Stuur vir my ‘n liefdesbrief in die pos.

As jy poskantoor toe gaan en ‘n seël of ses koop, skryf vir my ‘n nota op Croxley-papier, in blou pen. Smeer per ongeluk die ink sodat ek moet sukkel om die woord uit te maak, maar tog verstaan wat jy bedoel.

Stuur vir my ‘n liefdesbrief in die pos.

As jy jou gedagtes op wit afdruk, die sweet van jou hand die papier laat kreukel, en ek jou lippe oor die ritmes van ‘n brug volg—die woorde begryp, en ook die gebruik van jou ellips…

Stuur vir my ‘n liefdesbrief in die pos.

Dat ek ‘n week of twee kan wag daarvoor, maar weet dit kom. Ek wil intussen sit en die blare van ‘n Barberton-daisy pluk, en oor jou wonder. Om dan, met die ontvangs van die posstuk in my hand, die laaste paar blare van die blom te stroop, want die antwoord lê tussen papier, met die spoeg van jou mond verseël.

Stuur vir my ‘n liefdesbrief in die pos.

Een wat sewe of agt folios vol geskryf is met versekerde, duidelik gevormde sinne, gevul met sinvolheid. Sonder X’e of XXX’e, en van daardie 🙂 en 😉 en soene—mwah mwah mwah—wat makliker uit ons vingers ontsnap terwyl keyboards en touchscreens ons taal verraai. Draai die bladsye om en skryf verder, ek wil sien hoe die ink deurslaan van die ander kant, woorde onthou soos ‘n Kentridge-tekening.

Stuur vir my ‘n liefdesbrief in die pos.

Enig in sy soort. Nie een wat herwin en herwin is, met name vervang, copy, paste, hier en daar ge-edit om in te pas nie. Ek soek ‘n nuwe een, uit jou woordekwas, of dan eerder niks—eerder as sinne wat by iemand anders beroof, verwerk en uitgewas is.

Stuur vir my ‘n liefdesbrief in die pos.

Maak seker van die stories in jou onderstroom. Onthou… tussen lyne begin wat tussen lakens eindig; of in trane met Pinotage. Passop vir wat jy daar wegsteek, en vir wie dit weer gaan vind. Onthou, soos ‘n kind, hoor ons nie net die woorde nie, maar voel ons die diepte van die pen se groef in die papier—wat van my die verskuilde spelfout in jou subteks maak…

Maar asseblief, stuur vir my dáái liefdesbrief in die pos.

Sou dit wees—die Een wat duidelik sê dis nou oor, dat ons mekaar iewers tussen lyne verloor het—sodat ek kan weet om my pen stil te maak, my hart te blok. Die verskuilde spelfout… die ellips te stop.

Of dalk stuur ék vir jóú die liefdesbrief,

In die pos, met ‘n seël of ses, in antwoord—op Croxley-papier met ‘n blou-smeer-pen en ‘n sweterige palm, wat twee weke lank reis, en jou met daisy-in-hand betrap, tussen blaaie met spoeg verseël—die ‘ja’, ‘JA’… ek wil jou óók hê. Dankie dat jy so duidelik vra.

Ek kom môre saam met die volgende melkwa…

Dit alles vir ‘n seël of ses.

Nou is al wat ek nodig het, jou fisiese adres.

Soortgelyk

heksedans

– Intussen dans ons godeloses soos hekse en heidinne op dwelms in grotte en woude om die sondes wat hulle in god se naam pleeg uit te weeg.

Read More »

Kremetarte kak af.

Met verskoning aan Jeanne Goosen My vrugte verryp tot swart?ek dink, of nee dis net Kremetartmajestueus grysbruin Jare lank so sterk en dik en wortels

Read More »

Ek’s jammer almal

Ek’s jammer almal Ek’t die ding geërf Wat anders kon ek doen? My pa’t gesê, Gewaarsku eintlik Hy sê, ‘jy kan die ding nie skiet

Read More »