Oupa se oes

Ek het verlede jaar agtergekom dis beter om die kersboom net so in die kas te bêre en dit volgende jaar net weer uit te haal, so ’n alewige op- en afslanery maak mens opgewonde vir die verkeerde redes. Daai boom is ’n plastiek simbool van ’n klomp slegte ervarings wat aan dieselfde tak gehang word. Tannie Elsie wat so vreeslik skinner en haar dik ou man wat elke hoer in die dorp al bygedam het, is maar net een van die skandes wat aan daai boom hang. 

Ek sien op na Kersfees. Dit lê soos ’n hoop honde siek voor my wat niemand wil opvee nie. Elke jaar dieselfde en ek weet sommer hierdie jaar s’n gaan glad nie afsteek by verlede jaar se affêre nie.

Tant Elsie het klaar laat weet sy bring ’n mengelslaai (met olywe én feta kaas) saam. Dís mos die familie se bydrae tot ’n Kersete van sestig mense, ’n slap bak mengelslaai wat na Gunston Filter ruik. 

Die storie kom ’n ver pad, en almal weet dat daar nie een werkende huwelik nog ooit uit hierdie familie uitgekom het nie, jong, maar vir opgee is daar nie tyd nie. Bittereinders is hierdie klomp nou vir jou. Tannie Marna en haar optelman, Hans, het die slegste verskoning vir ’n huwelik waarop ek nou al in my kort lewe afgekom het. Hulle donner mekaar links en regs, net om Sondag weer links en regs van die predikant op die ouderling- en diakenbanke te gaan sit. 

Nou Oom Hans en sy vrou se suster Tannie Elsie het op hoërskool uitgegaan en jy weet wat sê hulle van eerste liefde. Maar as daar in die Susters kerk voor God en gemeente gesweer is op die heilige graf van jou ma se dooie poedel, dat jy ‘tot die dood ons skei’ vir iemand gaan lief wees, dan is dit mos so. Maklik man. Jy sê net “ja” vir die ou met die toga en die Bybel onder die arm dan is dit geseël. 

Om alles te kroon was mal Tant Bets ook op die Kersdag by ons. Haar man, Dronk Ben, is myns insiens ’n eks Nazi, hy’t haar in ’n agterstand in met sy gekheid. Sy’s die oudste van die susters en het al drie kleinkinders, waarvan sy op die laaste twee nog nie ’n oog gelê het nie. Sy’t ses jaar terug in ’n hewige depressie verval, drink slegs Horlicks, eet net witbrood met Aromat op, lees dieselfde Sarie, Augustus 1989 oor en oor. Haar seun leen by almal geld en ry ’n ligblou Hyundai. Haar dogter werk agter ’n toonbank in Pretoria.

Die middag verloop sonder enige opwinding. Tant Bets sit soos gewoonlik in die hoek en wieg met die Sarie. Sy dra dit orals saam, sielkundige toe ook. Tannie Elsie maak elke nou en dan net seker dat sy op hoogte bly van die skindernuus op die plaaslyn.

Die kinders het maar die wêreld vol gehardloop, mekaar gespoeg en rugby gespeel tot iemand huil. Dan’t almal voor die TV kom lê en skottelgoed vuilmaak.

En soos Tannie Elsie weer met een van haar updates telefoon toe mik, is dit toe dat Oom Hans agterna is en daar verdwyn die twee. Die kinders se bekke het begin afblaas na die rugby-spelery en is weer die plaas vol; dit raak toe nou al amper tyd vir die Kersete om verslind te word. Al die kinders word bymekaar geroep, Tant Bets en haar Sarie word verskuif na buite waar die ete sou plaasvind. En so met die verbykom slag vra Tannie Marna vir een van die klein kinders: “waar is Oom Hans en Tannie Elsie?” “Ja,” reken die kind “hulle is in die tabakstoor, ek dink hulle speel dokter-dokter”. Net daar kry die kind ’n snotklap van Ouma af oor die taal, hy’s in trane die huis in met ’n halwe bord wat so loop-loop kos verloor – ’n streep honde agterna. 

Oupa steek nog ’n sigaret aan met die stormloop stoor toe, Ouma maak net kinders bymekaar en gee poeding, hulle moet bly. Tant Bets begin lewe kry, en loop saam met die stoet af stoor toe, Sarie opgerol in die regterhand.

Om die hoek gekom slaan koue stilte oor die trop mense neer, die toneel van ’n B-graad Amerikaanse sepie ontbloot dit self! Oom Hans en Tannie Elsie is inderdaad besig om dokter-dokter te speel. Oom Hans het die Tante op ’n ou oliedrom getel, besig om vir haar by te dam dat die stoor skud.

Ouma sak net daar inmekaar, en met dié, gil Oupa op haar; “Ouma bring my bril, jy kan nie nou loop lê nie.” Tannie Marna het olywe en feta kaas begin opbring wat sy vroeër die middag van die slaai af gesteel het. Die res het almal tjoepstil gestaan soos mense in ’n vol hysbak.

Dis met dié, dat tant Bets haar eerste woorde in ses jaar uiter en sê: “Hans Meiring, jy kan tot vandag toe nie jou voël in jou broek hou nie, net soos jy ses jaar terug ook nie kon nie”. Met dié kyk sy na die bleke Oom Daan, Tannie Elsie se man. “Daan, daai donkerkop kind, wat jou van dra, het nie ’n pint van jou bloed in sy are nie. Net soos nou, het ek ses jaar terug op hierdie twee krummels ingeloop waar hulle mekaar op Ou-Kersaand soos twee jagse rotte bygekom het in hierdie einste stoor! En Marna my sus, daai vrou wat in die dorp by die kroeg werk se mof kind is ook nie deur die ooievaar gebring nie. Daai kind is ʼn Meiring en almal kan dit sien!” 

Tant Bets is met die woorde terug huis toe, die vuil Sarie lê eenkant waar sy dit neergesmyt het. Oom Hans en Tannie Elsie het so stuk-stuk begin klere aansit en daar staan almal vir mekaar en kyk soos ’n klomp skape.

Van die huis se kant af het daar ’n bloedstollende gil gekom. Die hysbak sê ‘ping’ en almal is terug huis toe, dit klink soos pouse by ’n spesiale skool. Dis net huilende kinders en snot. In die spens hang Tannie Bets, twee duim van die grond af met ’n das om haar nek. Langs haar op die grond; ’n servet met die woorde op: “Tot die dood ons skei.” 

Tannie Elsie is daai middag met haar vol slaaibak sonder feta en olywe huis toe. Oom Daan het op die bank gesit en staar tot die volgende oggend. Tant Bets se man, Oom Ben, het opslag begin drink. Oom Hans is daar weg met sy onderklere in die sy hand, bakkie toe. Hy’s drie jaar later dood aan ’n bloedklont. Tannie Marna het haarself vir twee dae in die toilet toegesluit en Ouma het begin bak.

Die res van die familie is so stuk-stuk huis toe met Kerspresente en alles. Oupa het op die stoep gesit en rook en kyk hoe die ondernemers vir Tant Bets agter in die lykswa laai. 

Hy rol sy sigaret rond tussen sy vingers en mompel by homself: “My oes verdor”.

Kyk bietjie rond...

A tiny love story written at 17:15

I was feeling rather overwhelmed; this was before the word became trendier that OCD and everyone suffered from it. Sitting down on

Loulierblare en Skoonfamilie

Martie het eendag, toe ons daar in haar winkel gesit en tee drink het, ‘n onskuldige opmerking gemaak wat die satan in