestal vreesloos en sonder geveins ons pad bewandel. Ek sê meestal, want daar was tye, soos die dag toe ek en Lida in die stof tussen haar verdroogde mielies gesit en huil het, toe ons die selfverloënde sagtheid van ons vroue siele net nie meer kon terughou nie.

Soortgelyk

heksedans

– Intussen dans ons godeloses soos hekse en heidinne op dwelms in grotte en woude om die sondes wat hulle in god se naam pleeg uit te weeg.

Read More »