Hoofstuk 7. Die Doodstyding

Soortgelyk

Ari

Die Saai Lewe II : DEEL 1 Ari was ‘n baba van agtien maande toe hy een middag sleg verbrand het in sy ma se

Read More »

Kremetarte kak af.

Met verskoning aan Jeanne Goosen My vrugte verryp tot swart?ek dink, of nee dis net Kremetartmajestueus grysbruin Jare lank so sterk en dik en wortels

Read More »

STORIE SEWE UIT PLATPLEK SE MENSE

Ek het my een oggend gewip vir my medemens, want vir dae lank was dit net doodstydings en lang gesigte waar jy jou begeef het. Ek het gatvol geraak vir die ongeskikte manier waarop party boere met ‘n mens oor die telefoon praat. En ek was nog gatvoller vir die boere wat ‘n mens wakker bel voor die hoenders gepiepie het in die môre.

Ek het die ordentlikheid in my om ‘n telefoon beskaafd te antwoord. Ek sê: “Goeie môre, Lizelle Jacobs wat praat.”  Weet jy wat sê die man dan aan die anderkant? Hy sê: “Is jou man daar?” Nie goeiemôre, of kan ek asseblief met jou man praat nie?  Net: “Is jou man daar!”

Hulle hoef nie eers na my welstand te verneem nie. Ek vra nie soveel nie, net gemanierdheid en ‘n bietjie konsiderasie, want wie wil nou in die skemer-donkerte met die bloedstollende gelui van ‘n telefoon in jou ore ontwaak? Maar ek is seker, dit is omdat party mense skuldige gewetes het dat hulle nie kan slaap nie. Douvoordag moet hulle al regop en aan die gang wees, anders haal hulle bose lewenswandel uit hulle duistere verlede vir hulle in. Dan is hulle kwaad omdat hulle nie kan slaap nie en maak al wat leef en beef om hulle wakker. Ek het geen spoke wat my opjaag nie en daarom kan ek laat slaap as ek wil en as die ander bespookte gewetensdraers my uitlos!

Vir jare al dra ek hierdie kruis van die telefoon soos ‘n vrou – met verdraagsaamheid en ongelooflike toegeeflikheid. Maar díe Saterdagoggend erg ek my toe gruwelik. Selfs die sterkste vrou bereik een of ander tyd ‘n perk in haar lewe waar sy net nie meer verder kan nie. Díe Saterdagmôre het ek my perk bereik. My man is die Vrydagmiddag al weg om te gaan visvang en die kinders het die Saterdag geen sportbyeenkoms aan waarvoor ek hulle weer op ‘n onbehoorlike tyd by die skool moet hê nie en ek maak vir my klaar vir ‘n behaaglike oggend in die kussings. So teen vyfuur se koers word ek effens wakker en alles is doodstil om my. In die huis slaap al wat kind is en buite slaap al wat hond is. Soos ‘n mens jou die paradys sou voorstel op so ‘n vroeë oggend, só is dit toe die oggend op die plaas. Of die hoenders en die ganse uit respek vir die heilige oggend hulle bekke gehou het, weet ek nie. Maar ek draai vir my daar op my sy en ek slaap die slaap van die regverdiges.

Toe lui die telefoon! So tussen die newels en die droom waarmee ek besig was, kyk ek op die wekker en sien dit is half ses en ek dog lui in jou moer in man! Maar ek is seker hierdie ouens op die sentrale, (ons het nog partylyne en ‘n parafiensentrale), het óf ‘n sameswering met die vroegopstaners, óf hulle is kwaad omdat hulle so vroeg moet werk, want hulle lui of ‘n donnerse lewe daarvan afhang. En ek dog naderhand dalk hang ‘n lewe daarvan af en ek storm telefoon toe met die aakligste gedagtes oor my man wat verdrink het in ‘n poging om ‘n vis te vang en my ma wat op dood toe na aan sterwe lê en ek weet nie nog wat nie! Ek tel die gehoorbuis op en sê beangs en uitasem: “Môre, Lizelle Jacobs hier.” En die man aan die anderkant sê: “Is jou man daar?” 

Toe kom sit die duiwel wydsbeen oor my nek en hy praat met my! En ek dink ek kan dit nie doen nie en die duiwel praat weer met my. Jy weet, die donnerse duiwel is ‘n geslepe adder, want hy weet die vroeë oggendure is nie my vriendelikste tyd van die dag nie. Hy weet ook dat ek daardie tyd van die oggend nie die krag het om hom te beveg nie. Ek sê vir die man aan die anderkant van die lyn wat die duiwel vir my voorsê. Ek sê vir hom: “Nee, my man is nie hier nie. Hy is dood.”

Toe volg daar ‘n lang stilte en die man gee so ‘n kuggie en hy sê vir my: “Ag Mevroutjie ek is vreeslik jammer om dit te hoor. Wanneer is hy oorlede?” Ek sê: “Laasnag. En steek jou jammerte in jou gat – dwars as dit moontlik is! Want hoekom kan jy nou vriendelik en ordentlik wees?  Nou, by die aanhoor van die dood! Hoekom kan jy nie ordentlik wees terwyl almal om jou nog lewe nie?”  En ek sit die gehoorbuis neer.

Wat toe gevolg het, was iets onaardig!  Soos ek die ding bekyk, moes dit ou tant Mieta gewees het wat die nuus versprei het, want terwyl ek met die man gepraat het, het ou tant Mieta op die lyn ingeluister. Ek weet dit was tant Mieta, want ek kon haar duidelik hoor asemhaal, en daar’s net een mens op ons lyn wat so hyg na lug en dit is ou tant Mieta.

Die ark was oop. Binne ‘n paar minute het die telefoon begin lui en ‘n rukkie later het die karre soos by ‘n nagmaal van ouds op die werf ingery gekom. Van my beste vyand tot my slegste vriend het van hom laat hoor.

Die hele ding was einlik te aardig om oor te vertel. Party mense was sterk by die betoon van simpatie, maar ander, van wie ek dit die minste verwag het, het huilend by die deur ingebars en my histeries om die hals geval, voordat ek kon verduidelik dat alles net ‘n misverstand was.

Ek het naderhand gevoel dat as ek die storie van die man en die telefoon nog eenkeer moet vertel, gaan ek aan die skreeu en trek al my hare uit my kop uit! Maar die ergste was die stertjies wat die doodsberig bygekry het. Ek moes naderhand aanhoor hoe jammer party mense is om te verneem dat my man homself die vorige aand doodgeskiet het. Net van die ongeskikte man op die telefoon het ek nie ‘n dooie woord gehoor nie.

Nee, dit was ‘n lelike ding! Maar laat dit vir hulle ‘n blêrrie les wees!  Sommer vir almal. Van die ongeskikste telefoongebruikers en onbedagsame vroegopstaners tot by die luistervinke en skinderbekke wat so graag op loop raak met ‘n storie. Laat dit vir hulle ‘n les wees!