Hoofstuk 6. Marietjie se trans

Soortgelyk

Ari

Die Saai Lewe II : DEEL 1 Ari was ‘n baba van agtien maande toe hy een middag sleg verbrand het in sy ma se

Read More »

Kremetarte kak af.

Met verskoning aan Jeanne Goosen My vrugte verryp tot swart?ek dink, of nee dis net Kremetartmajestueus grysbruin Jare lank so sterk en dik en wortels

Read More »

STORIE SES UIT PLATPLEK SE MENSE

Was ek darem eendag de hel in vir Marietjie toe ons daar in haar winkel sit en tee drink. Ek was lus en slaan haar ‘n hou dat sy vir drie dae lank waterpas trek, maar sò lam van die skrik was ek, dat ek nie ‘n hand kon oplig nie.

Ons sit so en gesels oor die droogtes en ellendes en die oeste wat weer op die lande staan en verbrand en ek sien Marietjie is bedruk. Maar ek steur my nie eintlik daaraan nie, want op Stofbultlaagte is almal maar die meeste van die tyd depressief oor die droogtes. En as Marietjie die dag bedruk is, praat ek haar moed in en as ek af voel, begeester sy my weer. So worstel ons al vir jare – so op mekaar se krag.

Maar díe môre sê sy skielik vir my: “Nee, ek kan dit nie meer hou nie. Ek raak te oud vir hierdie gespartel om ‘n bestaan.” En sy kry so ‘n veraf uitdrukking in haar oë soos ‘n basoetoevrou wat mis optel. “Jy weet Lizelle.” sê sy “as ek my lewe kan oorkry, bevloog ek daardie Johannesburg net na standerd tien, bygesê as ek nie so gelukkig is om daar gebore te word nie, en ek gaan bly in die middel van die middestad op die veertiende verdieping in ‘n woonstel. Ek wil nie ‘n potplant of ‘n kat hê waarvoor ek moet water gee nie. Ek wil nie ‘n windowbox hê wat my in die versoeking kan stel om ‘n steggie pietersielie te plant nie. Ek wil nooit weer omgee of dit reën of nie.” Ek sit die vrou so en bekyk en dog by myself – Lizella, vandag sal jy moet kophou soos ‘n dronk weerluis, want hier kom ‘n lelike ding.  

En ek is nog so aan die beplan oor hoe ek hierdie kop gaan hou, want ek voel toe by myselwers ook glad nie stuitig oor die toestande nie, toe kom die lelike ding. Sy sê vir my: “Lizelle, ek sê vir jou, as die dood vandag na my toe aankom, kyk ek hom vas in die oë en ek vra vir hom: “Dood, waar vertoef jy?”

Maar ek skrik vir my! Daar sit sy met die mis-uitdrukking in haar oë en ‘n selfmoord dreigement op haar lippe. En ek weet nie of sy vír my, déúr my, of lángs my verby kyk nie. Sy sê nie ‘n dooie woord verder nie, sy sit net en sy staar so om my. En ek sit ook. Asof ‘n slang my gehipnotiseer het, sit ek – te bang om te beweeg, want netnou kom die vrou uit haar beswyming en slaan haar hand aan haar eie lewe! Ek raak naderhand heeltemal verbouereerd van die aardigheid om so te sit en te weet die dood kan enige oomblik hier voor my toeslaan, en ek waai my hand so voor haar oë. Jy weet, soos ou koningin Elizabeth van Engeland, as sy die skares groet – net so effentjies, want ek wil nie die vrou die skrik injaag nie. Maar niks, sy knip nie ‘n oog nie. En ons sit. Ek besef later dat die vrou in ‘n trans gegaan het, en ek sit nog stiller.

Ek weet nie hoe lank ons so gesit het nie, maar ek begin lateraan besef ons kan nie ons lewens so omsit nie, ek sal hierdie vrou uit haar trans moet kry. Maar van pure vrees vir die vreemde verskynsel hier voor my, slaan my kop net daar toe soos ‘n klei-os se agterent. Ek meen, hoe hanteer ‘n mens ‘n vrou met sulke glaserige oë soos ‘n dooie vis? En boonop het ek al gehoor dat mense wat so in ‘n trans gaan, beserk kan raak as hulle ‘n skrik vang.

