‘n Suid-Afrikaner in Amsterdam

deur Cloudette van der Berg

Mense het baie opinies as jy na ‘n ander land toe trek. Mense wat in Suid-Afrika agterbly en ook mense wat uit Suid-Afrika getrek het. Ek is 42 en het al baie stront in my dae opgevreet maar ek is nie een wat vreeslik omgee vir oningeligte mense se opinies nie. 

Ons plan was om net vir twee jaar te gaan. Ons wou reis en die wereld sien. Die wereld se kosse eet. Die wereld se kulture beleef. Die wereld inasem. Dit het ons minstens drie jaar gevat om ons voete te vind nevermind gemaklik te wees in Amsterdam. Ons is nou al sewe jaar daar. Sewe sakke sout. Sewe sakke ervaringe. 

Ek onthou spesifiek toe ek die eerste keer in Florence, Italie was. Ek was alleen daar vir die een of ander werks vergadering. Ek het opgeloop na ’n uitkykpunt. Ek kan nie eers vir jou se wat die naam van die uitkykpunt was nie, almal het net gese ek moet gaan. Dit was net so met sonsondergang. Ek het daar gestaan met hordes toeriste om my maar die Duomo en die stad het voor my uitgestrek gele, gehul in goudgeel en rooi kleure. Ek het net begin huil. Wie is ek dan nou, dat ek so iets kan of mag ervaar? ’n Vraag vir later. Ek het besluit om dit net oor my te laat spoel. Voel. 

Na sewe jaar is ons goed ingeburger, ek vind myself fiets ry in die reen met twee sakke groceries wat ek by die Albert Heijn gekoop het. Ek kyk nie meer snaaks vir mense wat in die strate hulle honde loop met hulle nagklere aan nie. Of mense wat op straat dagga rook nie. Of mense wat se hele gesig vol tattoos is nie. Ek het verander. Amsterdam het my verander. “You do you”. Die hemel hoor vir my, daar is genoeg judgement in hierdie lewe, ons kan ’n beter poging aanwend om nie daartoe by te dra nie. In elk geval, ek ken nie jou storie nie en ons almal het ’n storie. Ons almal probeer net deur hierdie donnerse lewe kom. Ek quote altyd vir Johannes Kerkorrel…”Ons survive met ’n helse lot pyn”. Inderdaad.

My patriotisme vir Suid-Afrika strek sover soos die diep blou see. So as mense my vra of ek Suid-Afrika mis en of ek eendag wil teruggaan Suid-Afrika toe, sak my moed sommer pertinent in my skoene en dan skud maar my vere reg vir “die gesprek”. Want glo my as jy ja antwoord op hierdie vrae, word jy gebombardeer met woorde soos “omgekeerde rassisme, misdaad, onveilig, onderwys sisteme” bla bla bla. Ek is nie blind of onbewus nie, maar fok ne, jy kan jouself maar regmaak vir ’n tirade. Niemand se vir my hoe ek oor my land moet voel nie. Nie jy of jou tannie of jou ma se sussie se agter kleinneef nie. Amsterdam is baie dinge vir my, maar dit is nie my moederland nie.

Ons soek Suid-Afrika om elke hoek en draai in Amsterdam. As een van ons terugkom van Suid-Afrika, dan bring jy vir die res Peppermint Crisps en Grand-Pa’s en jy deel jou biltong. Ek gaan elke twee jaar na die Afrikaanse fees toe in Amsterdam. As daar ’n Suid-Afrikaanse sanger in Amsterdam is, daag ons op in massas. Ons registreer en stem in die verkiesings. 

Die winters is lank en genadeloos in Amsterdam maar as iemand vir my vra hoekom ek so lief is vir Suid-Afrika, dan glimlag ek en antwoord graag… ek is lief vir my land omdat ek by die robot kan stop, ja ’n robot, nie ’n verkeerslig nie en ’n sonbril koop want die son brand so sterk. Ek is lief vir my land vir mense soos Jacob Zuma want hy wys ons wat ons nie wil wees nie en nie wil he nie. Ek is lief vir my land want ek kan kaalvoet loop en die warm Afrika grond onder my voete voel. Ek is lief vir my land want ons almal drink Cream-Soda en eet ‘n garage pie na ons ’n aand om ’n tafel in Garsfontein gesit het en mekaar deur die lewe gehelp het. Ek is lief vir hierdie land want ons almal lyk verskillend. Ons is verskillend. Ek is lief vir hierdie land want ek weet al skree jy op my want jy is frustreerd en het padwoede, as ek in ’n situasie beland waar ek hulp nodig het, sal jy help. Ek is lief vir hierdie land want die tannie by die tuisnywerheid noem my Ounooi en dit laat my voel asof ek in my Ouma se kombuis sit. Ek is lief vir hierdie land want mense maak oogkontak. En groet. Ek is lief vir hierdie land want sy geskiedenis vloei in my are. Sy toekoms, in my are. 

Kyk bietjie rond...

A tiny love story written at 17:15

I was feeling rather overwhelmed; this was before the word became trendier that OCD and everyone suffered from it. Sitting down on

Loulierblare en Skoonfamilie

Martie het eendag, toe ons daar in haar winkel gesit en tee drink het, ‘n onskuldige opmerking gemaak wat die satan in

2 Replies to “‘n Suid-Afrikaner in Amsterdam”

  1. Yô! Jy toor met woorde gurl. Ek kry sommer ‘n knop in my keel, want jy laat my besef dat ek soveel dinge van hierdie land van ons nie genoeg waardeer nie. Iemand wat jou “ounooi” noem #finished

Comments are closed.