Die meisie op vloer vier

Sy het hoë rompies en lae toppies gedra. Haar hare was vier skadu’s donkerder as swart en ek dink sy’t plastiek nippels voor by haar bra ingedruk, dit kon badproppe ook gewees het. Sy’t haar siel iewers tussen vloer drie en vyf verloor en elke aand kom daar ’n ander prins met ’n Benz aan en met sy afskeid loop die trane.

Ek kon nie besluit of die kap van die kopstuk teen die muur ’n groter lawaai gemaak het as haar gesanik nie, maar ten minste was die gekappery vinniger oor as die huilery. Vir elke besoeker, vir elke kap en vir elke huil-sessie het ek ’n strepie teen my kombuismuur gemaak. In die oggende het sy coke en tjips kom koop by die bakkery op die hoek waar ek gewerk het, sy’t lelik gekou maar mooi gelyk.

Vivian, as dit haar regte naam was – elke man het haar by ’n ander naam genoem – het soos Aspoestertjie by die huis gesit en so het die prinse hulle modder skoene en vuil geld vir haar gebring en so het sy hulle met skoene en trouringe in die sak, huis toe gestuur.

So was haar huur betaal haar kat gevoed, nou en dan ’n perm bekostig en haar siel stuk-stuk uitverkoop. Haar ononderbroke gesoek na ’n glasskoen het die strepies teen my muur vermenigvuldig.

Ek hoor laat ’n  klop aan my deur. Daar staan sy met ’n koppie in haar hand. Haar hare pikswart, ek ruik die ammoniak. Onder in die straat skree ’n Mercedes se wiele teen die nat teer.

“Het jy tee?” vra sy.

“Nee,” sê ek, “ek drink net koffie en wyn.”

“Wie se voël moet ek suig om tee te kry in hierdie plek!” gil sy by die gang af.

“Ons bak koek, chocolate,” sê ek, en nooi haar vinnig in, ek was nie lief vir ’n drama in die publiek nie, veral nie in my onmiddellike omgewing nie. Ek bly al jare in die blok en dit ontstel my as mense my groet in die gang. My ouma was mos so luidrugtig hulle het haar op veilings gehuur om die pryse uit te skree, ek kan tot vandag toe nie lewende hawe aanskou, sonder om te wonder hoeveel dit kos nie. Ek verkies maar die teater.

Sy loop in en sif die meel, meng die melk in en ek sit musiek aan. Sy dans om die stoof en ek hoor Ma se stem, “kry vir jou ’n vrou wat kan kook.” Sy klits die pan in die oond, ons drink goedkoop wyn.

“My naam is Griet,” sê sy. “Sebastian,” sê ek. Ek sê sy’s mooi en sy vra oor die strepies op die muur. Ek sê ek versamel iemand se siel. Sy vra of dit te koop is, want sy betaal goed. Ek sê nee, dis klaar afbetaal, dit moet nog net opgelaai kom word. Sy vra hoe sy dit gaan dra, ek sê ons bak dit. Sy sê maar die koek is in die oond en ek sê die skrif is teen die muur. Sy sê ek’s vol nonsens en loop venster toe met ’n pakkie Camel. Die stoof sê ‘pieng’.

Ek gee vir haar die koek en sy’s by die deur uit.

Sewe jaar later sit ek by die bakkery en mors sous oor ’n tert, en brand my assistant in noodgevalle in. In die hoek van my oog stap ’n vrou in met twee kinders en ’n toeknoop trui, hare vier skadu’s donkerder as swart. Later stap die man in. Lank en donker met ’n rooi das. Hy en die kinders gaan sit by die tafel in die hoek. 

Sy bestel twee koffies en twee melkskommels.

“Ek sal my siel verkoop vir ’n stuk chocolate koek,” sê sy. Ek gee vir haar ’n bordjie en sê die een is klaar afbetaal. Sy streel oor my hand en vra hoe sy lyk. Ek sê sy lyk pragtig en die skoene is fabulous, sy sê dankie en vra, “maar het jy die prins gesien?”

Ek knik en die tert met die blaas op haar hand sê die sous is nou so koud soos ’n hoer se hart, ek sê nou maak ’n strepie teen die muur.

Kyk bietjie rond...

A tiny love story written at 17:15

I was feeling rather overwhelmed; this was before the word became trendier that OCD and everyone suffered from it. Sitting down on

Loulierblare en Skoonfamilie

Martie het eendag, toe ons daar in haar winkel gesit en tee drink het, ‘n onskuldige opmerking gemaak wat die satan in