Nee, ek sit toe maar nog ‘n ruk en ek hou haar fyn dop. En ek beginne myself naderhand stadig bymekaar te kry en ek sê vir myself: “Lizelle, was jy nie nog altyd ‘n sterk vrou nie? Was dit nie jy wat daardie dag die mamba se kop platgeslaan het toe almal soos malles by die deur uitgestorm het nie?” En voordat ek myself kan antwoord dat dit hier voor my nie ‘n ou mambatjie is nie, maar ‘n vrou met die dood in haar oë, toe neem ek my besluit – vir díe vrou moet ek aan die praat kry! Subtiel en kalm aan die praat kry!

En ek verskuif my sit versigtig, totdat ek tevrede is dat ek lyk soos die sielkundiges op die televisie wanneer hulle ‘n pasiënt konsulteer – so effens skuins, met my een arm op die tafel en ‘n intens-belangstellende blik in my oë. En ek maak my stem gelyk, amper dralend en ek sê vir haar: “Marietjie my ou maat, praat jou hart uit. Vertel my alles, man. Begin by jou kinderjare.  Het jy ‘n moelike jeug gehad?”

Ek vra toe maar, alhoewel ek weet dat sy ‘n moelike jeug gehad het, want sy het naby Stofbultlaagte êrens op ‘n plaas tussen die droogtes grootgeword. Maar ek vra toe, want ek het al gehoor dat ‘n mens jou hele lewe, van begin tot end, voor ‘n sielkundige moet blootlê. Dan kom hy glo uit al jou gepraat by die wortel van die kwaad uit. Maar Marietjie praat nie en die angs wil die lewe uit my druk, want ek sien die droogte het hierdie vrou gevat!

Ek kry naderhand so ‘n visie van my vriendin agter tralies in een van dáárdie plekke – soos ‘n zombie van al die ellende en swaarkry, en die huil stoot so in my keel op dat ek nie ‘n verdere woord kan uitkry nie. Maar in my verdriet besef ek toe dat dit ook maar goed is as ek nie praat nie, want ek het al gesien dat wanneer ‘n pasiënt nie wil praat nie, bly die sielkundige ook maar stil totdat die pasiënt uiteindelik self besluit om te praat. Maar Marietjie besluit nie om te praat nie. En dit word naderhand lank en my rug word seer van die eienaardige skuins posisie, en die visie van die vrou agter tralies word al duideliker.

Maar ek begin naderhand kriewelrig raak. Want ‘n bedrukte mens kan ek nog vat, maar vir ‘n sissie wat sommer so sit en lewendig doodgaan oor ‘n paar ou probleempies, het ek nie ooghare nie. En ek ruk my mos net daar op vir die vrou! Ek dog skrik vir jou nou in jou moer in man, maar vir jou kry ek nou uit hierdie trans uit, of ek loop en los jou laat jy staar tot jy biltong is. En ek slaat met my vuis een helse hou op die tafel.

Kyk, die skrik wat ek reeds in my lyf gehad het oor Marietjie se trans, was niks in vergelyking met die een wat ek toe vang nie! Ek dog die vrou raak beserk, want sy gaat daar van skrik aan de skreeu en de slaan dat jy net koppies en tjekboeke en rekeningstate sien trek. En ek dog by myself, wragtig, vir ‘n mal mens sien ek nie ook nog kans nie! Ek gryp my handsak en ek maak vir die deur. Maar ek is net so drie treë weg, toe steek ek in my spore vas, want Marietjie gil hier van agter af op my of ek donnerswil van lotjie getik is om so op die tafel te slaan, sy’t haar water en ligte weggeskrik en kan ek nie sien dat sy in meditasie is nie!

Vir verslaendheid was daar in my reeds geteisterde gees nie plek nie, maar vir woede het ek plek gemaak. Want toe ek haar vra wat de hel sy bedoel met meditasie, vat sy ‘n sluk van haar yskoue tee en vertel my ewe kalm, asof niks gebeur het nie, dat sy nou die dag gelees het dat ‘n mens moet mediteer as jy depressief is. En dit is wat sy gedoen het! En dit het gewerk, want sy was net besig om haar probleme te oorbrug toe ek soos ‘n besetene op die tafel slaan.

Toe loop ek sonder om ‘n woord te sê en ek dink dat ek nie moet dink nie, want moord is al wat in my gedagtes gaan opkom.