Flats

Die luidrugtige vrou met die klompe bo my, het eendag stil geword net ná die weer om sewe. Ek het vir die dag gebid sedert ek hier ingetrek het in my eerstejaar. Sy het na vreemde Italiaanse musiek geluister en ek het permanent parmesan geruik. Haar hare het my baie ontstel. Gelyk soos iets wat gerasper en toe gedroog is.

Ek dink haar man het in die vroeë tagtigs doodgegaan van verveligheid en ’n  allergiese reaksie. Niemand het of wou haar regtig ken nie, want vir alle doeleindes was sy ongelooflik eienaardig en normaal verkak soos enige vrou wat vir langer as 25 jaar met dieselfde man getroud was. 

Haar kinders het haar verlaat na hulle ontslaan was uit die inrigting en die jongste dogter het begin geld vra vir die dienste wat sy al in standerd ses begin lewer het. Dié bly nou in Waterkloof en ry ’n slap BMW. Die seun bly iewers in Kaapstad. 

Ek’t nie verder veel van haar geweet nie, behalwe dat sy vreeslik hard geloop het en knaend haar meubels rondgeskuif het, so asof sy ’n gewete het. Sy’t ook elke Valentynsdag my pos gesteel en Sondae vir die kinders wat in die straat speel geskreeu “Jesus hou julle dop!”

Net nadat die polisie haar lyk die volgende oggend uitgesleep het – sy wás toe dood net na die weer, seker die naamsveranderings wat haar so ontstel het – het ’n brief onder my deur verskyn. Ek is aangewys as die gelukkige eienaar van al haar gemors en die oorgewig kat wat na alle verwagting ook na parmesan geruik het.

Ek het nie geweet sy’t my só gehaat het nie. Die ondernemers was nog nie by die hek uit nie, toe klop die opsigter aan my deur, ’n doodgewoon middeljarige man met ’n hangover-groen hemp. Hy sê hy sal help, die vrou het baie kom suiker leen, hy soek sy Tupperware terug en daar is ’n lamp wat sy hom belowe het. My moed walm so effens op, en ons pak die tog aan na die boonste vloer, ek loop liewer voor die hemp.

Nadat alles gesorteer en weggegooi is, het ek die laaste laventel olie op die kat uitgegooi en met ’n vreemde rustigheid in my bed gaan klim – haar Tretchikoff afdruk trots bo my kop.

Die volgende week het daar ’n nuwe huurder ingetrek, mooi man met donker oë. Toe ons mekaar in die voorportaal raakloop, dog ek by myself, plaas die ou vrou vroeër gevrek het. 

Die groen hemp kom leen nou konstant suiker bo. Gelukkig bly die kat terugloop na haar ou flat toe. Môre is Valentynsdag en ek kan nie wag vir al die pos nie.

Kyk bietjie rond...

A tiny love story written at 17:15

I was feeling rather overwhelmed; this was before the word became trendier that OCD and everyone suffered from it. Sitting down on

Loulierblare en Skoonfamilie

Martie het eendag, toe ons daar in haar winkel gesit en tee drink het, ‘n onskuldige opmerking gemaak wat die satan in