Die vrou en die sonbril

Op ’n verskriklike normale dag in April hardloop ’n baie maer vrou genaamd Mei, by ’n sonbrilwinkel in met ’n vet kind aan haar regterhand en gil vir die slap pols agter die toonbank dat sy ’n sonbril soek. Jerome het eenkeer vir die kind gekyk en op die till gekots en die grootste bril in die winkel in Mei se hand gestop. Die vrou het die massiewe pienk bril op die kind se kop gesit en gevra of daar groter is. Jerome sê nee hier was nou net ’n groep Joodse vrouens gewees, dis die grootse wat hy het en sluk moeilik. 

Mei is daar uit met ’n voorskrif in die een hand en ’n gemaskerde sopbeen in die ander. Sy is die straat af met ’n string honde agterna by die apteek in. Die apteker sê geen diere toegelaat nie en sy sê dis nie myne nie, hy sê nou hoekom koop jy vir dit ’n  sonbril, en druk ’n  herhaling Prozac in haar hand. Hy vra sy moet asseblief van hulle afleweringsdiens gebruik maak in die toekoms, die een met die bril lyk te veel soos bacon en dit sal ’n groot groep vrouens wat gereeld daar koop vreeslik ontstel. 

Toe Mei haar laaste pannekoek by die sportbyeenkoms gebak het en vir die laaste keer moes sien hoe haar dik seun met die pienk windscreen tiende kom in die honderd meter, het sy haar laaste pil gesluk en vir die skoolhoof gaan omverskoning vra.

’n Maand en ’n half later gaan laai sy hom by een van die beste hoërskole in Pretoria af met ’n kredietkaart, die sonbril en drie tasse. Sy het hom op die kop gevryf en gesê dat sy jammer is en dat sy geen hoop meer het nie, en dat dit nie anders kan nie. Mei is daar weg in haar afslaandakmotor, met ’n sigaret in die een hand en ’n padkaart in die ander. Sy seil deur die Karoo met haar rooi skip en ’n bottel Jack Daniel’s tussen haar bene.

Sy’t haarself vir ’n onbepaalde tyd in ’n hotel ingeboek met ’n subscription vir die Junk Mail en al die staatskondome wat sy in De Waterkant se publieke toilette kon vaslê. So het sy die Kaapse mans gewys hoe Dawid die wortel moes plant. Sy het hulle in koerante ontmoet, in kafees raakgeloop en in nagklubs verkul met versigtige make-up en ’n Virgin Active lidmaatskap. Saam gesweet, saam gehyg, saam geswyg.

Mei het van Januarie tot Desember getroude, bekeerde en onervare mans se begeertes uit hul broeke laat ontsnap. Soos die mans minder geword het, het die make-up dikker geword. Sy’t by dieselfde kafee gesit waar sy elke Vrydagaand in Mei, Blow-jobs gesit en drink het, net om dit later vir die aantreklike waiter met die stywe hemde in die badkamer terug te gee. Mei het na die vrou aan die oorkant van die restaurant gestaar, dit was ’n dame in haar laat veertigs wat dieselfde klere as sy gedra het en Mei het gewens die vrou will by Queenspark begin aankope doen. Sy het voor haar uitgestaar en twee gevaarlik-aantreklike mans sien sit wat diep in mekaar se oë gestaar het en gesug oor die verlies namens alle vrouens in die Wes-Kaap.

Later die aand het sy die kelner in die badkamer gaan betaal vir die drankies en terug geloop na waar sy gesit het. Sy’t in die rigting van die vrou gekyk en gesien sy staar terug na haar. Dis was net sy, die vrou en die twee mooi ouens oor. Sy het weer na die geblurde vrou gekyk en nader geloop. Hulle het reg voor mekaar gaan stil staan en vir ’n wyle in hul handsakke gekrap. Mei het ingeleun en haar lipstiffie oopgemaak. Sy het haar lippe begin inkleur en vir die vrou gesê sy moet versigtiger grimeer, die vrou het vir haar gesê dis tyd vir Queenspark. Mei het haar kop teen die spieël laat rus en ongemerk begin huil. 

Die trane het deur die gleuwe op haar gesig gestroom, sy het opgekyk en in die weerkaatsing tussen die trane deur die mooi man sien nader loop. Sy’t haar grimering probeer red. Die man het sy hand op haar skouer gesit en met ’n sagte diep stem gesê hierdie sal weer hoop gee en ’n enorme sonbril in haar hand gesit.

Hy’t hand aan hand in die liggies verdwyn en sy’t die bril opgesit en geweet hy is nie jammer nie. Sy was ook nie, net spyt oor die apteke al toe is.

Kyk bietjie rond...

A tiny love story written at 17:15

I was feeling rather overwhelmed; this was before the word became trendier that OCD and everyone suffered from it. Sitting down on

Loulierblare en Skoonfamilie

Martie het eendag, toe ons daar in haar winkel gesit en tee drink het, ‘n onskuldige opmerking gemaak wat die satan in