Ou Vriende

’n Naweek in die Hoëveld waarvan ek nie spesifiek die datum van kan onthou nie, het ek gerus. Dit was winter weet ek. Soggens oor die panorama uitgestaar en gekyk hoe die mis die oggend ‘koebaai’ sê. New York, New York was nie in die agtergrond nie. Die stilte was ontstellend. Ek sit en kuier by myself, word uitgeskel oor ek so lanklaas gesig gewys het. Geen verduidelikings nie. Erken my skuld. 

Photo by Laura Geror on Unsplash

Ek luister vir die wind deur die denne. Herken hier en daar woorde, maar ek’t die aksent te lanklaas gehoor, ook my eie skuld. Om my is twee mense, maar ek bly alleen. Verder is daar niemand anders buite my nie. 

Ek begin die ander mense groet, het hulle so lanklaas gesien, maar die gesigte lyk bekend. Die hofnar kom sê eerste hallo, will weet hoekom ek so lanklaas gelag het, hy gee vir my ’n koppie koue tee en ’n ou beskuit; “sy ouma is glo dood en met sy ma se bak vernuf”, sê hy, “is sy dood ook naby”. Ons groet en ek sê ek sal meer gereeld kom kuier.

Die menthol brand koud in my bors en ek skop die kind se bal terug. Sy lag en sê ek moet oefen. “Ja”, sê ek; “ek is onfiks”. Sy gee my ’n soen op die wang en die suigstokkie waaraan sy gekou het. Sy skop die bal teen ’n klip vas en hardloop die gras in.

Ek sien die monnik oor die water aansweef, ek gryp vinnig na my boek en druk my neus in die tee. Hy stop voor my en draai sy rug. “Daai boek het ’n kak einde”, sê hy. Ek kyk op en sê: “ek sal maar sien”. “Hoekom weet jy so donners min?” vra hy. Hy slurp aan my tee en ek sê: “ek’s te besig om my met stront te bewerk”. Hy sê ek praat my kop se twak en gee vir my ’n kers; “dis vir die aande”, sê hy; “lees meer”, sê hy; “maak lekker kos en lag saam met jou geliefdes”. “Jou tee is vreeslik bitter, neem maar suiker, die lewe is kort.” Stil sweef hy weg, skop die kind se bal vir haar terug en sy klap vir hom hande.

Ek blaai om, die afgelope vier bladsye blaai ek net om. Ek wil regtig weet wie is Mara en hoekom is sy so donners bitter. Vandag voel ek mara. 

Mara kom nader met ’n droë blom in haar hare en sy snuif. Ek vra vir haar of die winter haar ook onderkry en sy sê vir my nee. Sy sê vir my hoe kouer die winter hoe mooier die blomme in die lente. Sy sê dit maak die bitter tee soet, dit help met haar gemoedstoestand en sy gooi die blom in my tee. Daar’s weer ’n blom agter haar oor en sy sê dis om haar deur die winter te help. Sy begin blur en ek vryf my oë.

Die ou man kom nader en ek groet hom vriendelik, hy vra waar was ek al die tyd, ek sê: “ek was besig”. “Almal is te besig vir my” sê hy. Ons het gereeld gekuier. Hy vra of ek vir Mara gesien het en ek sê: “ja hoekom?” “Daai teef moet uit my blomtuin bly, ek gaan haar bitterbek nog toeklap”, mompel hy. Hy draai om en loop weg, ek groet agterna en hy tel sy hand op en laat sak.

Ek druk dood en staan op, ek gooi die suigstokkie in die voëlbak en dit kleur roospienk. My tee is stroopsoet en ek sluk dit weg, ek gooi die beskuit in die gras. Die kers word opgesteek in die voorhuis en die son sak in my koppie.

Die ander twee mense saam my vra hoekom ek so staar; “ek kuier by ou vriende” sê ek; “hulle stuur groete”.

Ek voel bly, die ou man moet maar môre alleen brug speel, ek moet gaan bal skop in die park dink ek, steek nog een aan en maak sterk soet tee.

Kyk bietjie rond...

A tiny love story written at 17:15

I was feeling rather overwhelmed; this was before the word became trendier that OCD and everyone suffered from it. Sitting down on

Loulierblare en Skoonfamilie

Martie het eendag, toe ons daar in haar winkel gesit en tee drink het, ‘n onskuldige opmerking gemaak wat die satan in