Oom Willem en die Spietkop.

STORIE TWEE UIT PLATPLEK SE MENSE

Vanuit Solly’s Furniture het ons vier die kleurvolle, gure en ongure karakters van Stofbultlaagte gade geslaan. Ons het elke doen en daad van elke karakter meelewe deur ons eie oorsaak en gevolg daaraan toe te skryf. Nee, ons het nie geskinder nie. Ons het mense met deernis bespreek het, want ons het nie meer die voortvarendheid van die jeug gehad om sommer ‘n oordeel te fel nie en nog nie die wysheid van die ouderdom om ‘n oordeel uit te spreek nie.

Nee, ek het dit mooi gestel – ons het mense met deernis bespreek. Soos die oggend toe ons in die winkel gestaan en regmaak het vir oom Willem se begrafnis. Ek sê díe môre vir Martie, Retha en Linda was nog nie daar nie, dat ‘n mens jou nooit moet aanstel nie, want dit kan jou donners suur bekom. Maar sy antwoord nie. Kyk ook nie vir my nie. Knik net effens instemmend en ek sien dat sy ook glad nie lekker is oor oom Willem nie. Na ‘n hele ruk, toe haar hoed volgens haar vereistes sit, sê sy sag: “Ja, en dis jammer dat almal dit nie weet nie, want die mense van hierdie plek kan hulle blêrrie opstêrs hou as hulle die dag lus kry.”

Ek sê toe sy’t reg en ek wonder hoekom die mense hulle so aanstel, want feitlik almal hier is maar net boere. “Dis hoekom,” sê sy, “Of hulle arm of ryk is maak nie ‘n moer verskil nie, want die ryk boere stel hulle aan omdat hulle boer en ryk is en die arm boere stel hulle aan omdat hulle boer en arm is. Soort van pretige geword om te ly onder die droogtes en ellemente en ellende.”

Ek kry die feeling van haar woorde en ons raak op dreef oor ons mense se aanstellerigheid en hoe dit jou inhaal. “Kyk nou maar vir oom Willem wat hom so aangestel het teenoor die spietkop”, sê ek. En Martie sê net: “Ja, ‘n lelike ding”

Een van Stofbultlaagte se vier strate is die grootpad wat dwarsdeur die plek loop, met die paar algemene handelaars en vulstasies en so aan weerskante. Die spoorlyn steek die pad reg in die middel van die dorp oor, met die kerke aan die linkerkant en die hotel aan die regterkant van die spoor. Ek dink dit is oor daardie verdeling dat daar altyd sulke onheilighede in die hotel se kroeg aangaan. Dringende Boereverenigingvergaderings in die aande met skelm gereëlde strippers uit die voorwêreld, en die volgende môre loop al wat boer is met blinkertjies op hulle baarde rond.

Maar dit daar gelaat. Oom Willem Petoors, (‘n moeilike baas-op-my-plaas-mannetjie) ry glo een middag so teen drie-uur se koers oor die spoor en onskuldig ook, volgens oom Willem. (Weet nou nie of hy bedoel het van die hotel of wat nie). Weet nie, maar hy sien toe nooit die verdommende mannetjie wat homselwers met ster beplakte kar en al daar op die platte aarde in die lang gras langs die spoor, skuilhou nie.

Toe hy nou so feitlik heeltemal onskuldig oor ry, spring die ge-univormde verskrikking voor  hom in die pad en hy moet woes uitswaai om nie die vent so plat soos ‘n vlakvark te ry nie.  Maar, reken oom Willem, met ‘n gewete oor `n dooie fokken spietkop sou hy sonder gesukkel kon saamleef. Hy’t maar so weggeswenk om verby die mannetjie te kom, want as hy moes stop waar die poepol hom wou laat stop, het sy kar se boot nog oor die spoor gehang. Nee, hy kry toe sy stop waar hý hom wou kry – deeglik van die spoor af en die spietkop loop die sestig of wat treë na hom toe aan. En met die uitklimslag dag hy dat hy wat Willem Petoors is hom nie laat stop deur `n goewermentsamptenaartjie wanneer hy geen planne had om te stop nie en hy gaat staat  sy staat voor die affêre! Díe sê toe vir hom of  hy weet dat hy `n verkeersoortreding begaan het en oom Willem kyk so deur die stof oor die verlate strate en sê hy weet nou nie, maar waar is die verkeer waaroor die neef so tekere gaan?

Die verkeersman beduie toe lekker beneuk dat die oom oor die spoor gery het sonder om eers stil te hou en te kyk of daar treine aankom. Toe kyk oom Willem die man aan of die son sy breinvloeistof daar tussen die lang gras brak gebrand het. (Stofbultlaagte het nie bome nie). So in die kyk vra hy die mens of hy weet hoe laat dit is en die mens sê ja en kyk op sy  grênd horlosie en sê dis vyf oor drie. En oom Willem kyk hom weer – net erger hierdie keer, so of sy breinvloeistof nou heeltemal verdamp het! En hy maak sy stem koud. So koud soos die minister s’n as hy die begroting oor die draadloos lees. Hy sê vir die rafeltjie dat hy wat Willem Petoors is, al vir baie jare op díe plek bly – so baie jare dat hy al vergeet het hoeveel en dat daar in al daardie jare net twee treine elke dag oor diè spoor loop: die kalktrein om tienuur in die môre en die lemoentrein om vyfuur in die middag en die kalktrein is al verby en dit is nog twee donnerse ure voor die lemoentrein kom. Oom Willem beduie bemoerd met sy een arm op met die spoor en hy sê vir die rafel : “Wil jy vir my sê dat ek hier moet stop soos `n donnerse fool terwyl hierdie spoor vir ‘n honderd myl na die weste,” en hy beduie met sy ander arm af met die spoor, “en vir ‘n honderd myl na die ooste toe bar lê?!” Toe klim hy in sy kar en los die oorblufte spietkop net daar.

En daar staan ek en Martie die oggend en voel aardig om later in oom Willem se begrafnisstoet oor daardie einste spoor te ry. Met die uitbreiding van die kalkmyn, het daar verlede week ‘n ekstra trein begin loop en oom Willem het nie daarvan geweet nie.

Martie sluit die winkel se deur agter ons en sê met ‘n sug: “Ja, aanstellerigheid is ‘n verdomde ding. Noodlottig ôk.”

Kyk bietjie rond...

A tiny love story written at 17:15

I was feeling rather overwhelmed; this was before the word became trendier that OCD and everyone suffered from it. Sitting down on

Loulierblare en Skoonfamilie

Martie het eendag, toe ons daar in haar winkel gesit en tee drink het, ‘n onskuldige opmerking gemaak wat die satan in