Stuur my jou adres

Stuur aan my ‘n liefdesbrief in die pos. As jy poskantoor toe gaan, en jy koop ‘n seël of ses, skryf vir my ‘n nota op Croxley papier, in blou pen neer. Smeer perongeluk die ink dat ek moet sukkel om die woord uit te maak, maar tog verstaan wat jy bedoel.

Stuur aan my ‘n liefdesbrief in die pos. As jy jou gedagtes op wit afdruk, die sweet van jou hand die papier laat skif, en ek volg jou lippe oor die ritmes van ‘n brug, die woorde begryp, en ook die gebruik van jou ellips…

Stuur aan my ‘n liefdesbrief in die pos. Dat ek ‘n week of twee kan wag vir dié, maar weet dit kom. Ek wil intussen sit en blare van ‘n Baberton daisy trek, en wonder oor jou. Om dan, met die ontvangs van die posstuk in my hand, die laaste paar blare van die blom te stroop, want die antwoord is tussen papier, met die spoeg van jou mond geseël.

Stuur aan my ‘n liefdesbrief in die pos. Een wat sewe of agt folios vol geskrywe is met versekerde, duidelik gevormde sinne, van sinvolheid. Sonder X’e of XXX’e, en van die’s  🙂 en daai 😉 en soene mwah mwah mwah wat makliker uit ons vingers ontsnap oor keyboards en touch screens ons taal verraai. Draai die bladsye om en skryf verder, ek wil sien hoe die ink deurslaan van die ander kant, woorde onthou soos ‘n Kentridge tekening.

Stuur aan my ‘n liefdesbrief in die pos. Enig in sy soort. Nie een wat herwin en herwin is, met name vervang, copy, paste, hier en daar ge-edit om in te pas. Ek soek ‘n nuwe een uit jou woordekwas, of dan eerder niks as sinne by iemand anders beroof, verwerk en uitgewas.

Stuur aan my ‘n liefdesbrief in die pos. Maak seker van die stories in jou onderstroom. Onthou… tussen lyne begin wat tussen lakens eindig; of in trane met pinotage. Passop vir wat jy daar wegsteek, en wie dit weer gaan vind. Onthou, soos ‘n kind, hoor ván ons nie die woorde nie, maar voel die diepte van die pen se groef in die papier wat van ons, van my, die verskuilde spelfout in jou subteks maak…

Maar asseblief stuur aan my dáái liefdesbrief in die pos. Sou dit so wees, die Een wat duidelik sê dis nou oor, ons het mekaar iewers tussen lyne verloor. Dat ek kan weet om my pen te stil, my hart te blok. Die verskuilde spelfout… die ellips te stop.

Of dalk stuur ék aan jou die liefdesbrief, in die pos met die seël of ses, in antwoord; op Croxley papier met ‘n blou-smeer-pen en sweterige palm, wat twee weke lank reis, en jou met daisy-in-hand betrap, tussen blaaie met spoeg geseël die ‘ja’, ‘JA’ ek wil jou óók hê, dankie dat jy so duidelik vra, ek kom môre saam die volgende melk-wa…

Dit alles vir ‘n seël of ses, nou al wat ek nodig het, is jou fisiese adres.

Kyk bietjie rond...

A tiny love story written at 17:15

I was feeling rather overwhelmed; this was before the word became trendier that OCD and everyone suffered from it. Sitting down on

Loulierblare en Skoonfamilie

Martie het eendag, toe ons daar in haar winkel gesit en tee drink het, ‘n onskuldige opmerking gemaak wat die satan in