Soetpatats en Craven A

Sy skiet die stompie dat hy met ’n boog oor die voorstoep trek. “More Tant Rita, hoe gaan dit?” “Kind is ek met jou blerrie oom getroud goed dankie die knieg pla net wat gaan met jou hare aan?” Tant Rita is al twaalf jaar lank ’n weduwee, haar man is dood aan ’n bors en ’n klein drankprobleem. Sy het al jare terug die uile begin roep, niemand hoor nie, behalwe ek.

“Sit sommer daar in die kitchen my kind, het jy vir die Griek gevra of die patats soet is, daai goed van nou die dag was maar so half frank, jy weet mos; proe so asof jy patats eet.” Ek kyk haar vriendelik aan waar sy met haar krimpelien rok, handjies gevou op die draadstoel sit, die dood het seker van haar vergeet; God nie. “Ja Tante, hy sê dis stroopsoet, glo in bruinsuiker geplant.” Tant Rita kyk my so skuins deur haar bril aan, terwyl sy nog ’n sigaret opsteek. “Jy praat nou lekker twak, en sê jy vir my ‘stroopsoet’ in Ingels dan gee ek vir jou my oorlê Ouma Verhoef se antique sofa.” 

Ek koop eenkeer ’n week vir Tant Rita haar inkopies, sy sukkel met die knieg in die winkels, en dit gaan nog stadiger, want sy wil weet of dit vars is en of dit nog lekker crisp is; “want kindjie, jy weet die groente van vandag is ook nie meer soos dit in my tyd was nie, en die rose ruik ook na niks.”

“Tannie glo my, dis soet!” In hierdie klein plattelandse dorpie praat almal Afrikaans, selfs die Portugese se kinders gaan na Afrikaanse skole. Bolle rook waai in die wind weg, ek skink vir my tee uit haar ‘oorlê Ouma Verhoef se antique teepot’ en vat een van haar gemmer biscuits. 

Ek sien Tant Rita se praat is vandag op, dis dae soos die, dat ons net so sit en kyk hoe die kinders in die pad grootword. Haar dogter bly in die Kaap, sy sien haar so een of twee keer per jaar. Sy is siels-alleen hier in die aftreehuisie, waar sy sedert haar man se dood bly. Haar buurvrou Tant Mollie kom kuier elke middag half vyf. Ek reken hulle sit ook nou maar so en wag dat tyd vergaan, dag na dag sonder om ’n woord te sê. Tant Mollie praat ook nie veel nie, ook seker maar goed so, anders sou Tannie Rita haar seker lankal weggejaag het.

Ek sien die ou vrou kyk my so snaaks aan, ek weet sommer; haar blou rok. “Hartjie, jy weet die predikant kom die dag na oormôre, daai blou rok van my moet gedraai-clean word jy weet mos ek sê altyd, mens kan arm wees, maar jy moet dit net nie lyk nie.” Ek knik en sy skiet weer die stompie met ’n boog dat hy doer by die res op die hoop gaan lê.

“Het dit al gereënt by jou pa?,” vra sy met ’n hees stem voor sy in ’n hoesbui uitbars. Ek antwoord haar en sy sug. Sy bied vir my ’n sigaret aan en ek vat een uit die verfrommelde Craven A pakkie uit. “Hier’s die metches,” sê sy, terwyl sy ’n diep teug sigaret vat. 

“Ek sal moet spreen clean,” sê sy, “my dogter het gebel, sy kom Krismis kuier, die baby kom in Maart, glo ’n seuntjie”. Tant Rita word vir die eerste keer Ouma en ek kan sien dit is nogal ’n groot gebeurtenis vir haar. Haar groot oë blink as sy my vertel en haar handjies vryf stadig teen mekaar. “Hy gaan glo die ander Oupa se name kry dis sommer stront,” sê sy , “dis al klaar genoeg dat hy nie Verhoef agter sy naam kan skryf nie, nou moet hy nog ’n vreemde naam ook hê. Ek sê vir jou Oom Ben (haar man) draai in sy graf om.” 

Ek kan sien dit pla haar nie so erg nie, die idee van ’n kleinkind is al klaar genoeg. 

Sy druk haar hand in haar rok se hang sak, trek dertig rand uit en druk dit in my hand. “Is virrie draai-clean en Craven A,” sê sy, “hou die change.” Sy glimlag verleë. Ons beide weet dis nie genoeg nie. Maar dis eintlik soveel meer vir my. 

Toe ek die middag vir Tant Rita groet dink ek by myself, ek glo nie die dood het van Tant Rita vergeet nie, inteendeel, ek dink sy is een van die wat hy gaan onthou. 

Tant Rita is twee dae na haar kleinkind se geboorte oorlede. Sy het net gaan lê. Die patats by haar begrafnisete was stroopsoet. Tuisgekom ek het ’n Craven A gerook op my nuwe sofa, tee geskink uit haar Verhoef teepot. 

Mag die dood ons almal onthou en die klein goedjies laat geld, en die kleingeld hou.

Kyk bietjie rond...

A tiny love story written at 17:15

I was feeling rather overwhelmed; this was before the word became trendier that OCD and everyone suffered from it. Sitting down on

Loulierblare en Skoonfamilie

Martie het eendag, toe ons daar in haar winkel gesit en tee drink het, ‘n onskuldige opmerking gemaak wat die satan in